Vrydag 21 Maart 2014

Drank en Drinkers en die wat daarmee moet saamleef ...

Vandag se Briekmerk is 'n lelike een vir my maar ek glo vir 'n klomp ander mense ook. Herdie is nie net 'n Briekmerk nie, nee dis sommer a "doughnut" en 'n "burnout" daarby. Jy moes al sekerlik sulke wilde swartstrepe op die teerpad gesien het en dan wonder jy wat het daar gebeur ... een ding is verseker, iemand het daarna die lewe met ander oë bekyk.

WAARSKUWING: As jy drank gebruik en die grense van ordentlikheid gereeld oorsteek dan moet jy liewer nie verder lees nie. Hierdie Briekmerk is verseker nie 'n verheerliking van alkohol en sy gevolge nie ... nee, dis 'n brutale opsomming van sommige waarhede rondom die misbruik van alkohol en die uitwerking en gevolge vir die suiper se familie en vriende.

Ek moet eintlik nie die ding vandag skryf nie want ek is op DAG DRIE ... (Gaan lees maar hier wat dit beteken vir my) ... maar ek kan net eenvoudig nie langer uitstel nie want die ding van drank is 'n verwoester en baie mense dink dis speletjies.

Verseker is ek nie akademies gekwalifiseerd om 'n wetenskaplike referaat oor drank te skryf nie maar op hierdie punt dink ek geld die beginsel van "Qualified by Experience (QBE)" wel.

Voordat ek nou begin rowe afkrap en onderklere wys, laat ons net eers duidelikheid kry oor begrippe en beskrywings wat ek gaan noem.

Drinkers is mense wat alkohol gebruik. Nou kyk, ek is verseker nie 'n afskaffer nie en ek is ook nie een wat elke ou wat ietsie gebruik summier met die banvloek wil tref nie, so moenie dink ek is hier op een of ander eties gedrewe "mission" nie ... dis verseker nie waar nie.

Ek is 'n man wat groot waardering het vir die vrugte van die wingerd in al sy vorms en groottes. So ook die groot verskeidenheid van ander vrugte en plante se brouseltjies. My probleem is met diegene onder ons wat hulle vergryp en dan heeltemal sonder enige respek vir ander mense se gevoelens en emosies die wêreld om hulle in chaos dompel.

Drinkers ... vir my is dit mense wat alkohol gebruik. Geen onderskeiding op die gebruiks patroon nie en verseker nie noodwendig iets negatief daaraan gekoppel nie.

Drinkers kan in 'n paar hoofgroepe ingedeel word, sommiges heeltemal onskadelik en ander kwaai gevaarlik.

a. Sosiale drinkers ... hulle drink gewoonlik net by sosiale geleenthede. En die groep beslaan sekerlik 'n baie groot deel van die bevolking. Ons almal ken sulke mense, hemel, ons is seker almal deel van hierdie groep. As jy nie deel is van hierdie groep nie is jy seker 'n afskaffer en dit is vir my geen probleem nie of jy is op een of ander eties gedrewe missie. As dit laasgenoemde is dan gaan ek en jy verseker ook verskil in ons aanslag op baie ander dinge in die lewe.

Geestesgesonde en gebalanseerde sosiale drinkers ken hulle perke en weet waar om die streep te trek, as jy nie weet waar om die streep te trek nie is daar 'n goeie kans dat jy in die Suipers groep hoort en net die sosiale geleentheid misbruik om jouself aan die drank oor te gee. As jy 'n probleem met die benaming "Suiper" het dan kan net jyself dit verander.

b. Gewoonte drinkers ... hulle drink op tye wat hulle in hulle lewens bepaal het soos as hy of sy van die werk af kom of tydens etes ensovoorts. Geleenthede in sy eie lewe wat hyself bepaal en self skep. Die kan daaglikse tye, weeklikse tye wees of gedefinieerde gebeurtenisse. Meeste van die groep doen dit gewoonlik baie beheersd en binne perke en hulle is nie werklik afhanklik van drank nie want soms gaan daar lang tye verby dat hulle gladnie drink nie.

Ek het 'n oom gehad wat vir sy hele lewe lank elke aand voor hy gaan slaap het sy dop whiskey gedrink het, net daardie een en net voor hy in die bed klim. Op enige ander tyd het hy nie sterk drank gebruik nie.

Ek het ook 'n vriend wat elke middag oppad huistoe by sy geliefde drinkgat stop, een bier drink en dan gaan hy huistoe ... hy sê altyd dat daardie 30 minute die verkeer kans gee om tot bedaring te kom.

Ek het ook 'n goeie vriendin wat elke aand as sy by die huis kom 'n glas sjampanje drink terwyl sy kos maak. So is daar seker duisende mense wat in die gewoonte drinkers groep val en wat nooit hulle self vergryp of te buite gaan nie.

Maar ongelukkig is daar ook die wat weereens nie hulle perke ken nie en by elke geleentheid die dam onder die een uit suip en dan moet almal om hulle dit ontgeld.

c. Angs drinkers ... hierdie is 'n gevaarlike groep want hulle gryp die bottel net sodra dinge in hulle persoonlike spasie begin warm raak. 'n Argument met iemand of 'n spanningsvolle gebeurtenis soos slegte nuus. Hulle bedwelm hulleself juis op 'n tydstip wanneer mens by jou volle positiewe moet wees.

Hierdie is ook die groep wat gewoonlik erg agressief raak as hulle gedrink raak. Dis ook die groep waar jy die meeste kry wat dronkverdriet kry. Hierdie groep laat hulle naastes lelik les opsê as dit by emosionele foltering en soms self fisiese geweld kom.

d. Skelm drinkers ... hierdie groep is 'n ernstige probleemgroep want hulle drink so skelm dat hulle later aan hulleself ontken dat hulle enigsins drink. Die groep mense is die moeilikste om te hanteer en byna onmoontlik om te help want hulle leef permanent in 'n staat van ontkenning.

Hierdie is ook die groep waar persoonlikheidsveranderings gebeur as die persoon drink en dit is wat hulle verraai. Hulle is so seker dat niemand weet wat hulle doen nie dat hulle uiters agressief raak as iemand net sou waag om te vra of daar iets fout is. By so vraag gaan hulle feitlik onmiddelik oor na verdediging en ontkenning toe en begin almal om hulle beskuldig van een of ander wangedrag.

Meeste skelm drinkers weet diep binne in hulleself dat hulle 'n probleem het maar weier botweg om dit ooit te herken.

Suipers ... die is die groep drinkers wat nie hulle eie perke ken nie en kan in al die groepe hierbo val.

Dronklappe ... dis die groep suipers wat alle selfbeheersing verloor het. 'n Suiper kan 'n Dronklap word maar is nie noodwendig 'n Dronklap nie.

Hierdie is die groepe van drinkers wat ek sien en ken en gaan dit so gebruik in hierdie Briekmerk.

Net 'n tip of waarskuwing ... meeste drinkers hou niks daarvan as mens na hulle drinkery verwys nie, tewens, hulle raak sommer skuins bedonnerd as jy te requit na hulle verwys. So as jy 'n drinker is of 'n drank probleem het dan beter jy liewers eers nou 'n dop gaan steek en jouself kalm kry voor jy verder lees.

Ek skryf hierdie Briekmerk hoofsaaklik vir die slagoffers van drinkers se selfsugtige en banale optredes.

Drinkers dink selde daaraan wat hulle drinkery doen aan die mense om hule en daar is nogal 'n sterk ooreenkoms van die gedrag wat ek in my Briekmerk oor Selfsugtigheid geskryf het ... (Lees hom hier)

Ek kom uit 'n familie van drinkers en glo vir my, party van hulle kon drink ... harde drinkers wat baie keer ook suipers was maar in ons familie was daar selde 'n Dronklap ... nee jong, so persoon is uitgeskop uit die drinksirkel uit want hy was 'n verleentheid vir die ernstige drinkers. Klink miskien effens "weird" maar dis soos dit was ... my ooms en tannies kon hulle drank vat.

Ek glo nogal sterk daaraan dat drankvaardigheid in 'n mens se gene sit. My gene is goeie drank gene en volumes is nie iets waarvoor my gene skrik nie ... en presies daar het die probleem vir my begin. Vir my om dronk te raak was 'n duur storietjie. Natuurlik wil ek nie teveel feite uitlap nie want ek het darem nog lewende familie lede en hulle gaan die blixem in wees vir my as hulle hierdie goed lees en hulle kan hulleself te duidelik raaksien.

Op die 8ste November 1973 het ek dood in my spore gestop. Ons was 'n groep ouens wat so saam gekuier het en skaak gespeel het. Elke man bring sy koelkas saam want as jy wil ernstig drink moet jy nie op 'n ander man se rekening drink nie. My kassie het 6 Black Labels en 'n bottel Smirnoff ingekry ... elke aand en hy het altyd leeg huistoe gekom. Op die aand van die 7de was daar so ekstra baldadigheid in die samekoms want dit was die einde van die jaar vir ons as studente, so daar was so paar los bottels rum op die tafel ook. Wat verder gebeur het en hoe ons huistoe is gaan maar daar in Sunnyside bly lê.

Die oggend van die 8ste net na vyf is ek in LC de Villiers se swembad. Vyf lengtes en toe sit ek op die graswal met a Gunston in my hand ... die blou rokie krul in die oggendlug in en die son gooi sy eerste strale oor Pretoria. Net daar kry ek toe 'n boodskap ... ek noem dit maar 'n boodskap want ek weet nie wat anders om dit te noem nie ...

"As 'n mens so kan drink en dan die volgende oggend so kan swem, dan het jy verseker 'n erntige probleem."

