Wys tans plasings met die etiket Storie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Storie. Wys alle plasings

Donderdag 03 Desember 2015

My broer - Andrè Serfontein

3 Desember 2015 ... dit is my broer Andrè se verjaarsdag. In ons familie is ek die een wat gewoonlik die stories skryf en vandag op jou sestigste verjaarsdag voel ek dat dit nou reg is dat ek vir jou 'n storie skryf.

Liewe Andrè

Die eerste herrinneringe wat ek aan jou het is ons dae op Esther, daar naby Bothaville. Dit was sorgvrye dae vir ons en ons het baljaar in die rooi stof en geploeter in die modder om die beeskrippe. Ons was heeltemal te jonk om te kon besef hoe arm ons ouers was nie en hoe hulle soos bywoners op daardie plaas gebly het en byna dag en nag moes werk om die beeste te versorg.

Al wat ek kan onthou was dat dit 'n duur stoet was en dat pa baie nagte opgestaan het om na die beeste te gaan kyk. Ek kan ook onthou dat toe een bul baie siek word was die advies dat die bul 24 rou eiers moes inkry. Mamma was baie ontsteld want die paar hoenders wat sy aangehou het, se eiers was kosbaar want dit was 'n belangrike deel van ons kos.

Ons is weg op Bothaville en ek weet nie mooi hoekom nie maar die volgende gedagtes wat ek het was die dae op Suid Witbank. Daar in die ou vervalle plaashuis wat op die grond gestaan het wat die myn oorgeneem het. Dit was my eerste bewuswording van arm wees en hier het ek gesien hoe mamma moes raap en skraap om vir ons kos op die tafel te sit. Dit was hoofsaaklik pap en sous of aartappels en spinasie. Soms was daar wortels of pampoen by.

Vrydae was 'n groot ding want dan het oom Dun Ben kom kuier en voëls en duiwe in die sipres laning geskiet. Dan het ons vleis gehad vir so paar dae.

Pappa het as leerling myner gewerk op Tavistock en moes die 10 kilometer elke oggend 03h30 aanpak op 'n trapfiets. Wind en weer was nie 'n saak nie. Saans het hy eers na donker by die huis opgedaag en baie aande moes hy aan die fiets werk om reg te wees vir die volgende dag. Ek en jy het ons dae omgespeel onder die bome. Ons het tolletjie trekkers gehad wat ouma ons geleer maak het en oupa het ons leer om kleiosse te maak.

Volgende is pappa bevorder tot myner en toe kry ons 'n huis op die property. Hier op Tavistock het ek en jy eers regtig mens begin word en soos die jare verbygegaan het ons geleer dat mens op die einde van die dag net werklik op jou familie kon staatmaak. Die myne was nie 'n plek vir pissies nie en ek en jy het ons deel gehad van die vuisgevegte. Ek meer as jy want ek was mos 'n klein laaitie en die grotes het my geboelie. Ek is letterlik groot geslaan en vir a lang tyd van my lewe het ek nie altyd geweet watter oog is blou nie maar ek het altyd geweet een is blou.

Toe is ons weg Sasolburg toe en die spelery op die grondhope in die nuwe woonbuurt het ons gatte baie laat brand omdat ons stof in die huis ingetrap het. Ons is geleer om netjies te wees, altyd goeie maniere te openbaar en om alles met respek te behandel.

Daarna is ons Clydesdale toe en dis hier waar ek moes veg vir oorlewing want daai lang Vorster was van plan om ons kreupel te slaan. Ek onthou die dag toe ons besluit het dat dit nou klaar is en dat ons hom by die busstop gaan opkeil. Ek onthou hoe jy langs hom gestaan het waar hy vir my gewag het om uit die bus te klim. Ek onthou hoe klein en skraal jy teen hom gelyk het terwyl ek in die bus gestaan het met 'n hart wat in my keel klop. Vrees wat my laat bewe het en ek kan daardie gevoel van totale wanhoop baie goed onthou. Maar diep binne my het ek mamma se stem gehoor ...

"Serfonteins is nie van popstront gemaak nie."

Ek het geen ander uitweg gehad nie ... ek moes by daai bus uitklim en onder op die grond het Vorster my ingewag met a grynslag op sy gevreet. Iemand het aan my gestamp van agter af en ek het geweet ... nou of nooit. Met 'n sagte skietgebedjie, ja ek het liewe Jesus gevra om my te help, doen ek toe die ondenkbare ... ek duik uit daai bus uit reg op hom af. Ek onthou die kyk in sy oë en ek toe weet ek ... jy is myne. My kop het hom in die gesig getref dat ek net sterretjies gesien het maar toe hy strompel toe val hy oor jou en ek is bo op hom. Hy het my afgestamp en orent probeer kom toe slaan jy hom met jou boeksak. Daai hou was al wat ek nodig gehad het en toe spat die kak.

Sy gillende ma het my van hom afgesleep en bloed het uit sy neus en mond gestroom. My vuiste het soos suiers gewerk en die heeltyd het ek geweet as hy opstaan is ek dood. Maar hy konnie opstaan nie. Sy ma het hom weggedra. Dit was ook een van die min fights waar ek nie stukkend geblixem was nie. Die res kan jy goed onthou ... die belangrikste was, met daai een shot van jou boeksak het jy my die kans gegee wat ek nodig gehad het.

Toe later was dit weer op Delmas daai klein vet wetter wat ons fietse se wiele afgeblaas het by die skool. Weer het jy langs my gestaan toe ek hom die middag vaskeer in die fietsloots.

