Saterdag 18 Oktober 2014

Tande en tandartse ... o die pyngedagte

Vir my is 'n tandarts 'n baie persoonlike ding. Ek verander nie sommer nie en ek sal baie vêr ry om by een te wees wat ek vertrou. Sedert 1970 was daar net vyf tandartse wat my in hulle stoele gehad het. Vyf in vier en veertig jaar ... dis nie baie nie.

Nou kan ek glimlag
Ek dink ons is almal heimlik doodbang vir 'n tandarts en die bron vir ons vrese is nie vir my baie duidelik nie ... soms dink ek dis in my gene. Nou gaan ek verder van my eie persoonlike ondervinding vertel en gladnie aannames maak oor ander se ervarings of vrese nie.

Die laaste klompie jare het my tande my begin opkeil en alhoewel ek nogal 'n redelike streng tandversorgings plan het is dit ook seker so dat die ouderdom begin tel het. Ek dink dis merkwaardig dat ek tot op die ouderdom van 62 net een tand verloor het en dit was a frats ongeluk. Die gehalte van tandesorg is sekerlik die grootste rede vir die feit dat ons tande soveel langer hou as wat ons ouers s'n gehou het.

So 5 jaar terug het my tandvleis in die bokaak erg begin agteruit gaan en toe het ek 'n tandarts raakgeloop wat dit met laser behandeling bygekom het. Was nogal 'n ondervinding maar die beste was om te sien hoe die tandvleise herstel het.

Sowat drie maande terug begin ek bewus raak van so dowwe pyn in my kakebene en soms was dit erg gevoelig as ek aan my wange sou druk. Hierby het ek ook agtergekom dat ek gladnie meer my voortande op mekaar kon byt nie. Verskeie navrae aan my tandarts oor die verlies aan byt het net sulke vae antwoorde opgelewer en dit het my moerig begin maak.

Nouja ons sien mos almal op die internet en op die TV van die merkwaardige dinge wat tandartse doen vir die "celebrities" en ek het begin wonder.

Terwyl ek so wonder het die pyne in my kake erger en erger geword en toe so drie weke terug bel ek my swaer. Hy het so paar jaar terug sy tande laat opknap en hy het my al so paar keer vertel van die wonderlike tandarts wat hy het. Ek het sy lofsange en aanprysings maar so met 'n halwe oor aangehoor want maak nou nie saak wat mense sê van tandartse nie ... ek is maar lugtig vir hulle. Want al is hulle hoe versigtig, op 'n stadium gaan dit seer wees.

My bek was nou so seer en ek het absoluut omsingel gevoel deur die pyn. Drie weke lank en ek het die einde van my uithou bereik. My swaer reël die afspraak en ek vat die pad Pretoria toe. As dit nie so pynlik was nie sou ek seker baie meer angstig gewees het maar nou het ek daai plekkie verbygesteek ... die pyn en ongemak was baie erger as wat my vrees was.

Dream Team ... Dirk en Elaine
Aangekom in Pretoria begin die storie in die spreekkamers van Dr Dirk Conradie. Die ontvangsdames is vriendelik en daar is net glimlagte orals te sien ... ek sien dit raak want ek is verseker nie lus vir glimlag nie.

Eerste word ek deur 'n jong dame ondervra terwyl sy my gemaklik in die stoel kry. Ek merk dadelik op dat hierdie baie gevorderde toerusting is. Ek is 'n tegnoloog en hou van mense wat tred hou met die tyd. Digitale X-strale en allerhande masjientjies. Alles mooi en blink maar diep in my binneste weet ek dat die goedjies kan baie gevaarlik wees in onverskillige hande.

Die meise gesels en tussendeur skiet sy die X-strale. Wat vir my baie lekker was is dat die resultate op 'n skerm verskyn en ek kan sien waarna hulle kyk. Dit laat mens deel voel van die proses en laat my kalmer voel. Dis belangrik.

En toe verskyn Dr Conradie ... jissim ... ek is 'n baie fyn waarnemer van mense en my lewe lank fokus ek daarop om mense se lyftaal en oë te lees.

Die man het 'n pragtige teenwoordigheid en boesem sommer dadelik vertroue in by my. Ek voel sy empatie en sorg aan ... vir die van julle wat daaraan glo ... hy het 'n mooi aura. Ek voel sommer dadelik baie minder angstig.

Hy verduidelik mooi wat aangaan sonder om doekies om te draai maar ook sonder om my te probeer "bullshit". Dis dadelik vir my duidelik dat ek baie langer terug al by hierdie man moes uitgekom het. Maar nouja spyt kom mos altyd te laat.

Hy krap so bietjie rond en ek ril so paar keer as hy die "regte" plekkies raakvat.