Nou vir my was dit nogal skokkend om tot die besef te kom maar ook baie steurend. Terug by die koshuis sien ek my maters in die eetsaal maar hulle is verseker gebreek ... hulle babbeleer almal ernstig en drink swart koffie. Ek takel 'n stewige ontbyt van olierige bacon en eiers met toast en botter en konfyt en twee groot glase melk. Die tannies in die kombuis was tog te bly iemand wil eet.

Dit was maar stil om die tafel en hoe langer ek na my maters sit en kyk hoe harder maal daardie gedagte by my. Na ete is ek weg na my ouers toe op Wakkerstroom en daardie aand by die braaivleisvuur offer my pa my 'n bier.

"Nee dankie pa, ek drink nie meer nie."

Ek kon die skeptisisme in sy oë sien maar hy het net geglimlag. Die Sondag toe praat my pa weer met my oor die drinkery want Saterdag is ook verby sonder dat ek iets drink.

"As jy regtig ernstig is dan moet jy kom dat ons reël dat jy droogdokke toe gaan."

Nou kyk, droogdokke is 'n woord wat menige drinker met angs vervul. Soms raak hulle so angstig dat hulle sommer dadelik weer aan die drink gaan.

Ek het die aanbod van die hand gewys, nie omdat ek dit gevrees het nie maar my logika het dit duidelik vir my gemaak dat as ek nie self die drinkery kan stop nie dan gaan ek vir my hele lewe in vrees lewe. Daarvoor het ek nie kans gesien nie. Sonder om nou windgat te wil wees moet ek noem dat ek geseënd is met 'n besondere analitiese denkvermoë en dat as ek al die feite mooi uitgepak het in my kop en dan 'n besluit neem, dan is die besluit sonder emosie. My gesin beskuldig my baie daarvan dat ek 'n masjien is. Dis seker so maar dis nou eenmaal hoe ek is.

Vir 18 maande daarna het ek nie weer aan drank geraak nie en daarna het ek besluit dat ek net gaan drink wat vir my lekker is. So vandag, bykans 35 jaar later is dit nogsteeds so en ek drink minder in 'n jaar as wat ek in die ou dae in een aand gedrink het.

Wat egter 'n feit is, is dat in my are vloei die bloed van 'n alkoholis en dit sal nooit verander nie.

Ek is maar eintlik net 'n nie-praktiserende alkoholis.

Dis nie vir my 'n probleem nie, dis eerder 'n aansporing. 'n Aansporing om nooit toe te laat dat drank my beet kry nie ... ja ek sê toe te laat ... dis wat dit is, jy laat toe dat drank jou beet kry.

Daar is nog nooit êrens 'n geval gedokumenteer waar 'n brandewyn bottel van die rak afgespring het en homself leeggemaak het in iemand se keelgat af nie.

Nou dis my storie ... kom ons kom nou by die ander stories.

Die meer geleerdes praat van funksionele alkoholiste ... hierdie groep drinkers is donners gevaarlik vir hulle gesinne en die mense om hulle. Hulle dink gewoonlik, nee nie dink nie, hulle is positief dat hulle geen probleem met drank het nie. Intussen moet almal naby hulle gedurig met hulle staat van semi-besopenheid saamleef. Hulle boelie hulle naastes meesal verbaal en verder vervul hulle hulle afhanklikes gedurig met vrees want die afhanklikes weet dat as iets sou gebeur en hulle op die persoon sal moet staatmaak vir ondersteuning, gaan dit nie daar wees nie. As dit die pa is dan is die vrou en kinders uitgelewer aan hierdie marteling en as dit die ma is dan is dit die pa en die kinders wat spartel.

Hierdie soort drinkers maak my bedonnerd want hulle weier om te aanvaar dat hulle vrees en angs in hulle gesinne inbring en raak ook sommer hel aggresief as mens hulle sou probeer aanspreek.

Hierdie mense drink gewoonlik elke dag van hulle lewe.

Nou kom ek by die lelike groep ... "Binge Drinkers" ... Fuifdrinkers. Hierdie is ook die groep van drinkers wat die minste teenkanting van die sosiale gemeenskap kry en soms selfs amper 'n soort van helde verering kry. Hierdie groep drinkers drink nie elke dag nie en is dus nie regtig alkoholiste nie maar hulle het sulke spesiale tye wat hulle drink. Dis gewoonlik naweke. So van Vrydag middag af begin die drank vloei. Hierdie groep is ook gewoonlik die wat erg aggresief raak as hulle eers aan die suip is en alles en almal om hulle moet dit ontgeld.

Die ware riller is wanneer een eggenoot so drink en die ander een drink glad nie so nie. Meeste van hierdie Fuifdrinkers suip gewoonlik so dat hulle die volgende dag niks kan onthou van die stront wat hulle aangevang het terwyl hulle so besope was nie. Hierdie mense is ook die groep wat die minste bewus is van hulle perke. Hulle dink hulle is 100 persent in beheer ten alle tye.

Moenie met hulle probeer redeneer terwyl hulle gesuip is nie want dit kan tot lelike fisiese geweld lei of die anderkant, 'n smartlike sessie van dronkverdriet.

Probleem, Maandag oggend is die kalant nugter en die liefdevolste eggenoot. Dit is die mallemeule wat jou klaar maak. Maandag is jy te bang om oor die drinkery te praat want jy wil nie slapende honde wakker maak nie. So die Fuifdrinker kom weg met sy nonsens maar by Donderdag trek jou keel alweer toe want jy weet wat gaan nou weer Vrydag gebeur. En so suip die Fuifdrinker jou lewe ook weg ... een week op 'n keer.

Fuifdrinkers is ook gewoonlik drinkers wat uit-pass soos die Engelse sou sê. Hulle lei ook gewoonlik aan totale geheueverlies as dit by sy dronk kaskenades kom. So wat is my raad ... ek het nie regtig raad nie want ek is nou nie Dr Phil nie maar ek het vir jou 'n plan of twee ...

As jy 'n vrou is en jou man is 'n Fuifdrinker ... wag tot hy omval en blixem sy bene en arms vol knoppe met 'n Krieket kolf of een of ander goeie moermasjien. Hy gaan wakker word en nie 'n idee hê wat gebeur het nie en dan vertel jy hom van die stoep trappies, los matjie of iets dergliks. Glo my, hy sal nie stry nie want hy weet nie. Moet nou net nie soos Oscar maak en die bebloede moermasjien laat rondlê waar hy gesien gaan word nie.

Onthou net dat as jy hierdie pad kies dan moet jy dit elke keer doen totdat hy begin glo die drank maak blou kolle.

As jy 'n man is en jou vrou is 'n Fuifdrinker ... hou jou mond, pak jou tassie en gaan weg met die kinders. Laat sy maar alleen wakkerskrik met geen idee waar julle is nie. As jy dan Sondagaand terugkom, maak asof julle weggegaan het op haar advies en vertel haar hoe goeie voorstel dit was. Smokkel met haar kop, dis goeie medisyne.

Ek is nie 'n goeie raadgewer nie want ek het 'n ernstige weersin in suipers. Ek praat gladnie met 'n persoon wat gedrink is nie. Nie almal kan dit doen nie.

Die tragedie is dat suipers, en onthou, alle drinkers is nie suipers nie, suipers steel ons lewens, een suipsessie op 'n slag en as jy weer sien is jy by vyftig verby en al wat jy in jou dagboek het is smart, hartseer en terleurstelling.

As jy gelukkig is, drink die suiper hom of haar in "oblivion" in so tussen 40 en 50 en dan kan jy weer 'n kans op geluk kry. Pas net op want die geskiedenis het al baie bewys dat iemand wat 'n suiper vir 'n eggenoot gehad het sal weer so een soek vir die tweede keer.

Ongelukkig het ons 'n kultuur van drinkery en dis iets waarmee meeste kinders groot word. Baie min wil die gevare van drinkery insien en dis eers as 'n drinkery op 'n tragedie uitloop dat die drinker, as hy of sy dit oorleef het, besef wat hy doen.

Wat my erg moerig maak is dat as jy 'n eggenoot het wat drank misbruik dan is jy gedoem. Jy kan dit nie regtig waag om te drink nie want hulle sien dit as goedkeuring vir hulle wangedrag en suip dan eers met oorgawe want nou weet hulle dat jy nie 'n vinger kan wys nie en hulle is hel vinnig om dit uit te wys.

Die van julle wat tot hier gelees het is verseker nie onder 'n wanindruk nie en besef by nou dat ek 'n erge renons in mense het wat nie hulle perke ken nie.

'n Lelike geval om mee opgesaal te word is 'n Fuifdrinker wat nie sy drank kan vat nie ... o genade, een dop en hy of sy is moerland toe ... en dan begin die ellende want nou sit jy met 'n dronklap en die aand het nog nie eers begin nie.

Ek het eendag vir so Fuifdrinker wat ek baie goed ken gesê ...

"Jy moet eintlik nie eers na drank advertensies op die TV kyk nie want teen die tyd dat die advertensie klaar is, is jy al wankelrig."

Maar nouja, ek dink ek het my punt gemaak ... drank misbruikers is gevaarlik, selfsugtig en verdien geen simpatie nie. Hierdie moderne idee van dat alkoholisme is 'n siekte ... waar kom dit vandaan ?

My opinie ... dis uitgedink deur geleerdes wat self suipers is en wat na 'n manier gesoek het om die suipery aanvaarbaar te maak en om simpatie te wek vir die suipers. By my gaan hulle geen simpatie kry nie want ek weet hoe die ding werk. Ek het die ding in die oë gekyk en besluit ek wil niks verder met dit te doen hê nie.

