Sondag 02 Januarie 2011

Oortuig, begeestered of bloot 'n massa meelopery ?



Oorspronlik gepubliseer op Bike in jou Taal - 30 November 2010 - Lees gerus die kommentaar daar.

Die laaste tyd sien ek orals in die media en op die web hierdie angstige oproepe vir ondersteuning en massas van mense val in lyn om een of ander self verklaarde missie te ondersteun. Dan wonder ek ... weet hulle regtig wat hulle ondersteun, wat hulle aanmoedig en wat die werklike feite agter die saak is.

Neewat ... in die meeste gevalle dink ek is dit maar net 'n kwessie van "Monkey see, monkey do."

Kom ons begin met die Cougar storie ... ai tog ... as die term nie in die VSA ontstaan het nie maar hier by ons ... wat sou dit gewees het ...

Verseker nie Leeu nie want die woord Leeu is heeltemal te mannerig. Dit sou ook nie Luiperd gewees het nie want 'n luiperd is welbekend daarvoor dat hy 'n ernstige alleenloper is. Jagluiperd ook nie want die jagluiperd is heeltemal te tingerig om 'n sterk term soos die "honger" vrouens te omskryf.

In ons omgewing is Spinnekop seker maar die enigste goeie beskrywing want dis welbekend dat spinnekop wyfies die mannetjies net vir een ding gebruik.

Nou kom ons terug na die punt toe ... die skynbaar gekweste ou Blou Kalfie kerm en huil oor die wrede Spinnekop wat hom nou dan so erg sou kasty het en duisende stemme gaan op ...

"Brand die heks op die brandstapel."

Kyk ek is 'n man en het 'n redelike gespikkelde verlede as dit by die vroue geslag kom. Een ding is verseker ... die bulletjies van so 20 to 25 jaar spyker enige ding met bene behalwe meubels en verder is hulle gladnie skaam om te pronk met hulle suksesse nie.

Probleem kom as die bulletjie sy visier op 'n ervare Spinnekop sit. Skielik is hy 'n kalfie want die Spinnekop laat nie met haar speel nie, sy weet presies wat sy wil hê en sy weet ook presies hoe om dit te kry. Ons kalfie word net genoeg spasie gegee dat hy bly dink hy is in beheer maar in werklikheid is hy vasgevang in haar web. Sy toor met sy hormoon bestookte koppie en Kalfie is meesal niks meer as Vibrator op Auto Pilot nie. Hy dink hy is die man maar dis nou maar eenmaal nie die geval nie ... sy belustige brein sien net een ding en sy bestaan word verswelg deur die veelpotige meesteres wat hom presies neersit waar hy die meeste waarde vir haar het.

In die kortstondige momente wat hy buite die onmiddelike beheer zone van die Spinnekop is dan pronk hy soos 'n wafferse Aberdeen Angus Stoetbul tussen sy maters en hulle word vergas op sy relaas van sy oorwinnings in die katel. Ai maar dis vêr van die werklikheid af. Hy is nie a slagoffer nie, nee hy is gewillige deelnemer. Sy probleem is dat hy nie kan dink nie en die Spinnekop is heeltyd besig om te dink.

Dan kom die dag wat die Spinnekop moeg is vir sy gekerm en sy sny hom los en gaan uit op die jag. Kalfie is nou die gekweste bok in sy onmiddelike ondersteunings groep en skielik begin hy verhale van misbruik en betasting opdis sodat hy simpatie kan kry.

Nou dis presies hier waar ons as die massas in sy web ingepluk kan word. My voorstel is dit ... kyk na sy gekneusde ego en nie na sy masjien geweer uitsprake nie. Hy braak meesal gal en sal sonder om 'n oog te knip terug spring in daai web in as sy hom sou naderwink.

**********************************

Nog 'n emosionele ding wat in die nuus is, die ding oor geblikte leeus. Ai ... ja dis moer verkeerd om 'n wyfie teskiet dat die kleintjies van haar spene afspat en ek kan en sal dit nooit goedpraat nie. Ek is ook gladnie gemaklik met die idiote wat 10 of meer skote moet aftrek om a leeu onder te kry nie. Maar dat leeu teel 'n besigheid is, wel dis waar. 'n GROOT besigheid.

