Maandag 19 Oktober 2015

Dave Nicolas - Dawid Nicholas Swart

Hierdie is nie vir my 'n maklike briekmerk om te skryf nie want dit gaan oor 'n man wat ek nie regtig goed geken het nie. Dit gaan oor 'n man wat 'n lewe geleef het wat baie min van ons werklik verstaan het, maar ek moet die storie skryf want elke mens verdien dit om sy storie na te laat vir ander om te lees. Sommige van ons is gelukkig en skryf groot dele van ons storie self ... sommiges het goed opgeleide mense wat hulle storie skryf maar daar is ook baie wat heengaan en niemand skryf sy storie nie ... dit is is vir my nie reg nie want elke mens het 'n storie.

Nico
Dawid Nicholas Swart is wat die dominee gesê het die dag toe hy gedoop is maar die mense het hom as Nico geken. So het sy ouers, suster en broer hom geken, Nico en so het ek hom genoem. Ek het hom in die middel sewentigs ontmoet en van die begin af was dit vir my duidelik dat min van ons mense die deuntjie hoor wat in sy kop draal. Hierdie man se "Drummerboy" het 'n pas uitgeklop wat weinig kon hoor. En dit is wat hom merkwaardig gemaak het ... hy het na die ritme geluister en sy pas daarmee gereël ... nooit het hy na 'n ander se "Drummerboy" geluister nie, net na sy eie een.

Ek is vertel dat sy geboorte 'n helse storie was en die kraamproses het oor 'n baie lang tyd gestrek. Miskien was dit reeds 'n teken ... asof hy nie gebore wou wees nie. Sy kinderlewe was redelik normaal en hy het met twee sussies en 'n boetie groot geword. Maar omdat hy na sy eie "Drummerboy" geluister het was sy jeugjare deurspek met konflik. Ek gaan dit sommer noem wat dit is, hy was hardegat en het homself nie maklik aan displine onderwerp nie. Tussen alles deur was daar een ding wat hy met hartstog begeer het ... hy wou 'n loots word. So kom dit dan dat hy lugmag toe is met groot verwagtinge ... groot was die terleurstelling toe hy nie die keuringsproses slaag nie ... hoekom, dit weet ek nie maar daarvandaan het die man net eenvoudig weggedryf na die rante van die lewe toe.

Hy is uit die Lugmag uit en het in die wêreld in verdwyn ... niemand weet regtig wat hy alles gedoen het nie want hy het nie sy familie gereeld gekontak nie. Ons weet brokkies van sy bestaan, kitaarspeler in Hillbrow, dan hoor ons hy is iewers op die platteland en so het dit maar gegaan ... weinig nuus van hom. Ja dis reg ... hy het kitaar gespeel vir 'n lewe.

Toe ek my vrou leer ken het, het ek heelwat stories oor Nico gehoor maar nooit regtig 'n hele storie nie, altyd net sulke brokkies. En toe op 'n dag in die middel sewentigs slaan die man daar uit op die plaas. Nie baie verduidelikings nie en nie baie stories nie ... skielik was hy net daar. My skoonpa was werklik verward ... hierdie was sy kind, sy eersgeborene maar ek kon sien hy het nie regtig geweet hoe om met die man te kommunikeer nie. My skoonma, wel sy was geskok, bedroef en gebelgd maar het nie veel verder gesê nie. My vrou was erg oor hom en daar was altyd 'n spesiale band tussen hulle twee. Sy ander suster en hy het selde om dieselfde vuur gesit en sy jong boetie ... wel die generasie gaping was net te groot.

Vir my was hy 'n aangename ou in die tye wat ek regtig met hom kon gesels maar daai "Drummerboy" van hom se tune was nie vir my maklik om te vang nie en ek het hom maar so raap en skraap behandel. Vir 'n tyd het hy daar op die plaas rondgehang en dit was vir my opvallend dat hy nie ingeval het en sy pa begn help het met die boerdery nie ... nee hy was maar altyd daar eenkant op sy eie. En hy bou toe 'n hanglider ... dit was nou vir jou 'n ding ... na 'n moerse stryd oorreed hy my om hom op te trek met die bakkie ... wel hy het opgestyg en toe duik hy ... kop eerste in daai rooi Brits grond in. Ek het gedog hy is dood maar wonder bo wonder maak hy homself bymekaar en wriemel onder die rooi sooie uit ... skud sy kop so tweekeer en toe wil hy weer vlieg.

Voordat ek nog verder kon verduidelik hoekom dit waansin is toe hoor ek my skoonma se gegil ... ja dit was 'n gegil ... en ek kon sommer hoor dat hier kom nou 'n ding!

