Saterdag 10 Mei 2014

IJSF Serfontein ... maar vir my was dit net Ma

Hierdie briekmerk is al 'n paar jaar oud en lê veilig in my private klein hoekie. Vandag voel ek dis tyd om dit oop te maak ... miskien lees iemand dit en vind iets daarin wat sy of haar lewe bietjie meer sin laat maak.


IJSF Serfontein of Isabella, Johanna, Sophia, Fredrika Serfontein, gebore La Grange ... jissim dis 'n bekvol en dis wat op haar briewe en amptelike dokumente staan. Dis hoe die mense by die bank en die hospitaal en dokters haar ken en aanspreek of liewer, aangespreek het. Dis wat in haar ID boekie staan maar vir my was sy maar net "ma" ... ja dis reg ma, nie moekie of moeder of mammie of mamma nie, nee ... net ma. Ek is die oudste en ons verhouding was besaai met ernstige konflikte of laat ek dit nou maar stel soos dit was ... moerse fights ... ja ek en sy kon die pap dik aanmaak en ons het nie maklik bes gegee nie. Ons was en is uit dieselfde staal gemaak, 'n staal wat eerder breek as buig.

My ma was een wat daarin geglo het dat mens niks in hierdie lewe regkry of bereik deur daaroor te huil of daarvoor te soebat nie. Sy het my geleer dat mens nie met jou emosies te koop moet loop nie en sy is die een wat dit in my ingehamer het dat 'n man nie huil nie.

Toe ek jonk en klein was het dit my nie soveel beinvloed nie maar op my eie ou dag het ek meer en meer besef dat sy, my ma, dit reggekry het om my voor te berei vir die lewe. 'n Lewe wat my 'n paar ordentlike klappe al gegee het en seker nog 'n paar in pag het met my naam daarop. Sy het my 'n taai mens gemaak wat in baie opsigte skynbaar emosieloos deur die lewe gegaan het en soms het ek dit erg verafsku maar diep binne my het ek altyd geweet dat sy dit gedoen het omdat sy geweet het hoe kil en koelbloedig die lewe met mens kan wees. So op haar eie manier het sy my beskerm teen dit wat sy geweet het sal of gaan of kan kom.

Ek glo dat almal wat haar geken het weet waarvan ek praat as ek sou sê dat my ma het nie geglo aan doekies omdraai nie. Sy was nie een wat weggeskram het van die dinge wat mense kan omkrap nie. As jy jouself nie kon gedra in haar teenwoordigheid nie dan het sy jou sommer daar en dan aangevat en tot orde geroep.

My ma was nie een wat kras taal of lelike maniere geduld het nie. Om jou 'n voorbeeld te gee ... toe ek in die Laerskool was toe gee sy vir my die boek "Etiket vir elke geleentheid" deur Hettie Grove of so iets maar feit is sy het my die boek gegee en my gedril oor wat daarin staan. Hierdie was een van die groot dinge wat sy vir my gedoen het. Iets wat ek as jong kind toe nie verstaan het nie maar soos my lewe ontvou het was dit wat ek in daai boek gelees en uit geleer het kragtige wapens in my arsenaal.

Nooit hoef ek ongemaklik te voel in enige geselskap nie, nooit hoef ek met opgehoude asem by lang formeel gedekte tafels te gaan sit nie en nooit hoef ek terug te deins as ek aan mense voorgestel word nie. Nee ... dit alles is maklik vir my want my ma het my geleer dat "Etiket vir elke geleentheid" 'n magtige bate is en nie 'n teken van verwyfdheid is nie. Wie sou dit vir my geleer het as dit nie sy was nie ... 'n klein kort witkop vroutjie met tungsten in haar are. Hopelik is daar van dit in myne ook ... moet wees want jis ek is soms 'n erg befoeterde stuk mens.