Malaria is 'n siekte, griep is 'n siekte ... drankmisbruik is 'n keuse.

Moenie sagkens met suipers werk nie ... as hy of sy aantoon dat hy werklik wil loskom van die drank af is daar 'n plan ... kry daai inspuiting of plant daai kapsule onder jou vel in wat jou by die dood laat omdraai as jy net aan alhohol vat. En moenie na die nonsens verskoning luister van ...

"Ek kannie die pil vat nie want as ek per ongeluk ietsie inkry dan draai ek by die dood om."

Per ongeluk se gat man ... net soos 'n meisie nie per ongeluk op die paal beland of 'n ou per ongeluk herpes opdoen nie, kan jy nie per ongeluk alkohol inkry nie. Al hierdie ongelukke vereis 'n spesifieke daad van die persoon af.

'n Fuifdrinker wat ek geken het, het na so suipsessie in 'n ongeluk beland. Gelukkig was die ander party 'n 30 ton vragmotor. By aankoms by die hospitaal kon die dokters nie waag om iets aan die suiper te doen nie want hy sou die narkose nie oorleef in sy staat van beskonkenheid nie. Na 'n paar ure het hulle uiteindelik in die teater beland en daar het hulle gespook want die kalant se bloed wou nie stol nie.

Na 'n groot gesukkel is hy redelik gelap en geplak na die intensiewe sorg eenheid toe. Daar was dit 'n aardigheid om die dae daarna te sien hoe die man in sy semi-staat van beswyming deur die onttrekkings gaan en drie dae later toe raak al sy wonde septies. Die ou se lewer was net eenvoudig so gedaan dat hy nie sy werk kon doen nie.

Die man is na 'n helse lyding dood sonder dat hy ooit werklik weer by sy volle bewussyn kon kom nie. Die grootste tragedie was om sy vrou en hulle seuntjie van 5 jaar te sien in die hospitaal. Gebroke en verslae.

Wat my die meeste opval ... nee, eintlik ammuseer ... is die hoë vlakke van tolleransie wat ons samelewing vir suipers en hulle gedrag het. Dis werklik verstommend. Die suipers verkry simpatie in plaas van dat hulle met die banvloek getref word.

Ek ken 'n man ... noem hom sommer Paultjie ... hy is 140kg en net onder die 2 meter lank. 'n Blok spiere met 'n vriendelike gesig. Paultjie is self 'n man wat sy rug op drank gedraai het en ken die stories van suipers eerstehands. Hy is die hoof van sekuriteit by 'n gewilde watergat.

Paultjie redeneer nie met 'n gesuipte molesmaker nie ... sy woorde ...

"Hulle wil nie luister nie en hulle kannie voel nie ..." so met een goedgemikte klap van sy groot hand sit hy die suiper in droomland en boender hom in 'n vertrek in om sy roes af te slaap. Vinnig, suiwer en sonder baie drama.

Dis wyd bekend dat 'n persoon selde twee maal na mekaar sy perke oorskry in Paultjie se domain. Paultjie het so betekenisvolle kyk wat hy 'n potensieële molesmaker gee wat die meeste wat al deurgeloop het vinnig halt laat roep.

Nou ongelukkig is daar nie baie Paultjies in die wêreld nie.

So ten slotte ... as jy die perke van ordentlikheid oorskry ... gaan sit vir so paar oomblike doodstil en begin om jou kyk. Maak 'n opname van hoeveel mense beinvloed word deur jou gedrag en hoeveel mense is afhanklik van jou. Dan besluit jy maar vir jouself of dit wat jy doen regverdig is teenoor hulle. As jy enige inbors het is ek seker jy gaan jou optrede herdink. As jy nie inbors het nie ... gooi maar vir jou nog enetjie in.

As jy die slagoffer is van so suiper ... maak 'n plan en kom weg ... dinge sal nooit verander solank die persoon suip nie. Die vraag wat jy moet antwoord is of jy so wil leef vir die res van jou lewe.

Miskien as ons as gemeenskap minder simpatie met die suipers het sal hulle begin besef dat hulle self moet besluit om te verander.

Jy as gasheer by 'n geselligheid moet die moed aan die dag lê en sê ...

"Jy het nou genoeg gehad !" ... en doen dit sonder om te dink oor die mate van ongewildheid wat jy op die lyf kan loop maar dink eerder aan die waardering en stille bewondering wat jy gaan ontvang van die slagoffers.

Jy as eggenoot moet sê ...

"Ek is baie lief vir jou maar as jy drink gaan ek gladnie met jou praat nie."

Jy as ouer moet sê ...

"Jy is my kind en ek sal altyd vir jou omgee maar as jy wil suip is jy nie welkom in my huis nie."

Ja ek weet jy loop die risiko om op die kort termyn baie verwyte en verwerping te ervaar maar op die lang termyn is dit jy wat daarby gaan baat want die wat by jou wil wees omdat jy jy is gaan jou grense respekteer ... die wat nie ... wel dis ook beter so vir jou eie geestesgesondheid en geluk.

TEN SLOTTE:

As jy besef jy het 'n probleem met alkohol en jy wil iets daaraan doen ... gaan soek hulp by die AA ... en nee dis nie die AA vir karre nie ... die AA vir Alkoholiste.

Hoekom die AA ?

Wel in die eerste plek is is hulle almal gesoute mense wat bykans elke stront storie wat jy wil vertel al gehoor het en jy dus nie ligter gaan afkom nie.

Tweedens ... dis 'n groep mense wat hulle self bereidwillig verklaar het om suipers te help. Hoekom is nie belangrik nie ... al wat tel is dat hulle bereid is om dit te doen.

Moenie na alles wat jy alreeds aan jou familie en vriende gedoen het nou nog verder gaan en verwag dat hulle moet jou help nie. Eerstens is hulle nie regtig instaat om jou te help nie en tweeedens gaan jy hulle baie maklik omry met 'n sopstorie. So as jy ernstig is ... gaan na die AA toe.

Hier is vir jou die skakel ... http://www.aasouthafrica.org.za/ of KLIEK HIER ...

En nou is ek klaar ... hierdie Briekmerk neul aan my al vir 'n baie lang tyd en elke keer as ek dink nou gaan ek hom skryf dan dink ek weer aan die moontlike negatiewe gevolge en los dit maar liewer.

Laas week loop ek weer iemand raak en die persoon is bykans in trane ... daar is 'n ernstige drank probleem in die binnekring en die persoon is radeloos.

Net daar toe besluit ek ... die Briekmerk moet uit ... suipers kom weg met moord ... nou verseker nie met die soort ding wat die howe moet hanteer nie maar hulle kom weg met moord in die sin dat hulle die mense om hulle se geluk vermoor, hulle geesteswelstand vermoor en hulle in emosionele kettings bind. Hulle doen al die dinge en meer en word selde tot verantwoording geroep. Hulle kom weg omdat ons te ordentlik is.

Nou het ek die streep getrek ... besluit jy maar self waar jy staan en wat jy gaan doen.

Groetnis ... nou gaan ek braai ... ja ek gaan ietsie vat ... ietsie lig soos 'n botteltjie water.

Woensdag 19 Maart 2014

O hel ... 40 en oor ...

Vanoggend sit ek hier en kyk uit oor my tuin, dis 'n lekker wintersdag in die Laeveld, en my gedagtes dwaal terug na my vriend ... noem hom maar Pieter.

Ek en Pieter het 'n lang verhouding gehad en hy was my kamermaat van Std 8 tot eerste jaar op Universiteit. Pieter was 'n stil en stemmige ernstige kêrel met sulke swart krulle en donker bruin oë. Hy was nou nie juis 'n haan onder die henne nie maar hy het darem so dan en wan 'n meisie gehad.

Ek en hy was vir 5 jaar soos Dawid en Jonathan en het lang ure op die Hoëveld perd gery en skape opgepas op sy pa se plaas naby Volksrust. In die herfs was dit altyd 'n hoogetpunt om vroegoggend die perde op te saal en dan na een van die ou musrasies op een van hulle plase te ry. Daar was 'n meneer van 'n turksvy laning en niks kom darem by so yskoue vars turksvy nie. Die winterryp ys die vrugte en dit is heerlik om die vruggies met jou half verkluimde vingers uit die doringrige vel te stroop en in jou kies te druk. Stroopsoet en ys koud.

Ons het ook baie nagte by die skape geslaap as dit lammertyd is en honderde ure om kampvure gedeel. Pieter was soos 'n bloed broer vir my. Toe in 1973 skei ons paadjies ... Pieter het opgeskop en is terug na sy tuisland toe om 'n lewe te maak.

Vir baie jare het ek hom nie gesien nie en dit was voor epos en selfone en ons kontak het vervaag tot bykans niks. Maar al hierdie tyd was Pieter baie in my gedagtes.

In die middel tagtigs toe loop ek toevallig in Pieter vas op Dundee. Hy het by 'n meubelgroep 'n groot pos gehad en ek was besig om saam met my broer 'n groothandel netwerk in Natal op te bou. Een ding het gelei tot 'n ander en nie lank nie of Pieter sluit by ons aan en bestuur die een tak op Dundee.

Nou moet ek net verduidelik ... Pieter het getrou en toe ek hom ontmoet het die man 'n kar vol kindertjies gehad. Erens langs die pad het ek en Pieter mekaar ontgroei en alhoewel ek sterk probeer het om die ou magic terug in ons verhouding te sit kon dit net nie gebeur nie. Ek en sy vrou kon mekaar gladnie verdra nie en ek kon gladnie verstaan hoe Pieter met die girl opgeeindig het nie.