Wel sy het 'n oproep ontvang en dit was 'n meisie ... en sy vertel toe dat sy getroud is met 'n ene Dave Nicolas en dat sy pas 'n baba gehad het. Goeie genade ... elkeen kan seker nou maar self dink aan die manewales en histerie wat op daai plaas losgebars het ... sover ek kon onthou was Nico gladnie spraaksaam nie en het net iewers heen verdwyn.

So het ek Nico dan regtig leer ken ... met 'n vrou en 'n baba. Daar was groot familie onrus oor die naamsverandering en dis nie die plek om daaroor te skryf nie. Op die einde het hy en sy gesin saam met my skoonouers op hulle nuwe bosveld plaas gaan bly.

Ek het weinig kontak met hom gehad maar as ek daar op die plaas gekuier het was dit vir my lekker om met sy vrou, Caty te gesels en die klein dogterjie, Jenny, het diep in my hart ingekruip ... groot onskuldige ogies en astrante glimlaggies.

Uit die aard van die saak het ek nie veel van Nico en Caty se verhouding geweet nie en dit was vir my lekker toe ek sien dat sy 'n winkeltjie op die been gebring het. So deur dit alles het ek duidelik opgemerk dat Nico nie eintlik heeltemal betrokke is by die winkel nie en dit was vir my opvallend om te sien hoe afsydig hy lewe. Duidelik was hy nie van plan om die volume van sy "Drummerboy" op te draai nie en het dit met niemand gedeel nie.

En toe op 'n dag gebeur die ding wat ek glo, Nico totaal herdefinieer het ... stil in die nag het Caty haar goedjies en haar kind in die kar gelaai en die nag ingery.

Oor die reg of verkeerd van die ding gaan ek nie skryf nie maar die feit bly staan ... Dave Nicolas, soos hy genoem wou wees, het nooit weer herstel van die slag nie.

Jare het gekom en gegaan en my skoonouers het heengegaan en steeds het Nico dag na dag die pas van sy "Drummerboy" gevolg. Gou het die besigheid wat Caty opgebou het, vergaan en in 'n damp verdwyn.

Uiteraard het hy en sy broer meer met mekaar te doen gehad want hulle was nou mos ook bure daar doer in die Bosveld. Maar die verhouding was deurspek met konflik want Marius is 'n gedisiplineerde mens en hy kon net eenvoudig nooit aanklank vind by Nico se se "Drummerboy" nie.

Die laaste klompie jare het Nico se gesondheid agteruit gegaan en in vroeg 2014 het hy hier by my huis opgedaag ... uitgemergel en reeds in die graf, net sy naels het nog aan die rant vasgeklou. Getrou aan haar natuur het my vrou hom met brute geweld uit die kake van die dood geruk en na sewe maande was hy weer soort van mens. Probleem was, jare se verwaarlosing on hardkoppigheid het die kanker 'n goeie vastrapplek gegee en alles wat Daleen vir hom gedoen het was meer uit wanhoop as enige iets anders.

Hy is terug plaas toe vir 'n tydjie en toe is hy weer hier in my huis. Elke dag moes ek sien hoe die man wegkwyn en dit was vir my ongelooflik moeilik. Hier was 'n man wat sy lewe lank geweier het om die volume op sy "Drummerboy" op te draai sodat ander dit kon deel en nou op die einde is hy in 'n totale staat van vereensaming. Niemand verstaan hom regtig nie en hy kannie die klok terugdraaai nie.

En so gebeur dit dat die trein hom oplaai op die 14 de September 2015. Nou is sy plek leeg en sy stem stil en ons sal nooit die voorreg hê om die maat van sy "Drummerboy" te hoor nie, hy het dit saamgeneem.

Ek het gesien hoe die man ly en daar is een ding wat waar is ... hy was so taai soos 'n ratel. Min mense het hom regtig geken en niemand sal seker sy storie skryf of vertel nie. Ek self het verwyte oor my optrede maar ek gaan dit nie vertroetel nie want hoe kan mens werklik 'n band met iemand vorm as jy nie die Drummerboy se tune kan hoor nie.

Laat sy lewe nie net 'n damp wees nie ... laat ons lesse by hom leer ... laat ons na ons self kyk en vra ... deel ek my "Drummerboy" se beat genoegsaam ... want as jy dit nie doen nie gaan dit 'n eensame pad wees. Terselfdertyd moet ons vra ... luister ons mooi vir die beat van die ander persoon se "Drummerboy" of is ons eie "Drummerboy" se beat so hard dat ons niks anders kan hoor nie.

Rus in vrede Nico ... jy het nie 'n maklike lewe gehad nie en ek is seker daar is baie dinge wat jy anders sou wou doen as jy kon. As ek aan jou dink dan dink ek aan die refrein ...

"But I gave it up for music and the Free Electric Band."

Goodnight.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

All comments are moderated. Thank you for your support. Your comment should appear soon ...