Toe die riller tyd waar ek en jy in die koshuis beland. Hier was dit weer my size wat teen my getel het en Flip van Wyk het ons kwaai laat les opsê. En toe die dag wat ek nie kan vergeet nie. Pappa gaan Enyati toe en jy word uit die koshuis gehaal om van die huis af skool te gaan. Ek bly agter in Delmas.

Nouja daai bietjie meer as twee jaar het ek en jy min van mekaar gesien en ons het groot geword. Dit was dan ook die finale ontmoeting met Flip van Wyk wat gemaak het dat ek moes weg uit Delmas. Flip het agtergebly met 'n gebreekte neus, af kakebeen en oë waaruit hy nie kon sien nie.My neus was vir die soveelste keer af en my oë was toegeblixem. Dit was a moerse fight en daar was niemand om van daai badkamer vloer af op te tel nie. Flip is weggedra hospitaal toe en ek moes my maar self bymekaar skraap. Hy het daai aand betaal vir al die hel waardeer hy my en jou vir jare gesit het.

Eers in matriek was ek en jy weer saam op Volksrust in die koshuis en dit was net a kort tydjie. Daar het ek ook my laaste groot vuisgeveg gehad. Na daardie geveg het ek 'n eed geneem ek sal nooit weer aan 'n mens slaan nie, tensy hy eerste slaan.

En toe die dag wat jy in Pretoria aankom en slaapplek soek. Dit was ook arm jare daai vir my en jou. Toe is jy weg army toe.

Later na pappa se dood is jy Paulpietersburg toe. So oor die afstand het ons kontak bly hou en saam radio beheerde karretjies gebou, motorfietse begin ry en later het jy begin visvang saam met my.

Na my kanker operasies was dit by jou waar ek gaan wegkruip het en vrede probeer maak het met die moontlikheid dat die kanker my gaan verslind.

Saam het ons reuse besighede opgebou en saam het ons dit sien vergaan. Jy het langs my gestaan toe ek my skiboot die eerste maal in die see ingevat het want jy het gesê ...

"Broer of jy vat die stokke of ek klim af ... ek gaan nie my lewe in Russel se hande sit nie."

Wel ek het maar so gemaak en dosyne kere daarna het ek ons deur die branders gevat. Gewillig om dit te doen want jy was langs my.

En toe veg ons teen Fey ... wat 'n fokken geveg was dit nie. Die dag in die Hooggeregshof toe jy opstaan en vir die Regter sê ...

"Ek is hier u edele maar my broer gaan namens my ook praat."

Die emosie was duidelik in jou stem en ook die angs. Daardie dag het ek geweet ... hier is dit nou ... PAYBACK vir daai boeksak shot teen Vorster se kop. En ek het ons vrag opgetel en met trots gedra.

En so het ek en jy saam uit die stof uit opgestaan en weer voor begin in 1990.

Nouja ... hier staan ek en jy vandag ... jy is 60 jaar oud en nie een van ons twee het gedink ons sou sestig ooit sien nie. Veral nie na ons van daai graf op Paulpietersburg weggestap het nie.

Dit is vir my 'n voorreg om die storie vanaand met jou te deel en dit te deel met jou terwyl ons nog altwee hier is.

Al die dinge wat ek en jy saam beleef het was altyd gebaseer op respek vir mekaar. Ons respekteer mekaar se grense en ons het na die dag wat ouma ons aanmekaar gesit het, nooit weer ons hande vir mekaar opgelig nie. Toe was on laerskool kinders.

Vandag wil ek net vir jou sê ... ek het nog nooit in my lewe aan jou getwyfel nie en ek respekteer jou onwrikbare wil om voort te gaan. Jy is 'n groot deel van my inspirasie in die lewe en ek is gelukkig om 'n broer soos jy te hê.

Ons het en sal nog baie bymekaar leer, en ek hoop net eendag sal ons kinders besef wat het my en jou so sterk gemaak soos wat ons is.

Geniet jou sestigste verjaarsdag en mag die Here jou nog baie lank spaar.

Groetnis

Colyn

Maandag 02 November 2015

BEE - I am Proud to be White

I normally do not write these stories in English but after a lot of soul searching I decided to do this in English for practical reasons.

Break Free and fly
I have a long career in IT ... I published my first commercial application for the Insurance industry way back in 1984 ... most of those that will be reading this were not born then. I am the son of a miner, a father that encouraged me to get educated and avoid to ever go into a mine.

Throughout my life I have been an innovator and a few things that are now common practice was innovated by me over the years. I was the first person in the world to have a commercial application that allowed people to buy Airtime by SMS. Today it is common all around but back in 2001 when I launched the service, it was a big thing. The well known MPEZA was ripped off from a document I presented to a group of businessmen in Kenya back in 2004.

Be it as it may ... a costly law suit aginst Vodacom confirmed that Patents is fairly worthless when you are hit by BIG CAPITAL.

Then in 2009 we got involved in a BEE deal and were promised the moon and the stars. In 2010 we launched the Online facilities for the National Lotto in a BEE partnership with a Johannesburg company. For the sake of decency I will not name any names.

It started off well but as time went by I could clearly see that this venture is going to crash and burn. As a minority shareholder in the group I had no executive say in the company and basically all my warnings were ignored and my proposals were voted out of existence. Within weeks after the deal was signed with the National Lottery people I saw some really fancy cars in the parking lot.