Maar ek praat nou baie en dit het nog niks met 40 te doen nie ... Nee hy het nie 40 kinders gehad nie.

Teen die einde van die tagtigs stort die mynbedryf in duie in Noord Natal en daarmee saam vergaan my en my broer se eens polsende besigheid. Pieter is terug meubelhandel toe en ek is weg Laeveld toe om 'n nuwe lewe te begin.

Op 'n goeie dag ry ek deur Piet Retief en stop vir 'n versnappering en sowaar as wragtig loop ek in Pieter vas. Hy lyk sommer op en wakker en ek vra hom uit. Eers so bietjie skugter maar later met meer vuur begin hy my vertel ...

Sy huwelik was 'n shotgun een en daarna het die een kind op die ander gevolg en voor hy mooi geweet waar is hy, het hy 'n handvol kinders en is vasgevang in 'n huwelik wat hom uitgemergel het. Hy het egter soos dit 'n goeie boerseun betaam sy pligte nagekom en net bestaan. Genadiglik het hy die kinder kraantjie toegedraai en soos ons daar sit en praat was die jongste al in matriek.

"My maat ... op 'n oggend toe staan ek en skeer en in die agtergrond gons die gekerm en gekla en voor my lê 'n lang harde dag. Opeens soos 'n donderslag toe tref dit my ... dis my lewe die en dis hoe dit gaan wees vir die res van my lewe. Groot verskil is ek het skielik besef dat die "res" van my lewe nie meer een of ander ongedefineerde konsep is nie maar realisties gesproke uit 'n bepaalde hoeveelheid jare bestaan."

Pieter skud 'n Gunston uit 'n pakkie uit en ek sien hoe die blou rook stadig by sy neus uitkrul en so lui lui wegdryf. Ek steek ook maar enetjie aan en dink dat daar is darem nog een ding wat ek hy in gemeen het. Die liefde vir 'n lekker ou geroosterde Gunston.

"Nouja ... die ding van die spesifieke jare slaan my soos 'n hamer tussen die oë en terwyl ek die skeerseep van my gesig afvee besef ek dat ek wil nie meer so lewe nie."

Wel hierna vertel hy my die droewige verhaal rondom die eerste besluite en die daaropvolgende skeiding met die gepaardgaande wroegings tussen hom en die kinders.

Ek sit net doodstil en luister en ek wonder. Hoeveel Pieters is daar nie in die lewe nie. Hulle het getrou en kinders grootgemaak en skielik tref daai dag hom ... die dag waarop hy besef die res van sy lewe is nie meer net 'n begrip nie maar werklik 'n sekere klompie jare. Dis die dag wat hy ernstig gat omslaan en met alle mag en krag net wil wegkom uit wat hy as 'n sieldodende verhouding ervaar.

Of dit werklik so sleg is sal ons lank oor kan debatteer maar die realiteit is dat Pieter dit so beleef en niks gaan hom nou keer nie. Nou wil hy met alle krag en mag soveel as moontlik inprop in die "res" van sy lewe.

Dis gewoonlik die tyd wat mans skielik simpel word en verspotte karre koop, lawwe klere begin dra en soos 'n hippie wat in 'n timewarp gevang is begin optree. Hy delf wanhopig rond om sy verlore jeug op te diep en in die proses vervreem hy meeste van die tyd almal wat vir hom lief en dierbaar is.

Nou moenie my verkeerd verstaan nie ... ek het empatie met Pieter .... nou nie meer my vriend nie maar bloot 'n naam om die gedrag te defineer. Ja hy het grondige en geldige redes vir sy optrede maar hy moet ook net so bietjie terugstaan en toelaat dat die mal adrenilien "rush" van die "O hel dis oor 40 ... !!!" ervaring verbygaan. Glo my ... dit gaan verby.

Wat baie Pieters nie besef nie is dat hulle vrouens dalk presies dieselfde voel. Hulle lewens is weggesteel deur kinders grootmaak en huishou terwyl Pieter 'n loopbaan gebou het.

Pieter gaan homself regverdig met die klem op die "res" van sy lewe maar sy vrou het volgens haar, haar "hele" lewe aan hom gegee. Nou die bekgeveg kan soms vir jare aanhou maar baie maal is dit Pieter wat met groot gejuig sy tasse pak en die huis verlaat. Seker sy goeie reg maar gewoonlik laat hy sy kinders en sy vrou agter met hope emosionele slagtings en kaste vol leed. Maar nouja hy is nie gestoor nie want skielik het die "res" van sy lewe sy god geword en hy moet dit vereer en koester met alles wat hy het.

Nog 'n probleem of moontlike probleem vir Pieter is dat sy optrede baie van sy bestaande vriendskappe gaan laat sink want die vrouens van die mans soek dit net niks dat hulle mans met so Pieter deurmekaar is nie. Hulle vrees hy gaan hulle nessies bemors.

So Pieter gaan nie net sonder sy gevestigde gesinsbande die "res" van sy lewe in nie maar hy gaan ook nuwe vriende moet kry. Nouja eerste op sy lys is natuurlik 'n maatjie ... iemand wat hom sal verstaan en waardeer vir die reus van 'n man wat hy is. Dis 'n groot dag vir Pieter as hy sy Roxy raakloop en skileik voel die "res" van sy lewe weer vir hom soos iets wat net in boeke bestaan en hy pronk rond met die medalje op sy skouer.

Wat hy nie besef nie is dat die Roxy ding nou soos 'n petrolvuur deur sy vriende kring trek en baie min van die vlammetjies is daar om hom warm te hou ... janee ... die meeste is vuurtonge wat bedoel is om hom te verteer want hy en sy Roxy is nou 'n bedreiging vir elke getroude vrou in sy invloedsfeer.

So begin Pieter se pad na vereensaming ... let wel hy besef dit nognie maar dis sy probleem. Vir hom is Roxy alles en die "res" van sy lewe lyk rooskleurig.

Die dae word weke en weke word maande en Pieter se rooskleurige Roxy begin so hier en daar 'n verlepte blaartjie wys. Hoekom ... wel onthou Roxy het ook 'n lewe en haar lewe is vol ander mense vir wie die "res" van hulle lewens nog net presies dit is ... 'n ongedefineerde konsep en hulle dink die "res" van hulle lewe gaan vir 'n baie lang tyd aanhou. Pieter begin al hoe meer uit voel in die nuwe groep en hoe meer hy uitskuif hoe stywer klou hy aan Roxy. Tot op 'n oggend dat Roxy bewus word van die wurggreep wat Pieter op haar lewe het.

Pieter kry nou ook sulke skramskote uit sy ou lewe uit ... 'n kind wat verjaar en hy mis dit, 'n kind wat 'n belangrike mylpaal bereik by die skool of elders en hy mis dit. Hy sien sy gesin toevallig by 'n eetplek en hulle lag en gesels en geniet mekaar en hy is nie deel van dit nie.

Al die mooi nuwe blink klere en bottels vol "jonkwees" muti begin hulle glans verloor en die ure se hare versorg en bleskolle toe kam begin op sy senuwees werk. Die alewige sosiale rondritsery met Roxy vang hom want sy werk is "demanding" en hy kan net fisies nie meer die lang en baie laatnagte hanteer nie. Pieter begin knorrig raak en Roxy begin kriewelrig raak.

Dan gebeur daar iets ... 'n kind is in 'n ongeluk of word ernstig siek en hy hoor net so terloops daarvan en hy besef dat daai deure is besig almal solid vas te roes. Nou is die "res" van sy lewe nie meer so uitdagend en vol beloftes nie ... nee dit begin nou na 'n lang pad te lyk. Hy probeer nou om Roxy te laat commit tot hierdie pad maar sy is katvoet ... sy is nie regtig lus vir verantwoordelikheid vir 'n man en 'n huis nie en op 'n dag is sy weg ... net weg ... patrymaal met 'n moerse fight maar meesal net weg.

Nou begin die afdraende vir Pieter ... en ek kan maar net my kop skud ... dit alles net oor 40 ... wat is so belangrik aan dit.

Werklikheid is dat Pieter se vriend Willem wat ook daai "oor 40" beleef het,  maar hy het lank gaan dink oor dit en mooi gekyk wat is alles op die spel en toe besef dat die "res" van sy lewe is te kort om dit met 'n Roxy te belas en hy en sy gesin het maar gaan sit en saam deur die krisis gewerk. Willem se vrou het insig in die probleem gehad en Willem het self dinge verander dat hy en sy vrou meer tyd saam kan geniet. Hulle het die mure van roetine gaan afbreek, saam beserings opgetel as 'n stuk beton te hard val maar ook saam gelag toe die laaste vrag by die hek uitry.

Willem staan voor die spieël en grinnik vir sy bles en is gemaak gebelgd as sy oudste spruit hom op sy bles soen en 'n bloedrooi lipstiek blerts agterlaat terwyl Pieter waansinnig met die blowdryer veg om die kol toe te vleg.

Terug by my vriend Pieter ... laat een nag kry ek 'n oproep van 'n meisie af ... ek ken haar van geen kant af nie.

"Is dit Colyn Serfontein wat praat ... jy was a goeie vriend van Pieter ?"

"Ja."

"Ek is Roxy ... Pieter het laasnag 'n hartaanval hier in my woonstel gehad en is dood. Ek dog ek laat jou net weet want hy het baie oor jou met my gesels."

Dis al ... en so is my vriend Pieter die ewigheid in ... alleen in die badkamer van sy Roxy.

Nouja dis my Briekmerk vir vandag ... lees dit en gebruik wat vir jou waarde het.