Ek gaan nou nie verder uitbrei oor wat alles bespreek is nie maar die uiteindelike slotsom was dat vier tande verby die punt van herstel gegaan het. Hulle moet getrek word en dan vervang word met inplantate. Die ou verlore kiestand sal ook vervang word met 'n inplantaat en dan gaan die res van die tande gekroon word. So dis a hele bek "makeover" ... dis mos die moderne "buzz" woord. "Makeover" het so klankie van "verwaandheid" gekry ... in my geval het "vanity" of ydelheid niks met die saak te doen nie ... vir my was dit 'n omvattende tandsorg operasie. Ek gaan ook niks sê oor die kostes nie want dis byna obseen maar dis my keuse gewees ... my gehalte van lewe is nek omgedraai deur die uitrafeling van my kakebene en tande en ek moes 'n keuse maak ... of 'n nuwe kamera en lens of kry my tande onder beheer ... maklike keuse vir my.

Hy benodig drie afsprake ... eerste een sal ongeveer 5 ure duur, tweede een so 2 ure 'n week later en dan die volgende dag weer een uur. So gesê so gedaan en Maandag 29 September 2014 pak ek vroegoggend my tassie en klim in my kar en ry. Dis so drie en half uur se ry Pretoria toe. In die motor is my gedagtes vol van dit wat voorlê en ek gebruik die tyd om my kop op die regte plek te kry.

Maak nou nie saak wat alles vertel word nie ... dit gaan seer wees en dit gaan sekerlik van die langste 5 ure in my lewe wees. Tandartse weet uit ondervinding dat dit nie eintlik sin maak om die volle omvang van die proses met die pasient te bespreek nie en ek verstaan dit. Natuurlik gaan hulle ook nie borduur op wat jy gaan ondervind nie en dis ook reg so.

Al wat ek gaan sê is dat dit 'n moerse operasie is ... ek is nogal 'n mens met helse selfbeheersing maar niks wat ek ooit in my lewe ervaar het kon my voorberei vir die nare werklikheid van hierdie proses nie. Laat ek dit baie duidelik stel ... daar was werklik baie min pyn betrokke want Dr Conradie is nie suinig met die verdowing nie maar o hel ... dis ongemaklik. Die boormasjiene fluit en die tyd stap aan.

Met byna eentonige reelmaat berei hy my tande een vir een voor vir die krone. Deel van die proses is om al die emalje te verwyder en dan bly daar net so stompie been oor. My verlamde tong raak aan die stompies so dan en wan en in my geestesoog probeer ek sien wat gaan aan. Maar dis seker ook maar goed dat mens nie regtig kan sien wat gaan aan nie want dit moet "scary" lyk vir enige iemand wat nie 'n tandarts is nie.

Na twee ure staan hy op en rek sy bene ...

"Ek gaan jou nou so 10 minute gee om jouself so bietjie te rek en toilet toe te gaan as jy wil."

Met die stap hy uit en ek kom stadig orent. Geen behoefte aan toilet toe gaan nie en gladnie instaat om te praat nie. My mond, wange, lippe en tong is verlam.

Hy kom terug en daar gaan ons weer ... ek hou my oë toe en in my gedagtes seil ek deur die bergpasse in die Laeveld op my motorfiets ... die boormasjien se gefluit is maar soos die enjin op my fiets. Simpel sal dit klink maar dit werk vir my.

En toe is die boordery klaar en hy staan weer op. Die meisie wat assisteer verduidelik aan my dat die volgende fase nou die verwysering van die siek tande is. Ek noem dit verwydering want hy trek dit nie soos tradisioneel gedoen word nie. Blykbaar is die trekproses nie die regte manier as jy implantate wil insit nie.

Vyf inplantate word geplaas en my uithouvermoë is besig om breekpunt te bereik.

Uiteindelik staan hy op ...

"Nou nog net die plastiek tande opsit en dan is ons klaar vir die dag."

Wat hy doen is om tydelike plastiektande op die voorbereide tande te sit wat moet dien as beskerming terwyl die permanente krone vervaardig word.

Ek het baie respek vir die man ... iemand wat vir soveel ure so gefokus kan werk beiindruk my geweldig want vir my is dit een van die tekens van 'n ware meester van sy vak.

Twintig oor vyf stap ek uit die spreekkamers uit en staan vir so paar minute langs my kar en wonder ... ek het 'n tas gepak om te kan oorslaap maar nou wil ek net by die huis kom. Ek wil in my bed inkruip en die duvet oor my kop trek en lê en myself bejammer.

Alhoewel my hele mond en gesig morsdood verlam is weet ek dat as die verdowing begin uitwerk gaan dit blixems seer wees ... ek skuif agter die stuurwiel in en skakel die motor aan ... ek stel my rit assistent in op "HOME" en wag terwyl die roete beplan word.