Lots of flying between Johannesburg and Capetown, lots of big flashy dining events ... it was just bling and bling and bling.

My responsibility was with the Technical side and I focused on it. After a year I noticed huge amounts that came into the accounts and then just dissipated ... and then on a day I got a call from a bank ... I had to come in and sign some documents. Now to just clarify it ... I am based in Nelspruit and the company was based in Johannesburg.

On arrival at the bank I saw that it was Surety Forms for a massive loan ... well, my mother did not raise foolish kids. There was no way that I would sign a surety for a company that I have no executive powers in. I tore the documents up to the horror of the clerk and left the building.

Well as could be expected I was now the Satan in the eyes of the other shareholders. They desperately needed this loan. My view was ... sell those fancy cars, sell those properties bought with company money, pay back the company loans and you wont need the loan.

I was branded an AWB Boer and a few other things.

Within a few months I found myself isolated and blocked out of the company servers. In short ... my technology was simply taken and I was dismissed.

Ten years of my life down the drain. At the age of 60 ... a time when I was planning my retirement, I was stripped of everything I had.

My friends and family advised and encouraged me to exercise my legal rights but I simply refused. I will not spend my last days on this earth, in courts.

Being a Cronic Depression sufferer for more than 30 years made this a very hard time for me. The first few days I spent in isolation in my office, talking to nobody, rarely eating anything and drinking liters of water per day and smoking packets of cigarettes. My mind was in turmoil but an unwavering believe in myself and my capabilities kept me sane.

On day four I picked my phone up and started making calls ... I was now digging deep ... I have fantastic friends dating back to the 70's. Friends that were wild with me in those years ... riding our bikes and partying till sunrise. These are friends that are now in executive positions and some of then I have not seen in 30 years.

God promises me that He will not send things into my life that I can not cope with and I took Him by His Word.

Within hours I got confirmation of support ... now understand this ... ZERO FINANCIAL support, simply technical support.

A dear friend introduced me to a guy that was also down and out but he had a skill set that I needed. Another guy offered me clandestine support although he was still involved with the company. He knew my abilities and he was shocked at how I was treated.

Between these three men I got the technical support I needed and I faced my family. They were shocked and stunned but I assured them that we will survive.

For the next three months I spent 18 to 20 hours in my office, typing like a man possessed. It was September 2012.

By middle November 2012 the new Application was ready for Beta Testing and then came the nerve wrecking period of Compliance Testing. End of November I ran out of money and my dear wife loaned me a few bucks to pay my bond. My one son gave me some cash for food and I knew that this was the end of the line now ... I wont see December monthend if things dont change soon.

Well I serve a living God and by the first week in December 2012 the Compliance was signed off and we could start marketing. I am not going to go into details but will say this ... sheer willpower, unwavering Faith and the ability to focus paid off. Now 3 years later I am actually glad I got out of that BEE Hellhole ... the Bible warns us about grouping with the ungodly and this episode confirmed it.

The BEE Company went down the drain a few months ago and I hear rumours that the directors lost everything and is being sued for the millions squandered. Frankly I dont give a damn ... they got what they deserved ... I feel sorry for the people that lost their jobs and that is all.

Now the real reason for this document is this ... I see these blacks that post everywhere about redistribution and white privilege and all that racist shit and I think to myself ... you bloody self centered lazy assholes ... instead of complaining, why dont you spend your energy and build your own businesses. Why are you always looking for opportunities to take what you have not worked for. I was forced to start from scratch at the age of 60 and I did it. You blacks have all the advantages of BEE laws and Affirmative action but yet you are still nothing of importance in the economy. I pay taxes and I provide jobs ... and you ... you are living off a handout ... and remember this, if you work as a civil servant, you are enslaved ... always at the risk of loosing your job and then end up with nothing.

My little struggle is a microsample of the bigger economy ... an economy mainly in the hands of whites, and not because anybody gave it to them ... no, because they grabbed the opportunities, risked all they have and built a business.

This is why I am "Proud To Be White" ... it was my ancestors that developed this country ... keep on fooling yourself with the belief that life owes you a living ... whites have learned long ago that our destiny is in our own hands. Just remember this, your children will be better informed than you and they will ask you why you have wasted their future.

Have a nice day and keep on circling the carcasses of history ... bind yourself and your children to a life of scavenging while you have the opportunity to be better but you are too shortsighted to see it.

Cheers ... I have a business to run but I forced myself to write this piece so that other people can see that you are never to old to start again, provided you have what it takes to succeed.

The biggest difference today between black and white students is the fact that the vast majority of the white students are learning, learning skills to empower themselves to start their own businesses while the majority of black students are hoping for a good job and salary.

Maandag 19 Oktober 2015

Dave Nicolas - Dawid Nicholas Swart

Hierdie is nie vir my 'n maklike briekmerk om te skryf nie want dit gaan oor 'n man wat ek nie regtig goed geken het nie. Dit gaan oor 'n man wat 'n lewe geleef het wat baie min van ons werklik verstaan het, maar ek moet die storie skryf want elke mens verdien dit om sy storie na te laat vir ander om te lees. Sommige van ons is gelukkig en skryf groot dele van ons storie self ... sommiges het goed opgeleide mense wat hulle storie skryf maar daar is ook baie wat heengaan en niemand skryf sy storie nie ... dit is is vir my nie reg nie want elke mens het 'n storie.

