Woensdag 10 September 2014

Respek, dit is die Anker

Vandag se Briekmerk lê na aan my siel ... miskien heeltemkal te naby.

Elke gesin op hierdie aarde het maar sy innerlike storms en gereelde oorloggies wat gevoer word. Dis natuurlik want ons as mense is van nature geneig om grense te toets. Dit was nog altyd my opinie gewees dat respek vorm die fondasie van enige verhouding en daarsonder is geen verhouding veilig nie.

Vandat ek kan onthou is die beginsel en begrip van respek in my ingetimmer en menig maal ingemoer want my ouers het geglo dat respek betoon moet word en het gladnie die moderne pot stront ondersteun van "Respek moet Verdien word" nie.

So ek is geleer om mense en goed te respekteer, ongegag van die ander party se optrede. Dis waar die ding vandaan kom van my generasie om mense as OOM en TANNIE aan te spreek.

Moderne siening is mos dat dit 'n ONDING is en dat respek VERDIEN moet word. Die profete van die opinie het lang stories daaroor ... my opinie oor die profete se stories ... julle MOERE man !

As mens die beginsel sou toepas dan beteken dit dat jy elke mens waarmee jy te doen kry aanvanklik soos 'n boef hanteer totdat die persoon jou respek VERDIEN het ... jissim, is die mense gestremd !

Dit is hierdie versteurde idee wat veroorsaak dat jongmense ouer mense as jy en jou aanspreek, sommer op hulle name noem en geen respek betoon nie ... want die ongemanierde etters is mos van die siening dat hulle respek VERDIEN moet word ... wel ek het nuus vir julle ... julle gaan julle rieme nog lelik styf loop. Die ouer mense wat onderwerp word aan die blatante ongemanierdheid verdra julle onsinnigheid omdat hulle selfrespek het maar moenie vir een oomblik dink dat hulle dink julle is "cool" nie.


My lewe word primer bestuur en beheer deur respek. Dis respek wat my vehoed om mense summier te vloek of af te maak as minderwaardig. Dis respek wat verhoed dat ek aan goeters vat of vir myself neem as dit nie myne is nie.

Dis respek wat my eerder laat luister in 'n geselskap as om te praat.

Dis respek wat verhoed dat ek my vrou se handsak oopmaak of op haar selfoon rondblaai. Dis respek wat my verhoed om in my kinders se kaste te krap en op hulle rekenaars rond te kyk.

Dis respek wat maak dat ek vir alles dankie sê en asseblief gebruik as ek vra.

My kinders is nou groot en dis respek wat my verhoed om in hulle lewens en verhoudings rond te krap.

Maar respek is 'n tweerigting straat ... as ek jou en jou omstandighede respekteer dan verwag ek dat jy dieselfde sal doen. As jy dit nie doen nie is dit selfrespek wat maak dat ek niks met jou te doen wil hê nie. Ek gaan nie op jou vloek en skel en van jou skinder nie ... nee, ek gaan net eenvoudig niks met jou te doen hê nie en ek sal my bes doen om enige kontak met jou te vermy.

As ek vir jou a selfoon boodskappie stuur met 'n GROET in dan verwag ek nie dat jy nou in 'n gesprek betrokke gaan raak nie ... nee, al wat jy hoef te doen is om ontvangs te erken ... dis respek ... maar om niks te doen nie ... dit is disrespekvol. Spoedig sal ek nie meer groetnis stuur nie, hoekom moet ek jou laat weet ek dink aan jou as jy te besig is om net te groet. Uit respek vir jou keuse sal ek ophou om jou te pla.

Sosiale media het een regtig slegte ding laat posvat. En dit is die gebrek aan respek vir mekaar. Gesprekke word nie afgesluit nie, nee, een persoon hou net eenvoudig op om te pos ... wat sal dit nou van jou vat om net eenvoudig af te sluit met, "Ok dankie" of "Ek moet nou gaan" ... dink daaroor ... jy gaan mos nie by iemand in sy huis kuier en dan sonder 'n woord staan jy net op en loop nie. Of jy staan mos nie in 'n geselskap en terwyl iemand nog met jou praat draai jy om en loop nie ... as jy dit doen is jy sekerlik ongemanierd ! ... Nou hoekom doen jy dit op Facebook of in WhatsApp ?

Ek kan lank aangaan maar uit respek vir jou tyd gaan ek nou hier stop met die woorde ...

Dink mooi oor hoe jy met mense omgaan ... jou optrede en uitlatings sê baie van jou.

Groetnis.