Donderdag 13 Februarie 2014

Slagoffers of smartvrate ... besluit self


Vir die wat my goed ken sal dit nie vreemd wees dat ek hierdie briekmerk vandag slaan nie. Die wat my nognie ken nie sal maar moet seker maak hulle het die maagspiere wat nodig is om hierdie een te lees.



Nou met die feeseisoen agter die rug is dit weer tyd vir so bietjie lykskouing. Ons is tot vervelens toe gevra om aan die minder bevoorregtes te dink en 'n gebed op te stuur vir die wat in smart en pyn is. Nouja ek weet dat daar baie mense is wat regtig ondersteuning nodig het maar ek weet ook dat daar hel baie mense is wat net eenvoudig smartvrate is. Vir die het ek nie regtig veel simpatie nie, hulle is die makers van hulle eie ongeluk.

"Jis maar jy is gevoelloos !"

Ja jy kan seker maar so sê maar kom ons kyk bietjie nugter en emosieloos na 'n paar gevalle ... gevalle en omstandighede waarvan ek seker is dat baie van julle sekerlik ook intieme kennis het.

So jaar of wat gelede maak ek kennis met Sanet ... natuurlik nie haar regte naam nie want ons wil mos die onskuldiges darem beskerm. Sanet se eerste huwelik het op a ramp uitgeloop en sy het haar kind gevat en geloop.
Die hele EX ding was lelik en vrot van die emosies maar die besonderhede is eintlik onbelangrik nou. Feit is sy was gelukkig en het weer geleentheid op geluk gekry en dit met albei hande aangegryp.
'n Wonderlike tyd verloop en sy word weer verryk met twee pragtige kinders. Nou was dit sy en Gerrie, die nuwe man in haar lewe, Petrus, haar seun van die EX en die twee kleintjies.

Byna storie mooi.

Maar toe gebeur iets wat almal se lewens sou omkrap. Die EX verskyn en met 'n slim slenter oortuig hy vir Sanet dat hy verander het en graag bietjie tyd met Petrus wil spandeer.

Sy stem in want sy is mos ook 'n mens met gevoelens. Foutjie ... EX laat spat met die kind en toe sy eers mooi tot verhaal kom toe is dit hofsake.

Die details hiervan is ook nie regtig belangrik vir my briekmerk nie ... wat belangrik is vir my is dat ons by die realiteite bly.

Sanet het nou so gefokus op Petrus en haar smart dat dit Gerrie en die twee kleintjies heeltemal verswelg het. Duisende rande word gespandeer op hofsake en elke dag is vol van Petrus stories.

Die optrede is vir ons almal verstaanbaar en ek glo dat die meeste wat hier lees 100 persent met Sanet kan meeleef. Maar daar is so paar vragies wat moet beantwoord moet word ...

Hoe moet Gerrie voel ... hy het geen aandeel in die smart nie, inteendeel, dis hy wat Sanet gekies het en haar lewe weer heel gemaak het na die EX crash.
Hoe moet die twee kleintjies voel ... hulle is nog te klein om te verstaan wat aangaan maar hulle beleef die emosies deur hulle ma.
Hoe moet haar vriende en familie voel ... hulle het ook lewens maar Sanet se smart verhaal slaan die heeltyd die voorblad.

Wat is die antwoord ... dit weet ek nie maar wat sê die wiskunde ...

Wel, Sanet moet die goeters in glasbakkies sit en dan kyk waar is die meeste waardes ... soms moet ons keuses maak, moeilike keuses maar ons moet kies ... uit die voorafgaande kan dit maklik lyk of Sanet reeds gekies het en dat sy Petrus se bakkie gekies het ... dis egter sekerlik nie die werklikheid nie want vir haar tel alles. Die aaklige waarheid is dat die in die ander bakkies dink nie so nie want hulle sien haar net draai om die Petrus bakkie.

As Christen gelowige moet ons mos die Bybel se raad volg ... wees gerus, God is in beheer. Maar o wee ... dis mos darem so moeilik om nie kort kort self na die stuurwiel te gryp nie ... ons dink mos ons kan beter doen.