Nico
Dawid Nicholas Swart is wat die dominee gesê het die dag toe hy gedoop is maar die mense het hom as Nico geken. So het sy ouers, suster en broer hom geken, Nico en so het ek hom genoem. Ek het hom in die middel sewentigs ontmoet en van die begin af was dit vir my duidelik dat min van ons mense die deuntjie hoor wat in sy kop draal. Hierdie man se "Drummerboy" het 'n pas uitgeklop wat weinig kon hoor. En dit is wat hom merkwaardig gemaak het ... hy het na die ritme geluister en sy pas daarmee gereël ... nooit het hy na 'n ander se "Drummerboy" geluister nie, net na sy eie een.

Ek is vertel dat sy geboorte 'n helse storie was en die kraamproses het oor 'n baie lang tyd gestrek. Miskien was dit reeds 'n teken ... asof hy nie gebore wou wees nie. Sy kinderlewe was redelik normaal en hy het met twee sussies en 'n boetie groot geword. Maar omdat hy na sy eie "Drummerboy" geluister het was sy jeugjare deurspek met konflik. Ek gaan dit sommer noem wat dit is, hy was hardegat en het homself nie maklik aan displine onderwerp nie. Tussen alles deur was daar een ding wat hy met hartstog begeer het ... hy wou 'n loots word. So kom dit dan dat hy lugmag toe is met groot verwagtinge ... groot was die terleurstelling toe hy nie die keuringsproses slaag nie ... hoekom, dit weet ek nie maar daarvandaan het die man net eenvoudig weggedryf na die rante van die lewe toe.

Hy is uit die Lugmag uit en het in die wêreld in verdwyn ... niemand weet regtig wat hy alles gedoen het nie want hy het nie sy familie gereeld gekontak nie. Ons weet brokkies van sy bestaan, kitaarspeler in Hillbrow, dan hoor ons hy is iewers op die platteland en so het dit maar gegaan ... weinig nuus van hom. Ja dis reg ... hy het kitaar gespeel vir 'n lewe.

Toe ek my vrou leer ken het, het ek heelwat stories oor Nico gehoor maar nooit regtig 'n hele storie nie, altyd net sulke brokkies. En toe op 'n dag in die middel sewentigs slaan die man daar uit op die plaas. Nie baie verduidelikings nie en nie baie stories nie ... skielik was hy net daar. My skoonpa was werklik verward ... hierdie was sy kind, sy eersgeborene maar ek kon sien hy het nie regtig geweet hoe om met die man te kommunikeer nie. My skoonma, wel sy was geskok, bedroef en gebelgd maar het nie veel verder gesê nie. My vrou was erg oor hom en daar was altyd 'n spesiale band tussen hulle twee. Sy ander suster en hy het selde om dieselfde vuur gesit en sy jong boetie ... wel die generasie gaping was net te groot.

Vir my was hy 'n aangename ou in die tye wat ek regtig met hom kon gesels maar daai "Drummerboy" van hom se tune was nie vir my maklik om te vang nie en ek het hom maar so raap en skraap behandel. Vir 'n tyd het hy daar op die plaas rondgehang en dit was vir my opvallend dat hy nie ingeval het en sy pa begn help het met die boerdery nie ... nee hy was maar altyd daar eenkant op sy eie. En hy bou toe 'n hanglider ... dit was nou vir jou 'n ding ... na 'n moerse stryd oorreed hy my om hom op te trek met die bakkie ... wel hy het opgestyg en toe duik hy ... kop eerste in daai rooi Brits grond in. Ek het gedog hy is dood maar wonder bo wonder maak hy homself bymekaar en wriemel onder die rooi sooie uit ... skud sy kop so tweekeer en toe wil hy weer vlieg.

Voordat ek nog verder kon verduidelik hoekom dit waansin is toe hoor ek my skoonma se gegil ... ja dit was 'n gegil ... en ek kon sommer hoor dat hier kom nou 'n ding!

Wel sy het 'n oproep ontvang en dit was 'n meisie ... en sy vertel toe dat sy getroud is met 'n ene Dave Nicolas en dat sy pas 'n baba gehad het. Goeie genade ... elkeen kan seker nou maar self dink aan die manewales en histerie wat op daai plaas losgebars het ... sover ek kon onthou was Nico gladnie spraaksaam nie en het net iewers heen verdwyn.

So het ek Nico dan regtig leer ken ... met 'n vrou en 'n baba. Daar was groot familie onrus oor die naamsverandering en dis nie die plek om daaroor te skryf nie. Op die einde het hy en sy gesin saam met my skoonouers op hulle nuwe bosveld plaas gaan bly.

Ek het weinig kontak met hom gehad maar as ek daar op die plaas gekuier het was dit vir my lekker om met sy vrou, Caty te gesels en die klein dogterjie, Jenny, het diep in my hart ingekruip ... groot onskuldige ogies en astrante glimlaggies.

Uit die aard van die saak het ek nie veel van Nico en Caty se verhouding geweet nie en dit was vir my lekker toe ek sien dat sy 'n winkeltjie op die been gebring het. So deur dit alles het ek duidelik opgemerk dat Nico nie eintlik heeltemal betrokke is by die winkel nie en dit was vir my opvallend om te sien hoe afsydig hy lewe. Duidelik was hy nie van plan om die volume van sy "Drummerboy" op te draai nie en het dit met niemand gedeel nie.

En toe op 'n dag gebeur die ding wat ek glo, Nico totaal herdefinieer het ... stil in die nag het Caty haar goedjies en haar kind in die kar gelaai en die nag ingery.