In een artikel kerm die wetenskaplikes dat Leeus binne 20 jaar uigeroei kan wees in Afrika ... hoofsaaklik omdat hulle gejag word. Aaan die anderkant wil die meelopers 'n industrie wat leeus bou spesifiek vir jag, toemaak. Nou waar is die logika ... die geblikte leeus voorsien in 'n spesifieke vraag en dit haal druk van die "bedreigdes" in die natuur af.

Leeu bene word gemaal en behaal 30$ tot 35$ op die mark. Nou beskyt die massas hulself omdat 'n boer sy leeus slag, die velle verkoop, die vleis in die troeteldier kos industrie insit en die bene maal en verkoop. Hoe de moer is dit anders as die ou wat mooi skoon gesig kalfies grootmaak en dan slagpale toe stuur.

Neewat jong die verdomde Groen Terroriste sweep mense se emosies op maar die blixems het nooit enige konkrete alternatiewe nie. Hulle skreeu oor die "cull" van olifante maar hulle het nie 'n antwoord vir die feit dat oorbevolking van olifante besig is om duisende ander diere se voortbestaan te bedreig nie.

Ek kry die e-posse wat my opsweep om "STOP DIE OLIFANT MARTELING" groep te ondersteun en as ek daar gaan kyk dan sien ek dieselfde retoriek wat ek op die "STOP DIE KLEIN KATJIE MOORDE" en "BRAND DIE HEKSE OP BLOEKOMPALE" werwe sien en baie van die mense is dieselfde.

Op hierdie Dinsdag sê ek ...

"Julle moere man ... versorg julle eie gesinne mooi, kyk na jou bydrae tot die wêreld se koolstof probleem en hou op om vir my te kom dink."

Lekker dag vir julle ook ...

Goeie maniere of wat ...

Vandag se briek merke lê soos die slymstrepe van 'n slakspoor oor my siel. Elkeen van ons het mos sy eie spesiale ou dingetjies waarvan jy hou of goetertjies wat belangrik is vir jou. Oor die wyd uiteenlopende persoonlike onaardighede van mense kan ons boeke vol skryf maar ek wil net op so paar van hulle fokus.

Die hele ding begin gewoonlik vir my sodra familie kom kuier. Nouja ek is in 'n sekere mate maar 'n eksentrieke ou blixem en ek het vasgestelde roetines wat baie belangrik is vir my. Weet jy wat ... dis nie eintlik roetines nie maar in werklikheid meer rituele. As enige van hulle versteur word dan raak ek skuins bedonderd en erg iesegrimmig.

Neem byvoorbeeld my opstaan dinge in die oggend. Eerstens is dit 'n doodskoot vir my siel as ek wakker geraas word ... nee jong, ek het nodig om stadig uit die koma uit te dryf en dan in byna volslae stilte stadig my lyf te laat aktiveer. Ek sit so vir a minuut of wat op die kant van die bed en wag dat my oë net gefokus kry. Dan trek ek 'n hemp ding aan en kies koers kombuis toe ... so langs die pad draai ek af by die badkamer, my badkamer ... hieroor later meer, en dan die kombuis. In volslae stilte staar ek deur die venster terwyl ek wag dat die water kook en dis met byna ergerlikheid wat ek kort kort na die ketel loer om te sien hoekom sloer die ding so. Hierdie eerste koffie is noodsaaklik want ek is 'n roker en in die oggend voel en proe dit mos of daar 'n slagpale in jou mond is.

Met volslae oorgawe vat ek die eerste slurp van die warm bruin voggies en spoel elke hoekie uit voor ek dit insluk. Die koffie het omtrent dieselfde effek op my sisteem as wat nitros op 'n engine het en ek stap doelgerig na my studeerkamer toe. Hier trek ek die blindings op en maak die venster oop. Die vars lug sit nog so bietjie woema in my lyf en ek steek my eerste skyf op ... met volslae bewondering kyk ek hoe die blou rookwalm krul en draai en koers kies ... nog 'n trek en my lyf is op volspoed. Nou is ek wakker. Nog 'n sigaret en dan die tweede koppie koffie. Nog 'n sigaret en dan is dit weer sulke tyd vir my ingewande ... nou is dit koers kies terug badkamer toe.