My advies aan Sanet ... raak rustig en vertrou op God ... en fokus op dit wat jy het en nie op dit wat nou op hierdie oomblik verlore lyk nie want sy kan dalk een oggend wakker word en sien dat al wat sy oor het is haar jaagtog na Petrus.

Kom ons kyk na nog a storie ... die Storie van Danie. Hy het het hard gewerk en 'n goeie besigheid opgebou en weldra het hy in die geld gerol. Elke nag was a partytjie en die blink nuwe motors het sy jaart vol gestaan. Hy was omring deur mense wat hy as sy vriende beskou het en elke aand het daar nuwes opgedaag. Die drank en kos het gevloei en geborrel en Danie was die man van die oomblik.

In sy opbou van die besigheid het hy sy eerste huwelik op die rotse sien loop en Louisa is weg met hulle seuntjie. Hierdie riller het Danie net rede gegee om meer te kuier en spoedig het hy vir Christina aan sy sy gehad. Blits romanse en toe weer a huwelik. 'n Dogtertjie uit die huwelik en ek dog nou sal die man bedaar. Maar nee ... die gefuif gaan net aan en spoedig kan Christina ook nie meer uithou nie.

Danie laat hom nie van stryk afbring nie en die ramp is nog a rede vir hom om hard te kuier. Hy kry vir hom a ander huis en gaan aan asof die verlede nie bestaan nie. Die twee kinders word met geld gegooi maar van werklike vaderskap is daar weinig tekens. Vir elke krisis in sy lewe was sy oplossing ... koop nog goeters. Danie het geglo dat geld alles kan regmaak ... toe nie !

Een mislukte verhouding op die ander volg maar die drinkebroers sirkel word net groter. By 'n paar geleenthede het ek met hom probeer praat maar sy ore was toe vir rede ... al wat hy goed kon opvang was waar en wanneer die volgende partytjie gehou gaan word.

Nouja ... die lewe is mos soms wreed en soos baie al weet, Karma is a Biets. Toe Danie weer een oggend mooi wakker skrik toe het van sy werknemers en drinkebroers sy besigheid onder om uit.

'n Suksesvolle besigheidsman was hy maar as mens het hy lelik gefaal. Tydens die ineenstorting het hy met verbystering gestaan en kyk hoe alles rondom hom verdamp. Die drinkebroers het een een weggeraak en vandag is hy 'n eensame mens. 'n Lewe van vergryping agter hom maar geen soliede verhoudings nie.

Wat vir my die grootste tragedie is, is die feit dat Danie weier om te erken hy het aandeel in sy eie ondergang gehad en hy is konstant op die simpatie jag uit en hy is die verontregde. Sy dae word omgebring in verwyte en beskuldigings. Jare van geilheid het hom nie geleer om die klein dingetjies in die lewe te waardeer nie. Hy het nooit geleer dat verhoudings met vertroue gevoed moet word nie, met respek hanteer word nie en dat geld nie werklike vriendskappe kan koop nie.

Nou in sy uur van nood is hy alleen en sy houding van verontregting maak die mense naby aan hom senuweeagtig.

My raad aan Danie ... Man up en aanvaar skuld vir jou eie aandeel in jou ondergang. Begrawe die verlede en fokus op die hede. Behandel mense met respek en wees dankbaar vir die wat oor jou pad kom.

Hier het ons nou twee gevalle gesien en in albei gevalle is dit die mense self wat die keuse moet maak ... fokus op dit wat nou haalbaar is en los die verlede uit. Vertrou op God want hy sal dit laat gebeur wat moet gebeur.

Besluit self of jy 'n slagoffer is of 'n smartvraat ... slagoffers staan gewoonlik weer op, stof hulle self af en gaan aan ... smartvrate teer op mense se emosies en rol in hulle smart rond net om simpatie te kry.

Lekker 2014 vir julle almal en onthou ... JY HET ALTYD 'n KEUSE ... die vraag sal net bly ... kan jy saamleef met jou KEUSES.

Lees gerus "Van Kerse en Vriendskappe ..." ook ... sluit nogal aan by die een.

Kyk gerus ook na hierdie video .... Keuses

Oorspronklik gepubliseer op Vrydag 3 Januarie 2014

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

All comments are moderated. Thank you for your support. Your comment should appear soon ...