Oor die reg of verkeerd van die ding gaan ek nie skryf nie maar die feit bly staan ... Dave Nicolas, soos hy genoem wou wees, het nooit weer herstel van die slag nie.

Jare het gekom en gegaan en my skoonouers het heengegaan en steeds het Nico dag na dag die pas van sy "Drummerboy" gevolg. Gou het die besigheid wat Caty opgebou het, vergaan en in 'n damp verdwyn.

Uiteraard het hy en sy broer meer met mekaar te doen gehad want hulle was nou mos ook bure daar doer in die Bosveld. Maar die verhouding was deurspek met konflik want Marius is 'n gedisiplineerde mens en hy kon net eenvoudig nooit aanklank vind by Nico se se "Drummerboy" nie.

Die laaste klompie jare het Nico se gesondheid agteruit gegaan en in vroeg 2014 het hy hier by my huis opgedaag ... uitgemergel en reeds in die graf, net sy naels het nog aan die rant vasgeklou. Getrou aan haar natuur het my vrou hom met brute geweld uit die kake van die dood geruk en na sewe maande was hy weer soort van mens. Probleem was, jare se verwaarlosing on hardkoppigheid het die kanker 'n goeie vastrapplek gegee en alles wat Daleen vir hom gedoen het was meer uit wanhoop as enige iets anders.

Hy is terug plaas toe vir 'n tydjie en toe is hy weer hier in my huis. Elke dag moes ek sien hoe die man wegkwyn en dit was vir my ongelooflik moeilik. Hier was 'n man wat sy lewe lank geweier het om die volume op sy "Drummerboy" op te draai sodat ander dit kon deel en nou op die einde is hy in 'n totale staat van vereensaming. Niemand verstaan hom regtig nie en hy kannie die klok terugdraaai nie.

En so gebeur dit dat die trein hom oplaai op die 14 de September 2015. Nou is sy plek leeg en sy stem stil en ons sal nooit die voorreg hê om die maat van sy "Drummerboy" te hoor nie, hy het dit saamgeneem.

Ek het gesien hoe die man ly en daar is een ding wat waar is ... hy was so taai soos 'n ratel. Min mense het hom regtig geken en niemand sal seker sy storie skryf of vertel nie. Ek self het verwyte oor my optrede maar ek gaan dit nie vertroetel nie want hoe kan mens werklik 'n band met iemand vorm as jy nie die Drummerboy se tune kan hoor nie.

Laat sy lewe nie net 'n damp wees nie ... laat ons lesse by hom leer ... laat ons na ons self kyk en vra ... deel ek my "Drummerboy" se beat genoegsaam ... want as jy dit nie doen nie gaan dit 'n eensame pad wees. Terselfdertyd moet ons vra ... luister ons mooi vir die beat van die ander persoon se "Drummerboy" of is ons eie "Drummerboy" se beat so hard dat ons niks anders kan hoor nie.

Rus in vrede Nico ... jy het nie 'n maklike lewe gehad nie en ek is seker daar is baie dinge wat jy anders sou wou doen as jy kon. As ek aan jou dink dan dink ek aan die refrein ...

"But I gave it up for music and the Free Electric Band."

Goodnight.

Saterdag 18 Oktober 2014

Tande en tandartse ... o die pyngedagte

Vir my is 'n tandarts 'n baie persoonlike ding. Ek verander nie sommer nie en ek sal baie vêr ry om by een te wees wat ek vertrou. Sedert 1970 was daar net vyf tandartse wat my in hulle stoele gehad het. Vyf in vier en veertig jaar ... dis nie baie nie.

Nou kan ek glimlag
Ek dink ons is almal heimlik doodbang vir 'n tandarts en die bron vir ons vrese is nie vir my baie duidelik nie ... soms dink ek dis in my gene. Nou gaan ek verder van my eie persoonlike ondervinding vertel en gladnie aannames maak oor ander se ervarings of vrese nie.

Die laaste klompie jare het my tande my begin opkeil en alhoewel ek nogal 'n redelike streng tandversorgings plan het is dit ook seker so dat die ouderdom begin tel het. Ek dink dis merkwaardig dat ek tot op die ouderdom van 62 net een tand verloor het en dit was a frats ongeluk. Die gehalte van tandesorg is sekerlik die grootste rede vir die feit dat ons tande soveel langer hou as wat ons ouers s'n gehou het.

So 5 jaar terug het my tandvleis in die bokaak erg begin agteruit gaan en toe het ek 'n tandarts raakgeloop wat dit met laser behandeling bygekom het. Was nogal 'n ondervinding maar die beste was om te sien hoe die tandvleise herstel het.

Sowat drie maande terug begin ek bewus raak van so dowwe pyn in my kakebene en soms was dit erg gevoelig as ek aan my wange sou druk. Hierby het ek ook agtergekom dat ek gladnie meer my voortande op mekaar kon byt nie. Verskeie navrae aan my tandarts oor die verlies aan byt het net sulke vae antwoorde opgelewer en dit het my moerig begin maak.

Nouja ons sien mos almal op die internet en op die TV van die merkwaardige dinge wat tandartse doen vir die "celebrities" en ek het begin wonder.