Oorspronlik gepubliseer op Bike in jou Taal ... 23 Junie 2009

Kommentaar:

Coetzee Zietsman:
So ernstig so vroeg in die oggend Colyn? Maar jy kan skryf. Dit moet ek jou toegee. En ek dink daar is baie manne op die forum wat gaan baat vind by wat jy te se het. Dit is nou ouens wat al oor veertig trek. Ek is mos nog maar 'n laaitie van 25.

Grappies op 'n stokkie. Toe ek veertig slaan, toe begin ek ook wonner oor die sin van die lewe. Se toe vir Sonja dat ons 'n paar keuses het: Of ek koop 'n rooi sportskar, of ek verneuk haar met 'n jong en seksie blonde, of ek koop 'n bike. Ons het toe saam besluit dat 'n bike die minste impak op die huwelik sou he. Ons was verkeerd. Dit het 'n groot impak gehad. Skielik het ons begin soek na verskonings om die 5year old by ouma te los en weg te breek vir 'n naweek erens heen. Kop draain ons links by die kruising buite Clocolan, stert draai ons regs.

Die geryery het 'n paar dinge verander. Skielik breek ons weer saam weg erens heen en gedra ons soos tieners. Ons ontdek dele van ons land wat ons nie geken het nie en ontdek mekaar ook weer. Nou, na 4 jaar se bike ry, is ons gelukkiger getroud as ooit vantevore.

My briekmerk. Bike saam met die mense vir wie jy lief is en deel jou lewe saam met die wat dit sin gee. Daar is nie 'n sin in die lewe nie behalwe om te leef in die wat vir jou lief is se harte en gedagtes en hulle ook in jou hart te laat leef. Dit is ons nalatenskap. Sonder dit is ons almal net 'n stofstreep op die horison op pad om vir Colyn te gaan kuier.

Milkybar:
Colyn, eks nou 'n dame en amper 40 maar jou storie het ek al 'n paar in my lewe sien afspeel. Dis so waar!!!!
My man en ek is amper 19 jaar getroud en het net eendag tot die besluit gekom, ons kids is binne 4 jaar almal uit die huis. Wat maak ons dan? Die besigheid(werk) en kinders neem so baie plek in in 'n getroude paartjie se lewens dat hulle baie keer vergeet om net mens te wees en tyd met jou liefie te spandeer en te kommunikeer. Ons het toe besluit om 'n bike te koop en ten minste 1 keer permaand weg te breek en kwaliteit tyd by mekaar te spandeer......en dis lekkerrrrrrrrrrrrrrr!

TC:
Colyn baie goed geskryf en diep storie........ ek is 41 en moet se ek ............. moet eerder stilbly.......

Jubs:
My naam is Pierre.......en ek is ver oor veertig...

Colyn, laat my toe om 'n briekmerk hier te sleep. Ons het baie om uit "Pieter" se storie te leer.

Wanneer laas het jy iets gedoen wat jou totaal uit jou gemaksone ruk?

Dink in terme soos om jou ergste vrees te konfronteer, jou bene maak bewe. Of dink in terme van uitreik (om te stretch) soos om iets vir jou maat te doen wat jou geen plesier verskaf nie. Nee, nie net eenkeer nie! Dit deel maak van julle verhouding.

Ek het meer onlangs in my lewe twee sulke ervarings gehad.

Die eerste ervaring het oor 'n paar maande gestrek. Ons kinders het die huis verlaat en ek en Jakkie het besluit ons gaan deelneem aan Imago verhoudingsterapie. Imago het ons uitgewys waarom ons in die eerte plek bymekaar gekom het. Ons het weer die sin in ons verhouding "ontdek".

Ek moes eers leer hoe om te luister en het gou agtergekom, ek is maar erg "doof". Ek verstaan nou wat beteken "liefde is harde werk"! Liefde is daardie KEUSE wat jy maak om te groei (om te verander) sodat jy aan jou maat se emosionele behoeftes kan voldoen. Nou nie iets wat ons manne wil verstaan nie.

Die tweede ervaring het slegs 'n dag geduur. Dit was die slag toe ek saam met Roan en Colyn ons fietse in Bethlehem gaan haal het. Dit was die eerste keer wat ek motorfiets sou ry (het eers op Swartkops die basic's gaan leer). Daar het so 750km voor my gelê tot op die plaas duskant Witrivier. Ek het voor Hochland gestaan en wag vir 'n gaping in die verkeer en toe besef, nou moet ek ry...

Die twee uiteenlopende ervarings het baie van my gevra, maar het nuwe vreugde gebring. So, as jy jou tasse wil pak vir 'n vreemde reis, moet nooit dink jy gaan pyn vermy nie. Geluk lê in die pyn wat jy tegemoed gaan en die werk wat jy bereid is om te doen (die effort wat jy maak).

Milkybar:
Diep julle manne nê! Rerig diep. Moet sê daar is BAIE waarheid in die klompie posts.

Ek het ook so 'n ou kombinasiestoretjie... bietjie Pieter... baie vroeg getroud en ook in daai klem beland... geskei en kinders is nou groot en kwaad... maar die tweede huwelik darem sover die Willem pad gestap. Ook by die punt gekom dat ek gevoel het dat alles wat ek doen daarop gemik is om ander mense te plieeeze... op daai stadium bike gekoop en dit was 'n great manier om "weg te breek". Nou is dit ook al 'n familie aktiwiteit. Sal great wees as vroulief ook wil ry... dan gaan ons nou toe hoor!

The Purple Turtle:
Ek het die onderwerp nou al 4 of 5 keer gelees. Ek wil nie eindelik post nie. Maar op die slegte dae, daar is nog n paar elke week, help dit my om te verstaan wat gebeur het.

Dus dankie aan Colyn en die mense wat hierdie onderwerp bespreek het.

Julle het baie gehelp.

Vriendelike Groete

Riaan Cilliers

Dinsdag 18 Maart 2014

As die lewe jou met 'n suurlemoen gooi ...

Die dag as die lewe jou met 'n suurlemoen gooi is die dag wanneer jy diep moet grou vir krag om vorentoe te gaan. Elkeen van ons kry sulke dae en elkeen van ons vind dan uit dat ons eintlik taaier is as wat ons gedink het ons is. 

Ek is die pa van twee seuns, twee wonderlike mense met elkeen sy eie persoonlikheid en elkeen sy eie karakter. In elkeen sien ek dinge wat my aan myself herinner en in elkeen sien ek dinge wat vir my vreemd is. Maar nouja dis soos die lewe werk ... ons kinders is iets van ons maar is nie alles van ons nie. Hulle is soms wel alles vir ons.


As ouers is ons gedurig besig om ons kinders te vorm en voor te berei vir die lewe en iets wat baie ouers nie regkry nie is om die kinders ook toe te laat om hulle eie foute te maak. 


As ons hulle nie die vryheid gee nie sal hulle nooit regtig volwaardig deel van die lewe kan wees nie want ons gaan nie altyd daar wees om hulle te beskerm nie en dis net wanneer mens erg betaal vir jou eie fout dat jy werklik groei. 


Vir my is die taak van grootmaak 'n ernstige taak en die feit dat ek laat in my lewe eers kinders gehad het maak dit nog meer belangrik vir my. Altwee my seuns is in hulle eie besighede en die oordra van basiese besigheids vaardighede is vir my 'n saak van erns. Dis hoe mens toekomstige suksesvolle sakemanne verseker. 


Ons familie is soos die meeste ander Suid Afrikaners nie geslagte lank in besigheid nie. Die waarheid is dat ek en my twee broers die eerste generasie entrepeneurs is. Vir ons is dit baie belangrik om ons ondervinding oor te plaas na ons kinders toe sodat hulle verder daarop kan bou. Maar genoeg ... die storie gaan mos oor 'n suurlemoen.


Beide my seuns is deurmekaar met twee wiele van redelik vroeg in hulle lewens en altwee het hulle fair share van plot koop gehad. 


Jacques, my oudste is 'n ernstige jong man wat baie maklik stress kap as dinge styf raak en hy is baie verantwoordelik en toegewyd aan sy besigheid. So met hom was daar maar die normale pa seun kopstampery maar oor die algemeen het hy net elke dag voortgebou op gister en stelselmatig homself totaal onhafhanklik gekry van my in 'n finansieële opsig. 


Wiehann aan die anderkant is 'n wilde jong man en herinner my baie aan myself en laat my baie terugdink aan my jong dae toe ons nog perde geleer het vir sakgeld. As gevolg van hierdie wildheid in hom dra hy ook ernstige littekens aan hom, fisies en geestelik, as bewys van sy hardkoppigheid.


Gedurende November 2007 besluit ek toe om Wiehann op 'n lang toer saam met my te vat. Ons is van Nelspruit af deur die Natalse hooglande en af Gariep toe. Daar het ons 'n klomp forum vriende van my ontmoet en die naweek geniet. Sondagoggend toe besluit ek sommer so uit die bloute uit dat ons is mos nou al oor halfpad Kaap toe en daai aand slaap ons in Stellenbosch. 


Dit was 'n goeie reis en ek en die jongman het baie ure saam geniet. Aanvanklik was ek maar half skrikkerig om hom op my GT te laat ry want die fiets is gewillig en in onverantwoordelike hande kan dit maklik op 'n treurspel uitloop. 


Wiehann het egter gemaklik in die roetine van die langpad ingeval en homself uitstekend gedra op die pad. Ek moet byvoeg, hy het baie goeie "road sense" en is 'n bogemiddelde ryer. So my grootste uitdaging was om sy gewrig in toom te hou en hy het dit nogal baie rustig gevat. Die tye wanneer ons so bietjie aangestoot het was hy heeltyd by my en dit was lekker om saam met hom te ry.