Wel na die hele ritueel is ek ordentlik wakker en reg vir die dag ... 'n dag wat gewoonlik so tussen sestien en agtien ure lank gaan wees. Teen hierdie tyd begin die mense in ons kantore oral oor oplog op MSN en kort voor lank is ek nekdiep in dit wat ek moet doen. Soms sal dit omtrent vyf ure wees voordat ek weer uit my stoel uit opstaan. Nouja dit is die hele rede hoekom ek ordentlik moet opstart in die oggend ... versteur een van die rituele en my dag is sommer dadelik omgekrap.

My dae bestaan hoofsaaklik net uit werk uit en terwille van my "sanity" het ek so paar spesifieke TV programme wat ek kyk en ek kyk dit omdat dit deel vorm van my oorkoepelende "stress mangement" regime. Soos wat die Grotman ook dan inderdaad verduidelik het ... ek kyk nie TV nie ... nee my maat ek WORD die TV. Ek wil nie 'n gepraat hê as ek kyk nie en as daar mense is wat gesels dan staan ek liewer op en gaan sit in my studeerkamer en hou my besig met dit wat ek moet doen. Ek haat dit om te probeer luister na 'n TV program met 'n geklets tussen in. Hierdie kletsers ... vir wat staan hulle nie op en gaan klets weg van die TV af nie. As ek gaste kry terwyl daar iets is wat ek wil kyk op die TV dan neem ek dit op en sit die TV af. Dan kuier ek met my gaste.

Maar nou as daar 'n ding is wat my moer lelik kan koer dan is dit die volgende scenario ... ek hou van 'n sekere program op a spesifieke tyd van die week en dit is so gemerk in my "mental" dagboek. Op die minuut staan ek op in my studeerkamer en gaan sit voor die TV, feitlik op die klok as my PVR oorskakel na my program toe. Lekker ... NEE ... nie lekker nie want nou reken 'n kuiergas mos dat hulle sou dan nou so bitter graag 'n spesifieke program wil kyk want hulle volg dit getrou vir die afgelope 19 jaar en kan eenvoudig dit net nie mis nie. Vir 'n moment voel ek hoe my bloeddruk styg en dan teem hulle weer ...

"ASSEBLIEF TOE ... vannaand gaan Jannie sekerlik wen en ek kan dit nie mis nie."

'n Streng opvoeding en 'n ma wat sosiale etiket in my ingemoer het laat my nou instinktief optree. Met so botox uitdrukking op my gesig skraap ek myself op van my stoel af, skakel die kanaal oor na die versoekte program toe en stap na my studeerkamer toe. My brein werk oortyd om die sisteem te herprogrameer en ek vang so blou skerm of twee. Na 'n lang trek aan 'n Camel voel ek hoe ek reboot. Stadig flits die icons verby en uiteindelik lê die desktop weer voor my. Dit neem my so paar minute om te reboot en dan gaan ek maar weer aan ... moerig maar ek gaan aan.

Wat is dit wat gaste laat aanvaar dat hulle wense die hoogste prioriteit moet dra ?

Die blote feit dat hulle gaste is ?

Wel ek dink nie so nie. As ek 'n gas is in iemand anders se huis dan maak ek baie seker dat ek nie die gasheer meer verontrief as wat nodig is nie. Ek eet wat opgedien word, drink wat aangebied word of sê baie beskaafd nee dankie. Ek maak die badkamer ordentlik aan die kant as ek daar in was en maak seker dat niks van my eiendom rondlê nie. Alles dinge wat my ma in my ingedril het van baie klein af.