Terwyl ek so wonder het die pyne in my kake erger en erger geword en toe so drie weke terug bel ek my swaer. Hy het so paar jaar terug sy tande laat opknap en hy het my al so paar keer vertel van die wonderlike tandarts wat hy het. Ek het sy lofsange en aanprysings maar so met 'n halwe oor aangehoor want maak nou nie saak wat mense sê van tandartse nie ... ek is maar lugtig vir hulle. Want al is hulle hoe versigtig, op 'n stadium gaan dit seer wees.

My bek was nou so seer en ek het absoluut omsingel gevoel deur die pyn. Drie weke lank en ek het die einde van my uithou bereik. My swaer reël die afspraak en ek vat die pad Pretoria toe. As dit nie so pynlik was nie sou ek seker baie meer angstig gewees het maar nou het ek daai plekkie verbygesteek ... die pyn en ongemak was baie erger as wat my vrees was.

Dream Team ... Dirk en Elaine
Aangekom in Pretoria begin die storie in die spreekkamers van Dr Dirk Conradie. Die ontvangsdames is vriendelik en daar is net glimlagte orals te sien ... ek sien dit raak want ek is verseker nie lus vir glimlag nie.

Eerste word ek deur 'n jong dame ondervra terwyl sy my gemaklik in die stoel kry. Ek merk dadelik op dat hierdie baie gevorderde toerusting is. Ek is 'n tegnoloog en hou van mense wat tred hou met die tyd. Digitale X-strale en allerhande masjientjies. Alles mooi en blink maar diep in my binneste weet ek dat die goedjies kan baie gevaarlik wees in onverskillige hande.

Die meise gesels en tussendeur skiet sy die X-strale. Wat vir my baie lekker was is dat die resultate op 'n skerm verskyn en ek kan sien waarna hulle kyk. Dit laat mens deel voel van die proses en laat my kalmer voel. Dis belangrik.

En toe verskyn Dr Conradie ... jissim ... ek is 'n baie fyn waarnemer van mense en my lewe lank fokus ek daarop om mense se lyftaal en oë te lees.

Die man het 'n pragtige teenwoordigheid en boesem sommer dadelik vertroue in by my. Ek voel sy empatie en sorg aan ... vir die van julle wat daaraan glo ... hy het 'n mooi aura. Ek voel sommer dadelik baie minder angstig.

Hy verduidelik mooi wat aangaan sonder om doekies om te draai maar ook sonder om my te probeer "bullshit". Dis dadelik vir my duidelik dat ek baie langer terug al by hierdie man moes uitgekom het. Maar nouja spyt kom mos altyd te laat.

Hy krap so bietjie rond en ek ril so paar keer as hy die "regte" plekkies raakvat.

Ek gaan nou nie verder uitbrei oor wat alles bespreek is nie maar die uiteindelike slotsom was dat vier tande verby die punt van herstel gegaan het. Hulle moet getrek word en dan vervang word met inplantate. Die ou verlore kiestand sal ook vervang word met 'n inplantaat en dan gaan die res van die tande gekroon word. So dis a hele bek "makeover" ... dis mos die moderne "buzz" woord. "Makeover" het so klankie van "verwaandheid" gekry ... in my geval het "vanity" of ydelheid niks met die saak te doen nie ... vir my was dit 'n omvattende tandsorg operasie. Ek gaan ook niks sê oor die kostes nie want dis byna obseen maar dis my keuse gewees ... my gehalte van lewe is nek omgedraai deur die uitrafeling van my kakebene en tande en ek moes 'n keuse maak ... of 'n nuwe kamera en lens of kry my tande onder beheer ... maklike keuse vir my.

Hy benodig drie afsprake ... eerste een sal ongeveer 5 ure duur, tweede een so 2 ure 'n week later en dan die volgende dag weer een uur. So gesê so gedaan en Maandag 29 September 2014 pak ek vroegoggend my tassie en klim in my kar en ry. Dis so drie en half uur se ry Pretoria toe. In die motor is my gedagtes vol van dit wat voorlê en ek gebruik die tyd om my kop op die regte plek te kry.

Maak nou nie saak wat alles vertel word nie ... dit gaan seer wees en dit gaan sekerlik van die langste 5 ure in my lewe wees. Tandartse weet uit ondervinding dat dit nie eintlik sin maak om die volle omvang van die proses met die pasient te bespreek nie en ek verstaan dit. Natuurlik gaan hulle ook nie borduur op wat jy gaan ondervind nie en dis ook reg so.

Al wat ek gaan sê is dat dit 'n moerse operasie is ... ek is nogal 'n mens met helse selfbeheersing maar niks wat ek ooit in my lewe ervaar het kon my voorberei vir die nare werklikheid van hierdie proses nie. Laat ek dit baie duidelik stel ... daar was werklik baie min pyn betrokke want Dr Conradie is nie suinig met die verdowing nie maar o hel ... dis ongemaklik. Die boormasjiene fluit en die tyd stap aan.

Met byna eentonige reelmaat berei hy my tande een vir een voor vir die krone. Deel van die proses is om al die emalje te verwyder en dan bly daar net so stompie been oor. My verlamde tong raak aan die stompies so dan en wan en in my geestesoog probeer ek sien wat gaan aan. Maar dis seker ook maar goed dat mens nie regtig kan sien wat gaan aan nie want dit moet "scary" lyk vir enige iemand wat nie 'n tandarts is nie.

Na twee ure staan hy op en rek sy bene ...

"Ek gaan jou nou so 10 minute gee om jouself so bietjie te rek en toilet toe te gaan as jy wil."