By een van ons petrol stop punte.


Op die langpad ... ure aan een.

Maar nouja laat ek maar by die punt uitkom van die suurlemoen storie. 

Die oggend van 5 Maart 2008 gebeur dit wat elke ouer vrees. My foon lui en ek hoor dis Wiehann se ringtone maar toe ek optel is dit nie sy stem nie.


"Meneer Serfontein ? ... ek skakel van Wiehann se foon af. Hy was in 'n ongeluk betrokke en ons dink u moet dadelik hiereen kom."


"Is hy OK ?" ... my keel is besig om toe te trek en ek kan voel hoe my nekare pols. Ek ry lank genoeg bike om te weet dat 'n ongeluk kan erg lelik wees vir die ryer.


"Ons werk aan hom en sal hom na die Privaat hospitaal toe neem."


Die volgende 5 minute was net 'n warboel van amperse instintiewe bewegings van my af terwyl ek aantrek en na my kar toe gaan. Duisende beelde en vrae flits deur my brein en ek onderdruk die drang om my vrou te bel. Sy freak maklik uit en ek kannie waag om haar te bel terwyl ek self nie mooi weet wat aangaan nie. 


Jacques bel my van die tonneel af en verduidelik vinnig wat die stand van sake is. Nou is ek kalmer en onderdruk die drang om teen die spoed van wit lig oor die plaaspad te jaag.


Met my aankoms op die toneel sien ek dat Wiehann in bekwame hande is. Hy praat maar is deurmekaar. 


Die bloed in my are stol omtrent toe ek die dik rooi bloedplas op die teer sien. Die volgende paar minute stap ek rond en som die toneel op. My instinkte vertel my die was nie 'n laespoed insident nie maar ek bêre dit maar vir later.



Nadat die ambulans met hom vertrek klim ek in my kar en bel my vrou. Die verwagte angs is daar en ek probeer maar my bes om haar kalm te hou. Situasies soos die is kruitvatte en die geringste skewe woord kan 'n anstigheid omskakel in polsende histerie.

Ek gaan julle nie nou verveel met die lang uitgerekte ure in die wagkamer nie maar 10 en half ure later is Wiehann uit die teater en in die intensiewe sorgeenheid. 


Gedurende hierdie ure was ons omring deur vriende en familie en dit het 'n groot verskil gemaak. Diep in my binneste het ek myself reeds voorberei vir die moontlikheid dat Wiehann sy arm gaan verloor. Die rant van die trok wat voor hom ingedraai het is skerp en het sy linker arm feitlik afgeskeur. Dat hy nie doodgebloei het op die toneel is net 'n wonderwerk. 


Baie diep onder al die emosies moes ek ook die moontlikheid proseseer dat Wiehann dit nie gaan maak tot by die anderkant van hierdie dag nie en my siel was in duisternis gehul. Hierdie gedagte het ek kalm weggestoot maar nie uit die oog verloor nie.


By die genade het hy dit gemaak en met die toewyding en vaardigheid van twee spesialiste het hy sy arm behou en lewendig aan die anderkant uitgekom. Die dae het weke geword en die pyn en lyding van die kind was erg om te aanskou. Op my tipiese analitiese manier het ek hom spoedig by a neuroloog gekry en my vraag was reguit en op die man af.


"Wat is sy kanse ?"


Wel lang verduidelikings en baie "miskiens" later ry ek en hy terug Nelspruit toe.


"Seun ... as jy toelaat dat hierdie ding in jou kop kom nes maak is jy gefok. Meet elke verbetering teen die arm in die asblik." 


Miskien nie die mees sensitiefste stelling nie maar dis sonder ruimte vir misverstande en nou maar eenkeer soos ek is.


Hierna het maande gevolg van klein verbeterings en baie terugslae maar deur dit alles het Wiehann hard gewerk saam met die fisio en ek het hom aanvaar net soos hy is. Ek het min simpatie met sy gestremdheid gehad maar wel baie empatie. Deurgaans het ek hom gedryf om alternatiewe oplossings te vind vir sy uitdagings en soms het ek laat in die nagte alleen hier in my studeerkamer gesit en in my binneste maar die verwyte en vertwyfelings verwerk. 


My vrou het my aanhoudend vertel hoe sleg bikes is en hiper emosioneel uitgebars elke keer as daar net van bikes gepraat word. Sy weier om enigsins meer saam te ry en ek het dit maar aanvaar.


In Junie 2008 koop ek toe vir my 'n GS en dit was vir Wiehann 'n harde been om te kou want hy moes my met sy kar afvat Bethlehem toe om die GS te gaan haal. Ek kon sien hoe vreet die ding aan hom maar my standpunt is en bly ...


"Jy was agter die handles van daai F800S en jy moet nou met die gevolge saamleef."


'n Maand later het my nuwe LT opgedaag en weereens moes Wiehann my neem om die fiets te gaan haal. Weereens was hy depresief en glad nie goeie geselskap op die pad nie. Natuurlik het ek hom jammer gekry maar ek kan niks aan die feite verander nie.


Die oggend van sy ongeluk was hy in my studeerkamer voor hy gery het en ek het hom so aangekyk en my presiese woorde was.


"Wiehann, hierdie kaalgat ryery van jou gaan jou nog duur te staan kom."


Sy antwoord was ...


"Chill dad ... dis warm en ek kan ry."


Wel die feit is dat as hy sy rybaadjie aangehad het was die skade aan sy skouer by verre baie minder gewees maar dit is nou iets waarmee hy moet saamleef. Ek het gedoen wat ek kon en gesorg dat hy die regte ryklere het maar hy wou dit nie aantrek nie en dus is dit sy probleem en nie myne nie.


In Augustus 2008 kom roep my vrou my en verduidelik dat Wiehann op my GS sit in die stoor en ek stap soontoe. Daar sit hy, ewe kordaat op my fiets en reken my hy is seker hy kan die ding ry. 

Ek staan en luister aandagtig na sy storie en sien die bravade in sy oë. In die agtergrond is daar ook die sonbesie skerp gezoem van my vrou se tirade oor al die dinge van bikes maar ek luister gladnie daarna nie. 

Ek staan langs Wiehann en vra.


"En jy is seker jy kan die handles vashou ?"


Hierop beaam hy en sy ma trek weer los soos 'n kettingsaag. Ek hou my doof en gee die regterhandse punt van die stuurstang 'n stamp met my hand. Sonder weerstand glip die linker handgreep uit Wiehann se hand uit en sy arm hang langs sy sy.


"Ek dink nie so nie."


Is al wat ek gesê het terwyl ek wegstap. Ek konnie sy terleurstelling in die oë kyk nie en my vrou se gebabbel het my senuwees aan rafels gekerf. Hierdie ding vreet my op. Elke dag sien ek my kind ly en feitlik elke dag hoor ek by my vrou die dinge oor bikes. Vir my wat nogal amper soos 'n hermiet leef is die aanslae erg en ek vrees vir die dag dat ek my humeur regtig gaan verloor.


In November 2008 is die drade uit sy skouer verwyder en daarna het dinge vinniger beter begin gaan. Op 'n oggend toe kom roep hulle my en daar trek Wiehann die pad af met sy mountain bike. Wel dit was goed om te sien en heimlik het ek geweet dit gaan nou nie meer lank wees nie dan wil hy terug in die saal. Hoe sy ma gaan reageer is heeltemal 'n storie op sy eie.


En toe kom die dag wat ek gedink het nie gou weer, indien ooit, sal kom nie. Wiehann klim terug in die saal met my goedkeuring.



En daar trek hy die plaaspad af.

Vir die paar dae voor die gebeurtenis was hy baie depressief en dinge in sy lewe was besig om hom erg te karnuffel. Daai soort dinge wat seuns mos dink hulle pa het nie 'n clue van nie terwyl jy hom eintlik stap vir stap kan vertel hoe dit gaan afspeel. Maar nouja as dit by sake van die hart kom dan is ouers mos onnosel.

Dit daar gelaat. Op die Saterdag moes ek na 'n belangrike afspraak in Hazyview toe gaan en so by middel van die dag toe roep ek hom en vra hom of hy wil saamry. 


"Jy moet maar met die GS ry."


Dit was soos 'n towerslag. Sonder huiwering is hy in sy kaste in en maak sy rygoed bymekaar. Wonder bo wonder het my vrou niks te sê gehad nie want sy was buite raad oor sy depressie en nou was enigeiets vir haar aanvaarbaar.



Dit was heerlik om weer op die pad te wees saam met hierdie obsternate jongman ... 13 maande nadat ek gedog het hy is weg. Ons moes laat die aand terugkom en vir momente was ek erg bekommerd oor hom want bike ry in die nag is nie maklik nie maar hy het homself vasgplak aan my brieklig en ons het deur die donker plantasies, klowe en berge gevleg. 'n Pa en 'n seun ... iets wat net pa's en seuns kan verstaan.

Toe kom die volgende lekker ding na my kant toe. Jacques koop weer vir hom 'n bike.



Dit was a lekker ding om te sien. Hoe my oudste hierdie hele bike kopery hanteer en sonder enige hulp van my alles vir homself reël. Dis wanneer 'n pa regtig trots is op sy seun ... wanneer die seun man dinge doen op sy eie stoom.

Nouja ... nou is die suurlemoesap uit my oë en ons sien almal uit na 'n lekker lang trip.


Hoop julle het dit geniet en ek hoop iemand wat dit lees kan iets positief vir homself daaruit haal. Die groot geheim is dat wanneer die lewe jou met 'n suurlemoen gooi moet jy net koets en mooi dink of jy alleen die oorsaak van die gooiery was en of jy maar net 'n onskuldige omstander was. Dit is waar die sleutel lê tot jou herstel.


