Donderdag 17 April 2014

Doodgaan ... jissim dis 'n willeding

Doodgaan, afsterf, te sterwe kom, tydelike met die ewige verwissel, laaste asem uitblaas, nie meer met ons nie, heen gegaan ... almal woorde of frases wat omtrent almal van ons al beleef, gehoor of self geuiter het. En dan is daar ook die minder vleiende lepel in die dak gesteek of emmer geskop.

Daar is ook 'n paar kru weergawes maar dis nie nou gepas nie.

In hierdie tyd van die Paasfees word daar baie na die dood verwys en die woord dood is orals om ons.

Hierdie is a lelike briekmerk vir my ... die ding lê so dik swart oor my lewenspad en gaan oor die rant.

Ek was nog baie jonk gewees toe gebeur die volgende ...

Dis laataand na ete en my ma hoor 'n kar. Sy loer deur die skrefie van die gordyn en die volgende uiter sy ...

"Dawie, die dominee is hier!"

Daar is 'n duidelike dringendheid in haar stem en my pa se geskarrel om glase en bottels van die "sideboard" af te vee tref my. Jy hoor net bottels klingel en deurtjies klap. Hierdie was 'n lelike ding. 'n Kuier van die dominee is iets wat mos lank voor die tyd beplan word en die kindertjies word mooi skoon gebad en aangetrek, kuifies plat gekam en sit kietsregop in die sitkamer en wag.

Maar vanaand is dit nie so nie. Pa pak weg en ma loop ons by met 'n nat waslap, gesigte word gepoets en hare word platgevee en toe klop hy aan die deur.

"Naand Dominee" groet my pa ... net hard genoeg sodat my ma kan hoor maar sag genoeg dat die bure nie hoor nie. Kyk so onverwagte besoek van die dominee is nie 'n goeie ding nie en dit stuur rillings teen ruggrate af.

"Naand Broer ... mag ek maar in kom ?"

Nou kyk, daar is nie 'n manier waarop my pa ooit sou dink om "Nee" te sê nie en hy nooi die dominee binne maar sy oë soek my ma s'n. Albei is erg senuweeagtig maar doen hulle bes om dit te verbloem. Kyk daai jare was die dominee 'n vername man en sy ongenooide teenwoordigheid by iemand se huis het gewoonlik gedui op een of ander kakspul.

Dominee groet almal vriendelik ek wonder hoekom krap hy my hare nou weer deurmekaar. Maar hy is dudielik nie hier om met kinders te gesels nie.

"Ek was hier by oom Hendrik op die plaas ... tante het vroegdag laat weet sy dink ek moet kom om die doodsbegeleiding te doen. Jy weet mos, oom Hendrik het lank gely. Dit was 'n taai stryd vir my en toe ek wegry toe dink ek dat ek nie nou wil huistoe gaan nie en besluit toe om maar hier by julle 'n teetjie te kom vat."

Met die verligting duidelik op my ma se gesig boender sy ons kamer toe en pa kry die dominee gemaklik in 'n stoel.

Die res van die gesprek en gekuier weet ek nie veel van nie maar daardie woord ... doodsbegeleiding ... daai woord het in my kop vasgesteek. Soos die jare verbygegaan het het ek gedeeltes van dit begin verstaan en ek het ook van dit in aksie gesien in een of ander vorm. Maar vir my, vir my bly dit iets tergends.

Die kort opsomming sou sekerlik tog wees om iemand by te staan wat op sterwe lê ... en in baie gevalle is dit sekerlik so maar die woord gool by my.

Ek glo diep in my binneste dat die heelal ons 'n waarskuwing gee dat dit nou die einde is. Ek sê so omdat ek al baie gesien het hoe mense daar op die laastse bykans gedaante verwissel. Dis asof alle dringendheid die wyk neem uit hulle lewens uit en hulle sweef maar net op die oomblik ... so asof hulle die stasie bereik het en nou wag hulle vir die trein.

Die nag in ...
Party mense vertoef nogal lank hier op die stasie en ander blits daar deur. Die ding wat ek oor wonder is wat is die regte gedrag as jy so reisiger dan sou kom afsien by hierdie stasie.

Is dit die tyd om te kla en te ween en histeries aan die huil te gaan ?

Ek sou dit nie so wou hê nie.

Ek was nog net een keer in my lewe by so stasie en toe was ek baie klein. Dit was my oupa en ek kan onthou hoe die familie op die plaas saamgetrek het en elkeen het 'n beurt gekry om vir oupa te gaan groet. Teen laat middag het daar 'n oom op die stoep verskyn ...

"Kan ons asseblief almal so oomblik van stilte handhaaf ... oom Gideon is nie meer met ons nie."

Nieteenstaande die versoek vir stilte het daar 'n kakspul losgebars ... huilende mense en strakgesig mans. En vir ons kinders was daar min te doen behalwe om maar die grootmense na te aap. Ek kan my pa se gesig nog onthou, strak en gespanne maar daar was trane in sy oë ... my ma het vreeslik gehuil want dit was haar pa wat heengegaan het.

Nouja daai dag het ek baie dinge gesien en ervaar maar ek het een ding baie mooi geweet ... hierdie stasie is nie die plek waar ek wil kuier nie.

My hele lewe lank vermy ek die stasie met alles wat ek in my het. Ek kan dit gladnie hanteer nie. Alhoewel ek redelik bekend is vir my hardegatheid en onverskrokke geaardheid is hierdie stasie nie 'n plek vir my nie. Ek hou van stories skryf en leef baie in my kop. Ek leef my so in karakters in dat ek self die karakter word en dis hier waar die dinge vir my skeefloop.

Ek gaan nie na publieke fliekteaters toe nie want ek maak 'n gat van myself in die openbaar. Ek kyk nie sommer ernstige goed op die TV in vreemdes se geselskap nie want sonder dat ek dit kan verhelp loop die mense se lief en leed oor my wange.

Begrafnisse ... o hemel ... dis 'n ding wat ek sleg hanteer. Deesdae gaan ek in so staat van outomatisme in en as ek nou regtig nie meer kan nie dan loop ek sommer net weg in 'n rigting in.

Ek moes al 'n paar van my honde so na die stasie toe vat en ek moes van hulle al so sit en vashou en dan uiteindelik self op die trein laai ... neewat ... daai ding donner my op. Dit bliksem my siel vol duike en verwoes my binneste.

So nou wonder ek, as jy dan iemand op die stasie moet gaan afsien ... hoe moet jy optree?

Ek dink nie dis goed om te staan en emosineel uitmekaar te moer nie want kyk, die persoon staan en wag vir 'n trein wat nie een van ons weet hoe wild of woes die rit gaan wees nie. Moet jy huilerig wees of vrolik ... of net baie kalm en bedaard ?

Ek het nie die antwoord nie ... maar ek sou nie graag op daai stasie omring wil wees van 'n klomp huilende mense nie ... dit gaan my mos lelik opvoeter. Aan die anderkant glo ek ook dat die natuur vir ons sorg. Daar net voor die trein aankom dink ek nie ons weet meer mooi wat gaan om ons aan nie.

Ai tog ... ek het regtig vir die een nie 'n antwoord nie maar ek dink ons moet maar elkeen seker mooi dink oor wat ons gaan doen en dan probeer om te onthou dat die reisiger op die drumpel staan en dalk net jou hand sou wou vashou.

Groetnis ... ek stop nou want nou sukkel ek.