Met die stap hy uit en ek kom stadig orent. Geen behoefte aan toilet toe gaan nie en gladnie instaat om te praat nie. My mond, wange, lippe en tong is verlam.

Hy kom terug en daar gaan ons weer ... ek hou my oë toe en in my gedagtes seil ek deur die bergpasse in die Laeveld op my motorfiets ... die boormasjien se gefluit is maar soos die enjin op my fiets. Simpel sal dit klink maar dit werk vir my.

En toe is die boordery klaar en hy staan weer op. Die meisie wat assisteer verduidelik aan my dat die volgende fase nou die verwysering van die siek tande is. Ek noem dit verwydering want hy trek dit nie soos tradisioneel gedoen word nie. Blykbaar is die trekproses nie die regte manier as jy implantate wil insit nie.

Vyf inplantate word geplaas en my uithouvermoë is besig om breekpunt te bereik.

Uiteindelik staan hy op ...

"Nou nog net die plastiek tande opsit en dan is ons klaar vir die dag."

Wat hy doen is om tydelike plastiektande op die voorbereide tande te sit wat moet dien as beskerming terwyl die permanente krone vervaardig word.

Ek het baie respek vir die man ... iemand wat vir soveel ure so gefokus kan werk beiindruk my geweldig want vir my is dit een van die tekens van 'n ware meester van sy vak.

Twintig oor vyf stap ek uit die spreekkamers uit en staan vir so paar minute langs my kar en wonder ... ek het 'n tas gepak om te kan oorslaap maar nou wil ek net by die huis kom. Ek wil in my bed inkruip en die duvet oor my kop trek en lê en myself bejammer.

Alhoewel my hele mond en gesig morsdood verlam is weet ek dat as die verdowing begin uitwerk gaan dit blixems seer wees ... ek skuif agter die stuurwiel in en skakel die motor aan ... ek stel my rit assistent in op "HOME" en wag terwyl die roete beplan word.

Die verwagte aankoms tyd is so rondom 21h00 en ek vat aan my gesig ... dis asof ek aan iemand anders vat en ek maak my besluit. Huistoe gaan dit wees. Die slegste is dat ek niemand kan bel nie want ek kan omtrent nie praat en ek begin lag.

"As ek by 'n padblokkade gestop word gaan die poppe dans."

By die Roosplaas buitekant Pretoria op die N4 besluit ek om my mond uit te spoel ... gelukkig het ek my verstand gebruik en dit buite op die grasperk probeer. Wat 'n fiasko ... dis al wat ek gaan sê.

By Alzu koop ek vir my koffie ... teen hierdie tyd het ek darem weer beheer oor my lippe terug en my tong werk ook so 70%. Een groot fout wat ek die oggend gemaak het was om niks te eet nie, slegs 'n beskuit saam met my opstaan koffie en dis al. By hierdie tyd is ek nou verwoestend honger.

Ek kyk na die goed op die spyskaarte en besluit maar dat 'n hotdog die veiligste gaan wees. Ek sit maar daar eenkant op die stoep mt my rug na die publiek want ek weet hier gaan verseker gemors word. En dit was ook so, maar ek het net eenvoudig deurgedruk. Dit was so goed ek kon selfs 'n twakkie klap. Toe is dit weer terug op die pad. Met my innerlike versterk begin my gemoed ook sommer verbeter. Ek slurp die koffie so bietjie vir bietjie want die garage koffies is mos kokend en hierdie bek was nie reg vir kokende koffie nie.

Soos die myle verbygaan word die mond ook al hoe wakkerder. Dit was bemoedigend maar natuurlik word ek nou meer en meer bewus van die pyne.

Na die Machado Tolhek bel ek my vrou en verduidelik waar ek is. Sy is maar redelik bekommerd en effens opgeruk omdat ek besluit het om nie oor te slaap nie.

Soos die wat my ken weet, is een van my passies in die lewe om kos te maak ... Man Kos ... nouja in afwagting van hierdie bekslagting het ek 'n goeie vooraad vleissop gemaak en gevries asook geroosterde pampoen en groente sop.

Teen die tyd wat ek deur die Schoemanskloof is was my mond sterk aan die klop en ek sluk 'n pynpil.

"Vannag gaan ek les opsê ..." dink ek terwyl ek links draai by die T-aansluiting met die Tonnelpad. Deur die ongemak grinnik ek nogtans toe ek die lepel trap en die groot diesel met mening die lang bult begin klim. Ek kyk op die horlosie ... janee die Duitse Koekie het weerens die voorspelling redelik vêr verkeerd gehad ... dis nou skraps oor die 20h30. Later het ek besef dis nie eintlik haar fout nie want sy kon mos nie raai hoe seer my mond gaan wees en allermins nie kon voorsien dat my regtervoet gladnie doodgespuit was nie.

Ek sit en wag geduldig dat die elektriese hek oopmaak en sien hoe kom my honde aangedraf. Ek is by die huis en dis al wat nou tel.

Poppie is sigbaar verlig toe ek onder die afdak intrek en sy kom nader ... natuurlik effens versigtig want sy ken my goed en weet dat as ek in pyn is kan ek 'n knormoer wees. Sy hoor hoe die kar se uitlaatstelsel ping en afkoel en gluur na my so onder haar wenkbroue deur ...

"Natuurlik nie by die spoedgrens gehou nie!" brom sy en groet my.

Ek sê niks ... net verlig om by die huis te wees.