Kom ons stap nou so bietjie terug op die pad ... die badkamer. Jissim, ek is a helse puntenerige mens as dit by badkamers kom en dit is ook iets wat my ma in my ingedril, ingepreek en ingewetter het. Dit is so deel van my dat ek en my vrou gladnie dieselfde badkamer deel nie. Kyk laat ek dit net dadelik duidelik stel ... dis nou nie dat sy slordig in die badkamer is nie maar ek en haar idee van hoe 'n badkamer moet werk verskil. In die begin het ek geskimp, later verduidelik, toe baklei en toe een geoie oggend toe ek weer die tandepaste oop op die wasbak se rand sien lê toe besluit ek ... hier is ek uit of my siel gaan hel toe. Sonder seremonie het ek my ses toilet items tussen die twaalfduisend sewe honderd en veertien botteltjies, borseltjies en buisies uitgepik en getrek na die gaste badkamer toe. Dit was vyftien jaar gelede en ek het vrede in my siel en sy is gelukkig in haar badkamer.

Nouja die skuif het my siel gered maar nou kom die stront as ons kuiergaste kry en hulle moet meer as een kamer gebruik. Dan word my badkamer mos nou natuurlik nie meer my badkamer nie en ek voel soos 'n skoot hondjie wat langs die pad afgelaai word en die eienaars ry weg. My hele sisteem is nou in sy moer in. Ek staan op en kies koers kombuis toe ... heeltemal op auto pilot ... en as ek links wil afdraai dan verstar my gesig ... die deur is toe ... net betyds onthou ek die gaste en maak a blitsvinnige u-turn want nou moet ek blitsig ander plek gaan soek. Daar breek die eerste speek in die wiel.

Na die ompad en alternatiewe rusplekkie vat ek weer die pad kombuis toe ... my brein is franties besig om te re-route en dinge is meesal baie vaag om my. O hel ... tweede speek in sy glorie in as ek om die hoek van die gang kom ... die mense in die kombuis staar na my asof ek 'n spook is ... wel waarheid is dat ek seker 'n "sight for sore eyes" is ... ongeskeer, hare windskeef geslaap, slaapbroek en 'n hemp wat net so een of twee knope vas het.

Weer gooi ek brieke uit en u-turn terug kamer toe. By hierdie tyd is omtrent alles in my in chaos en met gedempte swetse klap ek die kamerdeur agter my toe en ek staan vir 'n oomblik en probeer re-boot.

"Fokkit !"

Ek gaan in my vrou se badkamer in, was my gesig en kam my hare en gaan trek my ordentlik aan. Dit vat so tien minute. Intussen het sy darem besef dat die ou ballie nou nie so lekker is nie en terwyl ek my belt vastrek loer sy by 'n skrefie van die deur in.

"Jou koffie is op jou lessenaar."

Dis al en sy verdwyn terug kombuis toe deeglik bewus van die feit dat "knormoer" nou die enigste benaming is vir my. My dilemma is nou dat ek moet nou by daai deur uit en vriendelik mense groet en vol smiles wees ... dêmit ... ek is verseker nie 'n oggend mens nie.

My dag is nou in sy moer in en ek weet ook uit ondervinding dat daar kort kort iemand in my studeerkamer gaan inloop en lospraatjies kom maak. Hulle gaan aan die goeters op my lessenaar en in my boekrakke vat en vroetel en hulle vingers orals indruk en met my goeterjies peuter. My hele opstart roetine is omvergewerp en ek is knorrig.

Wel ek skryf die dinge vannaand want dis tog so maklik om dit anders te laat verloop ... net so bietjie respek, so bietjie konsiderasie en dinge kan beide kante toe bietjie swenk en almal kan oor die weg kom.

Ek is my ma ewig dankbaar dat sy my goeie maniere geleer het. Sy het my die waarde van respek geleer en sy het seker gemaak ek is toegerus vir 'n lewe van ko-habitasie.

Blêddie jammer almal het nie so ma gehad nie.

Ek is seker elkeen wat hier lees sal met een of meer van die dinge kan indentifiseer. Lag oor dit wat snaaks is en frons oor dit wat jou ongemaklik laat voel maar moenie die waarde van goeie manier ooit onderskat nie. Goeie maniere sluit gewoonlik respek in en respek maak dat ons onselfsugtig optree.