Die verwagte aankoms tyd is so rondom 21h00 en ek vat aan my gesig ... dis asof ek aan iemand anders vat en ek maak my besluit. Huistoe gaan dit wees. Die slegste is dat ek niemand kan bel nie want ek kan omtrent nie praat en ek begin lag.

"As ek by 'n padblokkade gestop word gaan die poppe dans."

By die Roosplaas buitekant Pretoria op die N4 besluit ek om my mond uit te spoel ... gelukkig het ek my verstand gebruik en dit buite op die grasperk probeer. Wat 'n fiasko ... dis al wat ek gaan sê.

By Alzu koop ek vir my koffie ... teen hierdie tyd het ek darem weer beheer oor my lippe terug en my tong werk ook so 70%. Een groot fout wat ek die oggend gemaak het was om niks te eet nie, slegs 'n beskuit saam met my opstaan koffie en dis al. By hierdie tyd is ek nou verwoestend honger.

Ek kyk na die goed op die spyskaarte en besluit maar dat 'n hotdog die veiligste gaan wees. Ek sit maar daar eenkant op die stoep mt my rug na die publiek want ek weet hier gaan verseker gemors word. En dit was ook so, maar ek het net eenvoudig deurgedruk. Dit was so goed ek kon selfs 'n twakkie klap. Toe is dit weer terug op die pad. Met my innerlike versterk begin my gemoed ook sommer verbeter. Ek slurp die koffie so bietjie vir bietjie want die garage koffies is mos kokend en hierdie bek was nie reg vir kokende koffie nie.

Soos die myle verbygaan word die mond ook al hoe wakkerder. Dit was bemoedigend maar natuurlik word ek nou meer en meer bewus van die pyne.

Na die Machado Tolhek bel ek my vrou en verduidelik waar ek is. Sy is maar redelik bekommerd en effens opgeruk omdat ek besluit het om nie oor te slaap nie.

Soos die wat my ken weet, is een van my passies in die lewe om kos te maak ... Man Kos ... nouja in afwagting van hierdie bekslagting het ek 'n goeie vooraad vleissop gemaak en gevries asook geroosterde pampoen en groente sop.

Teen die tyd wat ek deur die Schoemanskloof is was my mond sterk aan die klop en ek sluk 'n pynpil.

"Vannag gaan ek les opsê ..." dink ek terwyl ek links draai by die T-aansluiting met die Tonnelpad. Deur die ongemak grinnik ek nogtans toe ek die lepel trap en die groot diesel met mening die lang bult begin klim. Ek kyk op die horlosie ... janee die Duitse Koekie het weerens die voorspelling redelik vêr verkeerd gehad ... dis nou skraps oor die 20h30. Later het ek besef dis nie eintlik haar fout nie want sy kon mos nie raai hoe seer my mond gaan wees en allermins nie kon voorsien dat my regtervoet gladnie doodgespuit was nie.

Ek sit en wag geduldig dat die elektriese hek oopmaak en sien hoe kom my honde aangedraf. Ek is by die huis en dis al wat nou tel.

Poppie is sigbaar verlig toe ek onder die afdak intrek en sy kom nader ... natuurlik effens versigtig want sy ken my goed en weet dat as ek in pyn is kan ek 'n knormoer wees. Sy hoor hoe die kar se uitlaatstelsel ping en afkoel en gluur na my so onder haar wenkbroue deur ...

"Natuurlik nie by die spoedgrens gehou nie!" brom sy en groet my.

Ek sê niks ... net verlig om by die huis te wees.

In die kombuis sien ek sy het van my sop op die stoof en ek gaan sit by die tafel.  Daar is nog skons wat oorgebly het van my Sondagoggend baksel en ek breek een in stukkies en gooi dit in die bakkie sop ... nou voel ek regtig oud ... sop en geweekte skons ... hel nee ... dis mos nie Man Kos nie. Ek vat die eerste lepel vol en in plaas van die welbekende geure en smake van hierdie kleurvolle vleissop is die oorwegende smaak plastiek. Daai regte dooie outydse melkbottel plastiek. Ergerlik eet ek in stilte verder en is heimlik dankbaar dat my vrou nie 'n kekkelbek is nie. Ek is gladnie lus vir praat nie.

Na ete gaan sit ek in my kantoor en gaan vinnig oor my dag se boodskappe en maak seker alles in orde. Daleen bring my twee pille en ek sluk dit af terwyl ek myself nogal jammer kry. Ek voorsien klaar dat ek die nag sal moet deurworstel en dit maak my aggresief.

Ek spoel my mond uit met Cordisol ... jis die goed is eintlik sleg maar ek glo in dit. Weereens is dit maar 'n bloedrige storie maar dis verwagte. Wat vandag in my mond gebeur het kan verseker nie gesien word as 'n pikante mediese ingreep nie.