Hierdie Briekmerk was oorspronklik gepubliseer op Bike in jou Taal ... Junie 09, 2009, 12:14:59 pm


Hier is van die kommentaar:

Cassie:
Colyn, jy moet vrééslik trots wees op Wiehann!  Afro
Dankie dat jy weer hierdie storie met ons gedeel het.  Wink

848-ZN:
Ja, baie dankie Colyn. Jy vat alles so mooi vas. Ek sukkel maar om oor sulke diep persoonlike dinge openlik te praat soos jy gesien het. Ek weet dat elkeen van ons `n juweel kan pluk uit die wyshede wat jy deel. Dit leer ons ook waardeer. Ek geniet ook die manier hoe jy skryf en die raak beskrywings. Smiley

Lynnie:
Colyn, net 'n ouer kan begrip hê met wat jy hier deel en deurgemaak het.  Ons is dankbaar dat hy so mooi herstel het - dit kon veels anders gewees het Afro

Mudbugger:
Ek lees al hierdie goed van Colyn en sy seuns en ek weet baie van hierdie dinge kom my kant toe. Ek voorspel klaar oor twee jaar gaan my kleinste wil self ry. Dan sal sy 7 / 8 wees.

My ma het die naweek weer met my gepraat oor die ryery. In ons huis was ek altyd die een wat gese het om iemand agterop te laai is taboe. My vrou is die eerste een met wie ek dit doen. Nog nooit het ek meisies uitgevat op my fietse nie. Ek het of my ouers of my broer se kar geleen. Ek wou nie die verantwoordelikheid neem om dalk eendag .... haar ouers te vertel dit was my skuld nie. Dalk was ek selfsugtig, dalk was ek slapgat, dalk was ek wys.

Nou, op my ouderdom doen ek dit met die ma van my kinders. En dieselfde vrae draai deur my kop. Wat sal ek vir hulle sê? Wat sal iemand anders vir hulle sê?  . . . . . . . . . . . . . . .  Huh?

Oupa Manie:
Hoe het iemand eendag gesê? As die lewe jou met 'n suurlemoen gooi, maak suurlemoentert....

Ek het my Pa aan die dood afgestaan toe hy so oud is as wat ek nou is - en ek skaars twee en twintig. Toe ek jonger was, wou ek niks van hom leer nie, want hy was mos oud en uit die mode en ek het alles geweet. Net toe ek agterkom, eintlik weet ek boggerol en hy weet alles en kan my so baie leer...toe sterf hy aan 'n hartaanval.

Colyn, laat jou seun hierdie draad lees asb en waardeer mekaar asb. Om sonder 'n Pa se wysheid te trou, kinders groot te maak, huis te koop, bike te ry en al daai dinge is wragtag nie maklik nie. Wees lief vir mekaar, foute en al.


Sondag 16 Maart 2014

Niks hou vir altyd nie ...

Vannaand skryf ek die stukkie vir die wat al kennis gemaak het met depressie ... nie die geld soort depressie nie ... nee dis geestelike depressie ... daai ding wat so maklik die lewe uit mens uit kan suig. Hierdie is 'n lelike briekmerk.

In die huidige ekonomiese klimaat is dit net vanselfsprekend dat ons elke dag met dinge gekonfronteer word wat mens laat voel die lewe is net eenvoudig te swaar. Angstigheid oor geld en die toekoms laat jou voel dat die mure jou vasdruk en die plafon wil jou versmoor.

Jy maak die koerant oop en berigte van mense wat selfmoord pleeg en gesinsgeweld spring uit die bladsye uit op. Jou oë dwaal oor die swartgalligheid en jou gemoed trek jou nader na die grond toe. Die foon lui en nog 'n kliënt kanselleer 'n afspraak. Sonder om te kyk voel voel jy waar jou beker koffie staan en te laat besef jy dit is nie goed om blindelings na warm koffie te soek nie. Dis met 'n gevoel van totale afsku dat jy kyk en sien hoe die bruin vloeistof oor jou tafel vloei sonder enige ontsag vir die waarde of kwesbaarheid van dit wat in die stomende stroom bruin vloeistof se pad kom nie.

Vir bykans my hele lewe het ek 'n donker draak wat op die rante van my bestaan rond luier en net wag vir die kans om my te bespring en te verswelg ... depressie ... a maalkolk van emosies wat my die dieptes insleep sonder om ag te slaan op enige sosiale etiket of ordentlikheid. Dis periodiek en wel bekend aan my. Ek en hierdie draak kruis swaarde met eentonige reelmaat en die geveg duur gewoonlik so vier dae.

Dag een begin gewoonlik met a rits insidente wat my eers erg agresief maak en dan skielik is hy daar ... gloeiende oë en 'n vlammebêk wat reg op my gerig word. Omdat ek hom goed ken weet ek onmiddelik waarvoor ek in is en dan vat dit alles in my om nie waansinnig goeters in sy rigting te slinger nie. Nee ... ondervinding het my geleer dat ek beter nou my kragte spaar en sorg dat daardie kwylende tande my nie in die hande kry nie. Daar lê 4 dae van loutere hel voor en ek gaan elke greintjie energie nodig hê om die anderkant van hierdie ding te sien.

Soos die dag vorder begin al hoe meer dinge skeefloop en dit verg brute wilskrag om elke krisis te hanteer en dit so te hanteer dat ek met die uitkoms kan leef. Baie mense is afhanklik van my en besluite wat ek neem kan ernstige gevolge vir ander mense inhou. Alhoewel alles in my skree om myself te beskerm kan ek nie toelaat dat selfbeskerming my enigste doel word nie want ek het verantwoordelikhede.

Teen laatnag is die draak baie naby aan my en slaap is nie 'n opsie nie. Ek is gelukkig dat my werk ook my stokperdjie is en baie van die gereedskap wat ek in my werk gebruik is ook goeie ontspanning vir my. Nou word dit meer as onspanning, dit word ontvlugting. Ek worstel die nag om deur een of ander abnormale moeilike grafiese taak aan te pak en honderd persent in die tegniese uitdagings in te sink.

Dag twee breek aan en ek is nou baie slegte geselskap. Ek vermy enige kontak met mense so vêr as wat ek kan en konsentreer op my werk, drink koffie en rook sterk sigarette. Wel rook is seker nie heeltemal waar nie, ek brand baie sigarette. Nog 'n lang nag is voor en ek leef min of meer in 'n skemer wêreld van donker gedagtes en pruttende agressie wat kort kort neig om uit te bars. Dis juis hierdie agressie wat my geleer het om mense te vermy so vêr as moontlik gedurende hierdie insidente. Ja ek noem dit 'n insident want ek gaan dit nie verheerlik met a formele titel of naam nie.

Dag drie is wanneer ek begin swig voor die uitputting en dis net met jarelange se ingeburgerde disipline dat ek die draak bly beveg en nie toegee nie. Teen laataand verander ek my taktiek. Teen hierdie tyd is ek fisies uitgeput en dan laat los ek die brieke. Met totale oorgawe laat ek toe dat die depressie om my vou soos 'n dik nat kombers. Ek gaan klim in die bed en raak gewoonlik feitlik onmiddelik aan die slaap. My slaap word versteur deur aaklige drome maar ek het al geleer dat dit onskadelik is en die angstigheid word maar as deel van die "fliek" gesien.

Dagbreek dag vier ... ek sleep myself uit die bed uit en gaan sit in my kantoor en staar maar net deur die venster. Die draak is in sy noppies want hy het vrye teuls. Hy boelie en karnuffel my lam en tam gees sonder genade en ek is 'n gelate deelnemer aan hierdie geveg.

Nou gaan ek sê wat dalk nie mooi sin gaan maak vir die meeste van julle nie maar ek het hierdie totale oorgawe nodig anders kan ek nie uit die donker gat uit kom nie. In my geestesoog is dit kompleet asof die oorgawe my toelaat om spoed op te tel die dieptes in. Ja, ek moet spoed optel want as ek die bodem op volspoed tref dan sal daar genoeg momentum wees om die anderkant uit te kom. So in die ure na sonop tuimel ek teen die wal af sonder weerstand en soek naarstigtelik vir die bodem.

Hierdie fase duur ongeveer 12 ure en is louter hel. My brein voel soos a nat slaapsak en my produktiwiteit is feitlik zero. Teen laatmiddag neem ek a wils besluit ... GENOEG !

Ek forseer myself om te gaan stort en te skeer en netjies aan te trek. Volgende is 'n ordentlike ete saam met my familie en dan skud ek die laaste klippies uit my skoene en begin te werk. Die draak se ogies verdof en sy bek gaan toe. Ek hou hom dop soos hy druipstert wegwaggel en in sy grot verdwyn. Nie verslaan nie maar wel goed afgeweer want ek weet uit ondervinding hy gaan eendag weer terugkom. Maar vir nou is hy weg en die lewe gaan aan. Wat belangrik is om te onthou is dat alhoewel dit 'n helse onderving vir my is het die wêreld nie een sekond verloor nie en niks het stil gaan staan nie.

Nou het ek omtrent klaar gepraat en gaan vir julle 'n paar mooi fotos wys.






As jy dalk aan depressie ly ... soek hulp voor dit te laat is. Depressie is 'n monster wat jou lewe wegsteel en dan lag daaroor. Ek het 'n paar wyse mense in my lewe gehad wat my geleer het hoe om die ding te hanteer.