Ek gee my TV program prys en dit sonder a geveg ... of 'n dankie ... dit sou mos beter gewees het as die gas die volgende gedoen het.

"Jong ek kyk graag na dit of dat op kanaal so of so op 'n Vrydagaand. Ek sien jy kyk dit nie. Kan jy dit miskien vir my opneem op jou PVR en dan kan ek dit bietjie later kyk."

Hoe op dees aarde kan ek so versoek weier ... kanse is goed dat ek self sal aanbied om my program op te neem en later te kyk. Maar nee die GAS is mos koning en moet sy sin kry.

Die badkamer ding kan ook beter hanteer word maar my sisteem kry sommer a "tank-slapper" as ek my tandepaste op die wasbak sien lê en my badkamer kassie se deur staan oop. Die goeters is dinge wat met respek behandel moet word.

Ek het 'n vriend wat so wan en dan hier by ons oorslaap as hy in die Laeveld werk. Hy is altyd bedagsaam en werklik 'n plesier om aan huis te hê. In die oggend staan hy vroeg op en sonder gedruis of gedreun gaan maak hy vir hom koffie en sit in my lapa of op my stoep of by my koi-damme en gee my tyd om wakker te word. Ek dink hy het ook so ma soos myne gehad.

Ek gaan nou nie verder karring nie ... dink maar aan die storie en probeer dink hoe maklik dit is om dinge anders te doen.

******************************************************************


Kommentaar wat oorspronlik op Bike in jou Taal gepos is  ... dis waar die Briekmerk oorspronklik eerste gepubliseer was.

Christa:
Ai Colyn, ek voel saam met jou, ek is mal oor kuier, maar moenie in my privaat spasietjie kom aanjaag nie. Ek belowe jou dan is ek sommer vinnig opgeruk. Ek het oor die algemeen 'n ding met badkamers. Maak nie saak waar ons kuier of stop vir 'n "body-break" nie. As die badkamer nie vir my skoon lyk nie, sal ek knyp en knyp tot ek by 'n skoon badkamer uitkom. As ons gaan kamp, wil ek eerste weet hoe die badkamers lyk. Die res is 'n bysaak, maar die badkamers moet ordentlik wees. Ai ons en ons dingetjies, of eerder, ons en ons opvoeding. Maar ek is nie 'n dag spyt oor my opvoeding nie. Lief my ouers baie.

Strawbs:
Shame Colyn.....ek voel vir jou!!!
Met kuier gaste is ons maar altyd uitgesit...maar hopelik is dit nooit vir te lank nie...
n mens is maar n mens en ons het almal maar ons dingetjies....(rituele soos jy gese het) en hopelik respekteer ander dit!
Sterkte vir jou!!!

Mudbugger:
Hier by ons vreet die muskiete jou in die somer op en suip jou uit ...
en die familie in die winter.

Cassie:
Colyn, dankie vir jou storie....... ek is PRESIES, PRESIES, PRESIES soos jy!!!!!!!!!

(Behalwe dat ek nie rook nie.........)

Maar my rituele, gewoontes, maniere, etc is ook baie belangrik vir my. En sodra iemand dit kom indring of opneuk, is my Aries humeur op sy ergste!!!!  Azn

Dan is ek nog 'n perfeksionis ook! Ek's jammer, maar ek kan nie en sal NOOIT laid back wees nie!!!!

Daar is geen 'grys areas' in my lewe of doen en late nie......... dis of reg of weg!

Gofast:
Ek stem veral saam met die TV ding. As gaste in my huis inkom en wil kyk wat hulle kyk maak dit my kook, maar ek laat dit maar toe, want ek het ook so ma. As ek in iemand se huis bly, dan kyk ek net TV wanneer hulle kyk, en ek kyk wat hulle kyk. Dis mos nie my TV nie!

