Donderdag 03 Desember 2015

My broer - Andrè Serfontein

3 Desember 2015 ... dit is my broer Andrè se verjaarsdag. In ons familie is ek die een wat gewoonlik die stories skryf en vandag op jou sestigste verjaarsdag voel ek dat dit nou reg is dat ek vir jou 'n storie skryf.

Liewe Andrè

Die eerste herrinneringe wat ek aan jou het is ons dae op Esther, daar naby Bothaville. Dit was sorgvrye dae vir ons en ons het baljaar in die rooi stof en geploeter in die modder om die beeskrippe. Ons was heeltemal te jonk om te kon besef hoe arm ons ouers was nie en hoe hulle soos bywoners op daardie plaas gebly het en byna dag en nag moes werk om die beeste te versorg.

Al wat ek kan onthou was dat dit 'n duur stoet was en dat pa baie nagte opgestaan het om na die beeste te gaan kyk. Ek kan ook onthou dat toe een bul baie siek word was die advies dat die bul 24 rou eiers moes inkry. Mamma was baie ontsteld want die paar hoenders wat sy aangehou het, se eiers was kosbaar want dit was 'n belangrike deel van ons kos.

Ons is weg op Bothaville en ek weet nie mooi hoekom nie maar die volgende gedagtes wat ek het was die dae op Suid Witbank. Daar in die ou vervalle plaashuis wat op die grond gestaan het wat die myn oorgeneem het. Dit was my eerste bewuswording van arm wees en hier het ek gesien hoe mamma moes raap en skraap om vir ons kos op die tafel te sit. Dit was hoofsaaklik pap en sous of aartappels en spinasie. Soms was daar wortels of pampoen by.

Vrydae was 'n groot ding want dan het oom Dun Ben kom kuier en voëls en duiwe in die sipres laning geskiet. Dan het ons vleis gehad vir so paar dae.

Pappa het as leerling myner gewerk op Tavistock en moes die 10 kilometer elke oggend 03h30 aanpak op 'n trapfiets. Wind en weer was nie 'n saak nie. Saans het hy eers na donker by die huis opgedaag en baie aande moes hy aan die fiets werk om reg te wees vir die volgende dag. Ek en jy het ons dae omgespeel onder die bome. Ons het tolletjie trekkers gehad wat ouma ons geleer maak het en oupa het ons leer om kleiosse te maak.

Volgende is pappa bevorder tot myner en toe kry ons 'n huis op die property. Hier op Tavistock het ek en jy eers regtig mens begin word en soos die jare verbygegaan het ons geleer dat mens op die einde van die dag net werklik op jou familie kon staatmaak. Die myne was nie 'n plek vir pissies nie en ek en jy het ons deel gehad van die vuisgevegte. Ek meer as jy want ek was mos 'n klein laaitie en die grotes het my geboelie. Ek is letterlik groot geslaan en vir a lang tyd van my lewe het ek nie altyd geweet watter oog is blou nie maar ek het altyd geweet een is blou.

Toe is ons weg Sasolburg toe en die spelery op die grondhope in die nuwe woonbuurt het ons gatte baie laat brand omdat ons stof in die huis ingetrap het. Ons is geleer om netjies te wees, altyd goeie maniere te openbaar en om alles met respek te behandel.

Daarna is ons Clydesdale toe en dis hier waar ek moes veg vir oorlewing want daai lang Vorster was van plan om ons kreupel te slaan. Ek onthou die dag toe ons besluit het dat dit nou klaar is en dat ons hom by die busstop gaan opkeil. Ek onthou hoe jy langs hom gestaan het waar hy vir my gewag het om uit die bus te klim. Ek onthou hoe klein en skraal jy teen hom gelyk het terwyl ek in die bus gestaan het met 'n hart wat in my keel klop. Vrees wat my laat bewe het en ek kan daardie gevoel van totale wanhoop baie goed onthou. Maar diep binne my het ek mamma se stem gehoor ...

"Serfonteins is nie van popstront gemaak nie."

Ek het geen ander uitweg gehad nie ... ek moes by daai bus uitklim en onder op die grond het Vorster my ingewag met a grynslag op sy gevreet. Iemand het aan my gestamp van agter af en ek het geweet ... nou of nooit. Met 'n sagte skietgebedjie, ja ek het liewe Jesus gevra om my te help, doen ek toe die ondenkbare ... ek duik uit daai bus uit reg op hom af. Ek onthou die kyk in sy oë en ek toe weet ek ... jy is myne. My kop het hom in die gesig getref dat ek net sterretjies gesien het maar toe hy strompel toe val hy oor jou en ek is bo op hom. Hy het my afgestamp en orent probeer kom toe slaan jy hom met jou boeksak. Daai hou was al wat ek nodig gehad het en toe spat die kak.