Hierdie stuk is die eerste keer op Bike in Jou Taal gepubliseer ... Junie 08, 2009, 01:24:10 am


Hier is 'n paar opmerkings:

Bennie:
Mens hoor altyd van die tipe stuff en het nooit werklik begrip watter impak dit op n mens se lewe kan he nie. Colyn, dit klink baie erg en ek is bly om te hoor jy kon deur dit werk. Al wat ek kan se is sterkte.
Nog n ding....hoe gereeld tref dit mens en wat gee aanleiding dat so iets met n mens gebeur? ( Jammer oor die vrae. Probeer net beter verstaan)

Cassie:
Sjoe.........  Colyn, waar is die wyse mense heen wat jy sê jy in jou lewe geHAD het?
Ek het 3 sulke mense in my lewe, en ek is ewig dankbaar vir hulle en ek bid elke aand en sê dankie dat Ons Vader hulle in my lewe gebring het!

Colyn:
Jong ek kry dit nou deesdae nie meer so gereeld nie maar in my jonger dae was dit omtrent so elke 6 tot 8 weke. Ek dink met die grysheid kom die wysheid en ek hanteer die triggers seker maar beter.
Wat dit trigger is nie heeltemal duidelik vir my nie maar a rits serious goeters wat nie vinnig genoeg opgelos word nie is gewoonlik die begin van so insident. Een van die redes hoekom ek dit haat om a issue te laat rondhang. As daar iets is wat krap dan pak ek die bul by die horings en die mense wat my goed ken weet dis nie 'n goeie plan om by my te skinder nie.

PS ... dankie vir die "sterkte" maar ek het die stukkie nie geskryf vir simpatie nie ... ek het dit geskryf omdat ek glo dit kan iemand anders help om die "draak" te identifiseer. Om depressie te ignoreer kan tragiese gevoge hê. Ek gebruik geen medikasie nie ... het dit eenkeer gedoen in die 80's en toe hou die insident aan vir 8 dae. Sad Let wel ... ek weet ook van baie mense wat dit gladnie kan maak sonder medikasie nie en ek het nie issues daarmee nie ... vir my is dit net nie a goeie opsie nie.

Mark:
Wow Colyn jy skryf regtig baie mooi en die manier hoe jy alles beskryf is PUIK
Ek kon eintlik daai Draak in my geestes oog sien toe hy druipstert wegwaggel...

Ek dink meeste van ons kruis swaarde met daai Draak van tyd tot tyd en as die nie was vir vriende en familie nie dan so daai draak meer kere gewen het.

Een van die redes dat ek Bike ry is omdat my Bike my Prozac is.
As ek opklim en begin ry dan waai die wind al daai donker gedagtes uit my kop uit...
Party keer vat net 100km maar ander kere vat dit so 1,000km...
Dit hang net af hoe groot en sterk daai draak is ...

Colyn:
Een is al in die 80's dood en die ander een en ek het nie meer baie kontak nie. My vrou en kinders hou net eenvoudig bietjie wyd as so insident opduik en ek neem hulle gladnie kwalik daarvoor nie want dis beter vir my. Ek verkies dit om nie "vertroos" te word nie want dit sal my weerstand sekerlik verminder ... ek klim sommer net op my bike en gaan ry 'n rigting in. Die stilte in my helmet laat my toe om te fokus.

Lynnie:
Colyn, jy het 'n wonderlike gawe om alles so direk aan te spreek en te verduidelik.  Dankie dat jy dit met die forum gedeel het - dit kan net talle ander mense help.  Te veel mense wil nie hierdie dinge deel nie - maar dit is so 'n GROOT deel van so BAIE mense se lewens - en dit is hoekom dit so belangrik is om te deel.

Sterkte vorentoe

Colyn:
Yep ... ek is seker ons almal ken daai draak maar ek dink party van ons is net soms a bietjie te ligsinnig oor hom. Hy is werklik en hy is a blixem en dis beter om sy bestaan te erken en jou coping meganismes in plek te sit as om hom te ignoreer en hy vang jou onkant.

Een serious spinoff wat ek uit hierdie insidente kry is dat dit my gewoonlik los met a bruisende fontein van skeppende energie.

Miskien is die "draak" se manier om te sê ... "Welgedaan ... hier is vir jou ietsie om oor te glimlag. Sien jou weer.

Christa:
Colyn, beter as wat jy dit gestel het kan ek nie. Ek is ook 'n depresie geval. My draak het homself die eerste keer aan my voorgestel 4 maande na my dogtertjie oorlede is. Ek was totaal onkant gevang en het ongelukkig die bodem bereik en nie self kon uitkom nie. Ek het vir maande nie meer geslaap nie en my weerstand was net te laag. Ek het een oggend werk toe gery nogal met my man se Volvo en in my gedagtes al gesien hoe ek in 'n sement muur gaan vas jaag en so verlos sal wees van die draak. Selfmoord lyk op so staduim regtig na 'n goeie opsie. Toe ek weer sien, het ek voor ons Dr. se kamers gestaan. (Absoluut die Genade van ons Hemelse Vader) want ek weet tot vandag toe nie hoe ek dit reggekry het nie. En toe hy my sien, het hy my onmiddelik opgeneem vir terapie. Nou kan ek met alle eerlikheid sê ek is baie beter. Die draak wys nog vir my tande met "special" daggies, soos haar verjaarsdag en haar herdenking. Maar dis al baie baie beter.

Sterkte Colyn, en ek sê dit nie ligsinnig nie, ek weet hoe jy voel...........

Lynnie:
Colyn en Christa - julle deel sulke diep emosies met ons almal.  Dankie daarvoor. Ek is dankbaar vir julle uitpraat hieroor en vertrou dat indien iemand op die forum met julle direk daaroor wil praat dat julle dit sal verwelkom en al julle kennis en wysheid met hulle sal deel.  Ek is seker dat party mense wat daaraan lei, nie so maklik oor die situasie kan praat soos julle nie - soveel mense hou dit so privaat as moontlik.

Ek veronderstel dat depressie, net soos drank en dwelm misbruik - nooit eintlik rerig weggaan nie.  Daar is altyd die kans dat dit weer vandag, more of oormore weer te voorskyn kom?

Colyn:
Ja Lynnie dis baie waar ... mense is skaam om oor sulke goeters te praat. Ek wonder baie kere hoekom want die oomblik wat jy daaroor praat dan begin jy wen.

Ek is gelukkig geseend in die opsig dat ek nie eintlik skaam is nie en ek het a gawe om a ding sommer maklik op sy naam te noem.

Ek tog eendag my gedagtes bymekaar skraap en bietjie vir julle vertel hoe ek my kinders se seksvoorligting gedoen het ... en hoe ek my werkers van AIDS vertel het ... genoeg stof daar om sommer a army se depressie weg te dryf.

My arme vrou het mos die fout gemaak en my kom roep en vertel dis tyd dat ek die seuns bietjie inlig en toe gaan maak sy haarself ook sommer in die geselskap tuis ... wel by die tweede sin toe vat sy die hasepad.

Drank, dwelms, depressie, skilfers, atletiese voete, ingroei toonnaels en ball rash ... alles dinge wat mens mos liewer vir jouself hou maar glo my vry ... almal lekker topics om oor te gesels en oor te lag en op die einde dan is daar breë smiles all around en die issue is gladnie meer so serious as wat jy gedink het nie.

Ek sê weer ... moenie die goeters lig opneem nie ... as jy dit beleef ... KRY HULP en doen dit vinnig.

Riaan:
Colyn is dit nie amper soos n angs aanval nie

Colyn:
Jis jong Riaan ... ek is nou nie gekwalifiseerde om dit wetenskaplik te antwoord nie maar een ding is waar ... dis nie dieselfde nie. Depressie maak jou lam en tam en a angsaanval is die teenoorgestelde. DIt wen jou op dat jy naderhand voel jy slaan die limiter en dan wind jy nog so bietjie op.

Ek het so paar keer dit beleef en die ergste was in die laat 80's. Daai dag het ek besef hoe dun is die lyntjie tussen "sane" en "insane". Baie mans ervaar angsaanvalle en hulle is gewoonlik baie "casual" daaroor na die tyd. Dis nie a speelding nie. 'n Angsaanval kan as dit buite beheer raak jou vir die res van jou lewe verongeluk. Ek het a vriend gehad wat so erge aanval oorleef het en daarna het ek hom nie meer geken nie. Kompleet asof hy a persoonlikheids oorplanting gehad het.

Baie stress kan angsaanvalle trigger en as jy dit nie vinnig raaksien nie kan jy erg deurloop. Persoonlik is ek baie bang vir 'n full blown angsaanval want jy kan met permanente letsels agter gelaat word.

Volgens my ondervinding is angs aanvalle egter ook relatief maklik om te hanteer want a lekker lag en a goeie nagrus recharge jou batterye nogal vinnig.

Angsaanvalle in sy hoë intensiteit word ook soms a "stress burnout" genoem en dis die ding waarvoor veral mans moet ligloop. Ons is mos van nature mos nie lus om te erken as dinge te erg raak nie en wil maar altyd die sterkman vir die gesin, familie en werkers wees ... om te wobble is ondenkbaar.

As omstandighede jou op die pad sit van 'n angsaanval is dit goed om so vinnig moontlik iets heeltemal anders te gaan doen as waarmee jy besig is. Loop sommer uit die huis uit en duik in die swembad of gaan draf, skop a bal saam met jou kind ... enigeiets wat heeltemal weg is van dit wat jou opwen. Pasop net vir a dop want alkohol kan jou vinnig neerslagtig maak in so toestand.

Hopelik is hier iemand anders wat meer van angsaanvalle weet.