Donderdag 13 Februarie 2014

Vir my is dit manslag, vir ander is dit vooruitgang ...


Pas die dingetjies op wat geld nie kan koop nie.

Vandag is daar 'n rouplek in my siel, 'n snaakse treurigheid wat my weereens laat besef hoe tydelik alles op hierdie ou aarde is. 'n Plant is vermoor of liewers, sommer net doodgemaak sonder dat daar eers 'n oomblik van stilte was of sal wees. Vir my is dit asof 'n stukkie van my anker aan hierdie aarde omgeruk en uitgepluk is ...

Vir bykans twintig jaar het hierdie manjifieke plant my elke jaar in die laatwinter hoop gegee ... wanneer alles redelik vaal en droog is dan ontplof sy pragtige blommekroon in die helderste oranje en basuin uit ...

"Die somer gaan kom!"

As die blomme oopgaan dan is daar bye en voëls wat kom partytjie hou en elke dag as ek hom sien dan word ek opnuut verfris met die wete dat die lewe gaan voort en die seisoene gaan draai. Oor die jare het die aalwyn 'n belangrike stukkie mooiheid op my pad gesit en my telkens herinner dat die tyd vir niemand wag nie.

Hierdie plant het talle veldbrande en storm winde oorleef en elke jaar met trots gewys dat hy nog 'n jaar oorleef het.

My grootste spyt was altyd dat die plant buite my grond staan en ek het baie gewonder of iemand sou sien as ek hom sou verplant, maar my ingebore respek vir ander mense se goeters het verhoed dat ek ooit tot die daad oorgegaan het. Ek was dom !

Onlangs verneem ek dat ek 'n nuwe buurman het en bel hom. Ek praat en gesels oor dinge in die algemeen en vra hom uit oor sy planne met die bulldozer wat hier aangekom het. Hy verduidelik dat hy net die lyndrade wil oopstoot om nuwe draad te span en so bietjie van die groot sekelbosse wil uithaal. Nouja daarmee kan ek mos saamleef en verstaan die rede.

So gebeur dit dan dat die bulldozer Vrydag begin brul ...











Ek stap af na die grensdraad toe net om te kyk wat presies aangaan en is baie bly om te sien die aalwyn is ongeskonde ...



Nouja mens moet soms bietjie hardhandig werk om die omgewing beter te maak en ek vertrek op my beplande wegbreek Bosveld toe. 






Ek is 'n ou wat die klein dingetjies in die lewe baie hoog op prys stel. Ek het talle fotos van klein veldblommetjies en soos ek oor my plaaspad ry kan ek jou vertel watter blommetjies watter td van die jaar waar gaan kop uitsteek. Toe ons ry wys ek die aalwyn se oorlewing uit aan my vrou en ons gesels sommer lekker oor al die dinge wat ons al bekyk het rondom die plant.

Sondag toe ons terugkom wys ek weer na die aalwyn en merk op aan my vrou dat die plant hierdie jaar nogal sleg geblom het ... laasjaar was dit amper onbeskryflik. Ons wonder oor die redes daarvoor en die gesprek verander toe ek by 'n klipbank verby ry en gewaar dat die eerste daisy sy kop uit gesteek het.



Soms was ek al lus en haal hulle uit en plant hulle in my tuin maar ek voel altyd hulle is soveel beter af daar waar hulle self opgekom het en dan los ek dit en hou net my oë oop vir die dag wat hulle my verras met hulle pragtige blomme.









Vanoggend word ek wakker met die gedreun van die bulldozer en frons ...

"Wat nou ?"

Ek vat my kamera en stap af draad toe. Die lyndraad oopstoot ding het nou 'n nuwe dimensie aangeneem en my siel sidder toe ek sien wat gaan aan.



Dis nie meer net selektief skoonmaak nie ... nee wat ... takke en bosse val soos koring voor a sekel en word afgemaai sonder seremonie. My geliefde aalwyn is verpletter en vermorsel tot a mengsel van bas en gebreekte blare ... geen kans op redding nie. My hart gee so ruk en ek swets op myself omdat ek hom nie uitgehaal het nie. Niks kan gered word nie.


Is ons as mense nie soms te geneig om die soort vernietiging te laat plaasvind en net ons skouers op te haal nie. Is dit nie miskien die rede hoekom ons mense lewens ook deesdae so goedkoop geword het nie ... is dit nie die rede hoekom 'n man van sewentig met brutale geweld verbrysel word vir 'n selfoon nie ?

Ek vra maar ...

Is ons nie die oorsaak vir die verlies aan waarde wat ons lewens ervaar nie ?

Ek is nie lus vir 'n politieke debat vanoggend nie ... my hart is te seer. Gelukkig het ek goeie herrinneringe en ek het die fotos ... natuurlik nie genoeg nie want soos met baie dinge het ek bloot net aangeneem dat hy volgende jaar weer sal blom en dan sal ek beter skote kry ...

Hierdie briekmerk het so lelike taai begin plekkie waar die teer die rubber gesmelt het met die skop slag ... dink daaroor, die klein dingetjies om ons wat ons so vanselfsprekend aanvaar ... hulle kan maklik verdwyn.

Krap maar jou hond se kop voor jy in die kar inklim, hy is dalk vannaand nie meer daar as jy terugkom nie. Smile maar vir die koerantverkopertjie, die kar agter jou kan hom doodry.

Stop vir 'n oomblik en kyk na die mooi blomme aan die boom op die sypaadjie ... volgende week word hy dalk afgekap omdat iemand besluit het die gemors van die blomme pas nie hulle winkelstoep nie.

Groetnis ...




Weg vir altyd ...







Oorspronklik gepubliseer op Maandag 11 November 2013.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

All comments are moderated. Thank you for your support. Your comment should appear soon ...