Vrydag 24 Januarie 2014

As die k@k die fan slaan ...


Vandag gaan ek bietjie krap op 'n plekkie waar dit soms vir ons almal jeuk. Hierdie is 'n lelike briekmerk en elkeen van ons beleef dit van tyd tot tyd. As jy nou 'n fyngevoelige siel is gaan jy nie die woord "k@k" like nie en frons as jy dit lees ... maar sorry vir jou ... daar is nie 'n ander meer beskryflike woord as juis dit nie.
Elkeen van ons het al die uitdrukking gehoor of gebruik ...
"O hel ... die k@k het die fan geslaan !"
Nouja ... die groot vraag is altyd ... 
"Wat doen ek as die k@k die fan slaan ?"
Vir almal is dit die kwelvraag ... wat moet ek doen ...

Soos die meeste van julle wat my Briekmerke  lees seker al weet ... ek is 'n ou wat altyd eerste na die "wiskunde" agter 'n probleem gaan kyk. Vir die wat my nie ken nie ... ek glo dat enige en elke ding in hierdie wêreld wiskunde agter dit het.
Terug by die fan ...
Gewoonlik is die eerste reaksie een van skok en of verbystering. Dan kan nog honderde negatiewe emosies volg ... almal gekoppel aan die basies een van skok. Nouja ... geniet daai skok oomblik maar onthou, die k@k spat nou die hele plek vol en almal wat naby daai fan kom is vol spatsels. Selfs die wat jou kan help is skrikkerig want die goed spat orals ...
PUNT EEN: ... Sit af die bleddie fan ... dis hoe jy die verspreiding stop. Moenie nou worry oor die stroom wat op die fan val nie, as hy af is val dit regdeur en land op een hoop wat makliker is om skoon te maak.
Hou op posts maak op Facebook, hou op Skype, hou op Whatsapp, hou op bel, hou op SMS ... hou op om die k@k te versprei !
PUNT TWEE: ... Stop die k@k ... dit is baie belangrik dat jy die stroom nou gestop kry. Ja en ek weet, die kan soms nogal 'n storie wees want jy kan dalk nie naby die oorsprong wees nie en dit gaan beteken jy moet effort insit om by die oorsprong te kom. Moenie nou vol fiemies wees nie ... al beteken dit heupdiep en stroomop in die vloed ... knyp jou neus toe en beur voort want as jy nie die oorsprong gaan stop nie dan gaan jy nooit jou plek skoon kry nie.
Die stoppery mag beteken dat jy om verskoning moet gaan vra, om vergifnis moet gaan vra of eenvoudig jou skuld gaan betaal. Jy alleen sal weet wat is die oorsprong en jy alleen weet baie goed wat jy moet doen om dit te stop. Nou is nie die tyd om vol draadwerk te wees nie, "man up" en gaan konfronteer die oorsprong.
Ok jy het nou die oorsprong gestop. Nou is dit belangrik dat jy die volgende doen ...
PUNT DRIE: ... Maak daai fan nou dadelik skoon ... jy wil nie nog so paar laaste klonte die wêreld in laat skiet nie. Hierdie is 'n belangrike stap want dis net hier waar baie van ons struikel ... jy het mos nou seergekry toe jy die stroom gaan stop het en die mens in jou wil nou darem net so laaste klap of twee uitdeel net om jou beter te laat voel. Moenie ... maak die fan skoon.
PUNT VIER: ... Sit daai fan nou weer aan ... jy moet dit doen want almal om jou is besig om te sweet en hulle soek daai koel luggie om weer te kalmeer. Hierdie is 'n groot oomblik want dis waar jy die wat op jou staatmaak net laat weet .... dinge is onder beheer, julle is veilig.
PUNT VYF: ... Kry die vloer nou skoon ... dis noodsaaklik want daar is nog mense wat deur loop en die stront verder uit dra aan hulle sole. Kry die vloer skoon ... troos, verseker, kalmeer, inspireer en glimlag. Nou is alles gestop wat kan besmeer.
PUNT SES: ... Maak nou die mure en vensters skoon. Dis belangrik want dis nog in almal se gesigte en net waar hulle kyk sit spatsels. Hierdie mure en venster skoonmaak ding is deel van jou proses om skade te herstel. Sommige kolle gaan hel seer wees want die vensters het skerp kantjies. Ander gaan taai wees, daar is groefies en gleufies en jy sal maar met jou naels moet krap om dit uit en af te kry. Ander gaan sommer maklik afvee en hier sal die watertjies en seep sommer ook jou naels weer skoon kry.
Die skerp plekkies kan vriendskappe wees wat baie werk gaan vat om te herstel ... die gleufies en groefies kan verhoudings wees wat diep seergemaak is en baie liefde en toewyding gaan neem om skoon te kry ... die maklikes is moontlik daai ware vriende wat net wil weet jy is ok en dat jy hulle waardeer.
PUNT SEWE: ... Maak nou laastens die plafon skoon ... die spatsels word gesien wanneer jy opkyk ... kry dit skoon. Maak seker jou poort na die Een toe wat die belangrikste is, is skoon en oop ... Vervang die lampies wat geblaas het en maak die skermpies skoon. Partymaal sal dit nodig wees om maar te verf want die plafon gaan vlekke op kry van die spatsels.
Nou dat jy alles gedoen het wat jy kon gedoen het ... sal die nuwe lampies weer lig maak vir jou pad en as jy moet verf ... verf my maat ... Hy vergewe ons en was ons weer skoon ... en ek sê dit omdat dit selde gebeur dat die k@k sommer net die fan slaan uit die bloute uit .... meeste kere het onsself daai stroom oopgemaak.
Party sal dink Punt Sewe moet eerste kom ... nie vir my nie, ek glo dat die Here ons altyd beskerm en bewaar maar ek glo ook onwrikbaar dat ek moet my kant bring ... as jy die ses stappe gedoen het kan jy met 'n skoon gewete en opregtheid belei en jouself baai in Sy genade ... nie dat jy dit verdien het nie maar omdat jy jou kant gebring het.
Lekker naweek vir julle ... en onthou .... EERSTE DING ...
SIT AF DAAI FAN !

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

All comments are moderated. Thank you for your support. Your comment should appear soon ...