As jong seun het ek baie deurgeloop onder 'n goedgemikte oorveeg of 'n hou oor die blaaie met 'n nat vadoek. My gat het gebrand oordat ek die bad nie ordentlik uitgewas het nie of nie die vloer droog gemaak het nie en veral omdat ek die handoeke nie netjies opgehang het nie. Nee my maat ... as jy jouself varksig in 'n badkamer gedra het dan het jy gevoel. Toe ek in my later lewe meisies begin uitneem het was haar enigste woorde ...

"Ek sal maar sien hoe los sy die badkamer dan sal ek weet waar kom sy vandaan."

Toe ek as jong entrepeneur my pad begin oopkap het was sy die een wat my altyd gemaan het teen skuld en die een wat my in harde tye vermaan het ...

"'n Man tjank nie as dinge verkeerd loop nie ... 'n man wys sy staal en oorkom dit."

Jis ... die was 'n harde tannie. Gladnie een om te loop en drukkies en soentjies uit te deel nie en iemand wat nie regtig van 'n gedrukkery en soentjies gehou het nie.

Toe my pa so skielik dood is was dit asof daar so helse groot donker gat in my toekoms verskyn het en die lewe het donker vir my gelyk. Ek was in 'n waas, amper 'n beswyming ... en sy ... jislaaik ek weet nie regtig nie ... wel die waarheid was dat my en haar verhouding op daai stadium 'n "alltime low" bereik het en ek was eintlik te toegewikkel in my eie leed om enigsins eers om te gee hoe sy dit ervaar het nie.

Vandag is ek amper skaam dat dit so was maar nouja ek kan mos nou nie staan en lieg nie ... Ooops ... so van lieg gepraat ... my maat daai was 'n ding wat jou gat vinnig laat brand het, en verseker heluit laat brand het. Lieg was sommer in dieselfde klas as kindermoord, steel en dieremishandeling. Ja nee ... enigeiets maar ek het dit nie gewaag om vir my ma te lieg nie. Weet jy wat ... net vir dit skuld ek haar meer as wat ooit bereken kan word want ek het dieselfde afsku in leuns in my vandag en die hedendaagse plastiese lewe waarin ons leef is daar mos nie meer eer onder mense nie. Jip ... dit is iets wat my ma my geleer het en wat vir my ook 'n ononderhandelbare werklikheid is.

Soos ek ouer geword het het daar meer en meer insig in my gekom en ek het haar beter begin verstaan en meer waardeer. My pa se dood het haar baie harder getref as wat ek ooit besef het en vandag kan ek met eerlikheid verklaar dat ek glo nie sy het ooit oor sy dood gekom nie.

En nou moes ek eers bietjie ophou want die rou hartseer loop soos 'n golf oor my ... ek word verswelg deur golwe van bewondering, hartseer, aggressie en waanhoop. Hoekom is dit so ... hoekom kan ons siele so oopgeruk word en brutaal teen die lewensrotse vasgeslinger word sonder enige terughouding. Hoekom vang so emosionele golf jou van die kant af en die een oomblik skyn die son helder en die volgende dan verswelg die nat koue donker waters jou wese. Jy verstik, versmoor en verwurg in dieselfde tydgleuf en jou brose menslike bewussyn verwrong in 'n kolkende waansin van snikke en trane in. Erens in hierdie oomblike van chaos kom daar 'n stemmetjie ...

"'n Man huil nie."

Ja ma ... ek weet maar nou gee ek nie om nie ... ek moet oor jou huil want as ek dit nie doen nie gaan ek nie my siel gelawe kry nie.

Ek wil nie vir die res van my lewe jou uit my gedagtes verban nie net omdat ek bang is ek gaan dalk huil nie ... ek gaan nou my hart uithuil en dis met wasige blertse wat ek sit en tik en huil en tik en snuif en ergerlik my neus uitblaas. Ja ek blaas my neus uit in my eie sakdoek want jy het my geleer dat 'n ordentlike man altyd 'n skoon sakdoek in sy sak het. Hy is nou nie meer so skoon nie maar ek het hom en hy gaan elke druppel wat ek stort hier agter my sleutelbord opslurp en as ek hier opstaan sal die wat agter my hier verbykom nie een spoor van my leed hier kry nie.