Sy gillende ma het my van hom afgesleep en bloed het uit sy neus en mond gestroom. My vuiste het soos suiers gewerk en die heeltyd het ek geweet as hy opstaan is ek dood. Maar hy konnie opstaan nie. Sy ma het hom weggedra. Dit was ook een van die min fights waar ek nie stukkend geblixem was nie. Die res kan jy goed onthou ... die belangrikste was, met daai een shot van jou boeksak het jy my die kans gegee wat ek nodig gehad het.

Toe later was dit weer op Delmas daai klein vet wetter wat ons fietse se wiele afgeblaas het by die skool. Weer het jy langs my gestaan toe ek hom die middag vaskeer in die fietsloots.

Toe die riller tyd waar ek en jy in die koshuis beland. Hier was dit weer my size wat teen my getel het en Flip van Wyk het ons kwaai laat les opsê. En toe die dag wat ek nie kan vergeet nie. Pappa gaan Enyati toe en jy word uit die koshuis gehaal om van die huis af skool te gaan. Ek bly agter in Delmas.

Nouja daai bietjie meer as twee jaar het ek en jy min van mekaar gesien en ons het groot geword. Dit was dan ook die finale ontmoeting met Flip van Wyk wat gemaak het dat ek moes weg uit Delmas. Flip het agtergebly met 'n gebreekte neus, af kakebeen en oë waaruit hy nie kon sien nie.My neus was vir die soveelste keer af en my oë was toegeblixem. Dit was a moerse fight en daar was niemand om van daai badkamer vloer af op te tel nie. Flip is weggedra hospitaal toe en ek moes my maar self bymekaar skraap. Hy het daai aand betaal vir al die hel waardeer hy my en jou vir jare gesit het.

Eers in matriek was ek en jy weer saam op Volksrust in die koshuis en dit was net a kort tydjie. Daar het ek ook my laaste groot vuisgeveg gehad. Na daardie geveg het ek 'n eed geneem ek sal nooit weer aan 'n mens slaan nie, tensy hy eerste slaan.

En toe die dag wat jy in Pretoria aankom en slaapplek soek. Dit was ook arm jare daai vir my en jou. Toe is jy weg army toe.

Later na pappa se dood is jy Paulpietersburg toe. So oor die afstand het ons kontak bly hou en saam radio beheerde karretjies gebou, motorfietse begin ry en later het jy begin visvang saam met my.

Na my kanker operasies was dit by jou waar ek gaan wegkruip het en vrede probeer maak het met die moontlikheid dat die kanker my gaan verslind.

Saam het ons reuse besighede opgebou en saam het ons dit sien vergaan. Jy het langs my gestaan toe ek my skiboot die eerste maal in die see ingevat het want jy het gesê ...

"Broer of jy vat die stokke of ek klim af ... ek gaan nie my lewe in Russel se hande sit nie."

Wel ek het maar so gemaak en dosyne kere daarna het ek ons deur die branders gevat. Gewillig om dit te doen want jy was langs my.

En toe veg ons teen Fey ... wat 'n fokken geveg was dit nie. Die dag in die Hooggeregshof toe jy opstaan en vir die Regter sê ...

"Ek is hier u edele maar my broer gaan namens my ook praat."

Die emosie was duidelik in jou stem en ook die angs. Daardie dag het ek geweet ... hier is dit nou ... PAYBACK vir daai boeksak shot teen Vorster se kop. En ek het ons vrag opgetel en met trots gedra.

En so het ek en jy saam uit die stof uit opgestaan en weer voor begin in 1990.

Nouja ... hier staan ek en jy vandag ... jy is 60 jaar oud en nie een van ons twee het gedink ons sou sestig ooit sien nie. Veral nie na ons van daai graf op Paulpietersburg weggestap het nie.

Dit is vir my 'n voorreg om die storie vanaand met jou te deel en dit te deel met jou terwyl ons nog altwee hier is.

Al die dinge wat ek en jy saam beleef het was altyd gebaseer op respek vir mekaar. Ons respekteer mekaar se grense en ons het na die dag wat ouma ons aanmekaar gesit het, nooit weer ons hande vir mekaar opgelig nie. Toe was on laerskool kinders.

Vandag wil ek net vir jou sê ... ek het nog nooit in my lewe aan jou getwyfel nie en ek respekteer jou onwrikbare wil om voort te gaan. Jy is 'n groot deel van my inspirasie in die lewe en ek is gelukkig om 'n broer soos jy te hê.

Ons het en sal nog baie bymekaar leer, en ek hoop net eendag sal ons kinders besef wat het my en jou so sterk gemaak soos wat ons is.

Geniet jou sestigste verjaarsdag en mag die Here jou nog baie lank spaar.

Groetnis

Colyn