Ek se so: As jy in iemand se huis bly as 'n gas, val jy in by hulle roetines/rituele. Ek slaap nooit laat as ek by iemand bly nie. My ma het my geleer dit is swak maniere. Ek eet wat hulle vir my gee sonder om te kla. Ek stort eers wanneer die mense wie se huis dit is almal klaar is. Ek vra eers voor ek iets uit die yskas kry. En nooit, NOOIT maak ek hulle huis deurmekaar nie. Ek maak agter my skoon!

Dis maar hoe ek groot gemaak is, en ek dink dit is die regte manier.

Lynnie:
Ja nee kyk Colyn - ek stem 1000% met jou saam.  Ek is seker dat my familie my as 'n heks beskou met dinge in ons huis - maar as ek nie op sekere dinge aandring nie sal alles 'n totale gemors wees.  Afgesien van goeie maniere, ordentlikheid, bedagsaamhied, netjies- en skoonheid - hoekom kan van ons die regkry en regdoen - en die meederheid dit nooit toepas nie.

My groot wapen-woord in my huis is BEDAGSAAMHEID.  En dit geld nie net vir my familie nie - maar vir my vriende/vriendinne en gaste/kuiermense.  Omdat ons vreeslike sosiale mense is - en baie keer weggaan met groepe mense - en baie gaste by ons kom aanbly - maak ek altyd op 'n baie mooi manier seker dat mense die huisreels ken waar ons ookal gaan - en my kinders moet ook seker maak dat hulle ons huisreels met hulle vriende deel.
As jy my kinders moet vra wat ons huisreels is kan hulle 'n hele streep opnoem - dit is nie nodig om dit aan deure/mure te vertoon nie - hulle moet dit ken - en dit toepas waar hulle ookal gaan.  Huisreels, wat met almal gedeel word, verhoed baie onnodige en onplesierige situasies.

Maar aai, oor die algemeen pak mense hulle onbedagsaamheid saam in hulle vakansie/weggaan tassies en pak dit uit en gebruik dit in jou huis. Wanneer dit gebeur, maak ek seker dat ek in volle beheer is met my emosies - en ek deel met die situasie of 'n baie kalm en mooi manier

Ja kyk, ek glo dat ons almal al hierdie situasies beleef het - of sal nog ook. Poefies gebeur - dit is maar deel van die lewe. Maar hoe ons dit hanteer is ook veel meer belangriker.

Nou sal jy ook kan verstaan waar my "fairy fantasy" vandaan kom.  Almal wat my goed ken weet ek is die "wishful fairy" want elke keer as huisreels bespreek word is my algemene gesegde :  Daar is geen "fairies" wat in my huis woon nie - so moenie dink dat 'n "fairy" hier 'n draai kom maak met haar "magic wand" nie.  Dit is hoekom ek van "fairy" dinge hou - miskien as ek "fairy" goedjies rond dra sal ek hulle eendag ontmoet met hulle "magic wands"

WWD:
Jip, ek voel dieselfde!!  Ek is nie lief vir gaste nie, al is dit familie.  Die vriende ding het ek ook al beleef, en besluit dis nie vir my nie.  In elkgeval, ek het my kids, hulle is my familie en vriende, dis al wat ek nodig het, en 'n mens is meer geneig om buigsamer met hulle te wees, maat 'n tandepaste proppie wat nie opgedraai is na gebruik nie, dit kan nogal wild krap, dan het ek sommer sand tussen my tanne vir die res van die dag!!
Maar nou ja, ek bepaal die uitloop van my eie dag.  Ek kan loop en sand kou of sug en die proppie opsit, bietjie wag dat die ergste ontsteltenis bedaar en met 'n sagte houding vra om nie die proppie te vergeet nie.  Alles uitgesort ...... vir drie weke ... en wat wag dan vir my .... die proppie!!  Dan is ek nou maar bevrees, hulle krap my met 'n eierspaan van die mure af .... DAN is dit uitgesort!!
Maak nie saak watter kant to nie, jy bepaal maar jou eie dag, vat hom ma soos hy kom en ry hom uit.  Swim with the wave, don't fight it ... you'll drown