Na ongeveer 50 jaar sal ek nogsteeds elke dag seker maak my sakdioek is in my sak en in hierdie dae van "weggooi alles" weier ek om 'n papier ding te gebruik ... nee jong ma, jy het my nie so geleer nie en dit moet 'n mooi wit mans sakdoek wees, verkieslik met 'n voorletter op geborduur.

Nou tjank ek soos 'n klein seuntjie maar dis maar ook ok want jy is nie hier om my te sien nie en ek wil nie brieke trap nie.

Jy het my hard groot gemaak ma en daarvoor is ek jou ewig dankbaar maar diep in my is daar ook maar die brokkies wat die stampe en stote oorleef het sonder om eelte op te kry. Dis die deeltjies wat nou uitrafel en aan flarde geruk word en ek gaan dit toelaat want daai stukkies kort ook so bietjie oefening anders gaan dit verstomp en afsterf.

Ek is bly jy kon die aarde verlaat soos jy het ... in jou eie plek tussen jou eie goed en sonder dat daar pype en drade aan jou gehang het. Ek is bly want dit is teen alles waarvoor jy gestaan het op die aarde en dit sou my verinneweer het as ek jou moes sien verval en dan vergaan. Ja ma ... ek is bly vir jou part. Vandag is my binneste rou en bebloed maar ek weet dit sal oorgaan en weer kalm word maar die voorreg wat jy gehad het om te gaan met jou grasie ongeskonde is al hierdie hartseer werd vir my. Plus ek het darem een troos ... jy sien my nie in hierdie toestand nie. Hoekom is dit nou belangrik vir my ... geen goeie rede nie.

Daar is geen manier waarop ek alles kan neerpen wat my ma in my lewe vir my beteken het nie en daar is geen mannier wat ek eers gaan probeer nie want niemand het die tyd om dit te lees nie.

Sy was 'n merkwaardige vrou wat drie seuns grootgemaak het en wat sonder uitsondering 'n blywende indruk op almal gemaak het wat met haar te doen gehad het. Sy het die skoondogters hel gegee maar sy het ook baie vir hulle omgegee. Sy het die kleinkinders gekastei en het nie gehuiwer om haar misnoeë uit te spreek as hulle sothede aanvang nie.

Ek kan nie namens my broers praat nie want elkeen van ons het haar intens anders belewe en dit is wat haar so merkwaardig gemaak het. Vir elkeen het sy 'n spesiale plekkie in haar hart gehad en elkeen anders behandel na gelang van wat sy gevoel het is reg vir hom of haar.

Dis nie werklik moontlik om afskeid te neem of te groet nie want my ma is in my en deel van my en ek is deel van haar, onlosmaaklik en vir solank ek op die aarde is ... daarna ... wel wie weet regtig ... ja ons glo sekere dinge maar ons weet nie regtig nie. Maar dis ook nie regtig belangrik nie want dis vir almal dieselfde ... onbekend.

Ek skryf dit wat ek skryf want dis soos ek is ... ek moet gaan sit en alles wat in my dwarrel en maal neersit in woorde en dan kyk dat dit georden is en dan maak ek die boekie toe. Soos my goeie maat sê ...

"Jy kom mos dan later weer terug en lees wat jy gekryf het en dan is dit lekker want dan is die seer weg. Dis mos soos jy is."

Nou gaan ek afsluit ... my ma was 'n formidabele vrou en ek is dankbaar dat sy my ma was.

O ja voor ek vergeet ... toe ek in my jong dae praat van motorfiets koop was haar woorde ...

"Oor my dooie liggaam." ... toe sê ek ...

"Wel ok ma ek sal met my bike in jou begrafnis stoet ry."

Nouja dit was a deal ... en moenie my skeef aankyk nie.

PS ... As a seun sy pa verloor dan is daar so groot gat in sy toekoms maar as hy sy ma verloor dan is daar a groot gat in sy herkoms ...

Oorspronklik gepubliseer op Bike in jou Taal - Briekmerke