Gelukkig is ek iemand wat gladnie sukkel om te slaap nie ... my kop het skaars die kussing getref of ek is weg.

Skuins voor sonop word ek wakker. Wonder bo wonder het ek regdeur geslaap ... die eerste keer in byna drie maande. Maar die positiewe het ook 'n negatiewe. Hel my mond voel of ek per abuis my elektriese tande borsel verwar het met die "stick blender" waarmee ek my sop fyn maak. Dit voel asof 'n klomp perdebye 'n studentejol in my mond gehou het en tydens die gefuif sommer ook so paar bottels teen my kiestande stukkend geslaan het.

Ek sit en slurp my koffie terwyl ek oor die tuin uitkyk. My brein werk oortyd om alles in hulle boksies in te kry. Iets maak nie sin nie, ek was reg vir helse pyn in my kakebene maar dis nie daar nie ... wel daar is pyn maar nie naastenby wat ek verwag het nie. Wat my opkeil is die pyn in die sagteweefsel in my mond. My lippe en wange voel of dit met suur gewas word. Dit brand en pyn en die area langs my neus op voel asof ek 'n erge vuisgeveg gehad het. My wange laat my dink aan my hamsters toe ek jonger was en ek moet lag by die gedagte.

Ek sluk maar die pille en begin my dag. Spoedig het die pille die pyn onder beheer en ek gaan aan.

Die res van die dag gaan om en ek eet sagte kos en hou die pille op datum.

Die nag slaap ek weereens regdeur en Woensdag oggend breek aan ... heelwat minder pyn oor die algemeen maar my mond is maar seer binne. Weer 'n dag van pille en sagte kos.

By Vrydagaand is ek baie beter en ons gaan eet uit. Ek hou maar by 'n burger. Die plastiese tande laat alles snaaks proe en ek begin voel asof die tande ernstige druk op my kakebene uitoefen.

Maandag is ek terug in Pretoria. Dr Conradie is gelukkig met wat hy sien en ek moet sy oordeel vertrou. Dis nou die dag waar die permanete krone geplaas gaan word ... 23 van hulle. Weereens die doodspuitery met mening en spoedig kan ek nie eers my ooghare voel nie.

Die volgende twee ure tik verby en hy werk in stilte. Laaste maak hy rowwe aanpassings vir die bytpas en daar gaan ek. Ek moet die volgende dag weer inkom sodat hy die fyner verstellings kan doen. Dit kannie nou gebeur nie want ek weet nie eers mooi waar my mond is nie.

Teen sononder is die ergste van die verdowing weg en die klomp nuwe tande voel maar vreemd in my mond. Tenminste is die aaklige plastiese smaak uit my mond uit. Weereens eet ek maar 'n burger en dit gaan stadig want die tande vang en skuur vreemd in my mond.

Dinsdag teen middel van die dag is ek weer in die stoel ... by die genade is daar nie weer spuite betrokke nie en Dr Conradie slyp die tande om beter op mekaar te pas. Hy pas die tydelike plaatjie wat die een oogtand se plek moet vul todat die implantate gedoen word en daar gaan ek.

Oor die volgende dae gaan dit elke dag beter ek en my nuwe tande maak vrede ... later begin ons selfs van mekaar te hou.

Nou is dit maar die lang wag dat die inplantate vasgroei. Intussen het ek weereens my mond versorgings en instandhoudings regime herbekyk. Ek het vir my 'n beter model elektriese tandeborsel gekry en so lekker spuitmodel wat tussen die tande skoonmaak sonder om jou tandvleise te sny soos die toutjies soms kan doen nie.

Ten slotte wil ek dit net noem ... dis verseker nie speletjies om so prosedure te ondergaan nie maar die tandarts, Dirk Conradie, het my erg beiindruk. Op sy stil en kalm manier het hy dit wat eintlik in 'n bloedbad kon ontaard, netjies bestuur en met selfvertroue die taak aangepak en afgehandel. As enige iemand wat hier lees, dit sou oorweeg om ernstige werk aan jou tande te laat doen ... kry tenminste net 'n opinie by hom voor jy besluit.

Een van my vrese was dat die nuwe tande duidelik soos doppies in my mond sou sit. Nog 'n vrees dat dit te groot gaan lyk en laastens dat dit soos "white lightning" gaan lyk. Niks van die vrese is bewaarheid nie. Die tande is mooi en natuurlik ingesit en het ook 'n natuurlike kleur.

Dis nou bykans drie weke later en ek voel reeds 'n ander mens ... met die bonus dat ek nou breed kan glimlag.

Dr Conradie se Kontak besonderhede:

Spreekkamers: +27 12 331 3160 - C/o 24ste Laan en Ben Swart Straat Villeria Pretoria
e-Pos : dhconradie@mweb.co.za