In die kombuis sien ek sy het van my sop op die stoof en ek gaan sit by die tafel.  Daar is nog skons wat oorgebly het van my Sondagoggend baksel en ek breek een in stukkies en gooi dit in die bakkie sop ... nou voel ek regtig oud ... sop en geweekte skons ... hel nee ... dis mos nie Man Kos nie. Ek vat die eerste lepel vol en in plaas van die welbekende geure en smake van hierdie kleurvolle vleissop is die oorwegende smaak plastiek. Daai regte dooie outydse melkbottel plastiek. Ergerlik eet ek in stilte verder en is heimlik dankbaar dat my vrou nie 'n kekkelbek is nie. Ek is gladnie lus vir praat nie.

Na ete gaan sit ek in my kantoor en gaan vinnig oor my dag se boodskappe en maak seker alles in orde. Daleen bring my twee pille en ek sluk dit af terwyl ek myself nogal jammer kry. Ek voorsien klaar dat ek die nag sal moet deurworstel en dit maak my aggresief.

Ek spoel my mond uit met Cordisol ... jis die goed is eintlik sleg maar ek glo in dit. Weereens is dit maar 'n bloedrige storie maar dis verwagte. Wat vandag in my mond gebeur het kan verseker nie gesien word as 'n pikante mediese ingreep nie.

Gelukkig is ek iemand wat gladnie sukkel om te slaap nie ... my kop het skaars die kussing getref of ek is weg.

Skuins voor sonop word ek wakker. Wonder bo wonder het ek regdeur geslaap ... die eerste keer in byna drie maande. Maar die positiewe het ook 'n negatiewe. Hel my mond voel of ek per abuis my elektriese tande borsel verwar het met die "stick blender" waarmee ek my sop fyn maak. Dit voel asof 'n klomp perdebye 'n studentejol in my mond gehou het en tydens die gefuif sommer ook so paar bottels teen my kiestande stukkend geslaan het.

Ek sit en slurp my koffie terwyl ek oor die tuin uitkyk. My brein werk oortyd om alles in hulle boksies in te kry. Iets maak nie sin nie, ek was reg vir helse pyn in my kakebene maar dis nie daar nie ... wel daar is pyn maar nie naastenby wat ek verwag het nie. Wat my opkeil is die pyn in die sagteweefsel in my mond. My lippe en wange voel of dit met suur gewas word. Dit brand en pyn en die area langs my neus op voel asof ek 'n erge vuisgeveg gehad het. My wange laat my dink aan my hamsters toe ek jonger was en ek moet lag by die gedagte.

Ek sluk maar die pille en begin my dag. Spoedig het die pille die pyn onder beheer en ek gaan aan.

Die res van die dag gaan om en ek eet sagte kos en hou die pille op datum.

Die nag slaap ek weereens regdeur en Woensdag oggend breek aan ... heelwat minder pyn oor die algemeen maar my mond is maar seer binne. Weer 'n dag van pille en sagte kos.

By Vrydagaand is ek baie beter en ons gaan eet uit. Ek hou maar by 'n burger. Die plastiese tande laat alles snaaks proe en ek begin voel asof die tande ernstige druk op my kakebene uitoefen.

Maandag is ek terug in Pretoria. Dr Conradie is gelukkig met wat hy sien en ek moet sy oordeel vertrou. Dis nou die dag waar die permanete krone geplaas gaan word ... 23 van hulle. Weereens die doodspuitery met mening en spoedig kan ek nie eers my ooghare voel nie.

Die volgende twee ure tik verby en hy werk in stilte. Laaste maak hy rowwe aanpassings vir die bytpas en daar gaan ek. Ek moet die volgende dag weer inkom sodat hy die fyner verstellings kan doen. Dit kannie nou gebeur nie want ek weet nie eers mooi waar my mond is nie.

Teen sononder is die ergste van die verdowing weg en die klomp nuwe tande voel maar vreemd in my mond. Tenminste is die aaklige plastiese smaak uit my mond uit. Weereens eet ek maar 'n burger en dit gaan stadig want die tande vang en skuur vreemd in my mond.

Dinsdag teen middel van die dag is ek weer in die stoel ... by die genade is daar nie weer spuite betrokke nie en Dr Conradie slyp die tande om beter op mekaar te pas. Hy pas die tydelike plaatjie wat die een oogtand se plek moet vul todat die implantate gedoen word en daar gaan ek.

Oor die volgende dae gaan dit elke dag beter ek en my nuwe tande maak vrede ... later begin ons selfs van mekaar te hou.

Nou is dit maar die lang wag dat die inplantate vasgroei. Intussen het ek weereens my mond versorgings en instandhoudings regime herbekyk. Ek het vir my 'n beter model elektriese tandeborsel gekry en so lekker spuitmodel wat tussen die tande skoonmaak sonder om jou tandvleise te sny soos die toutjies soms kan doen nie.

Ten slotte wil ek dit net noem ... dis verseker nie speletjies om so prosedure te ondergaan nie maar die tandarts, Dirk Conradie, het my erg beiindruk. Op sy stil en kalm manier het hy dit wat eintlik in 'n bloedbad kon ontaard, netjies bestuur en met selfvertroue die taak aangepak en afgehandel. As enige iemand wat hier lees, dit sou oorweeg om ernstige werk aan jou tande te laat doen ... kry tenminste net 'n opinie by hom voor jy besluit.

Een van my vrese was dat die nuwe tande duidelik soos doppies in my mond sou sit. Nog 'n vrees dat dit te groot gaan lyk en laastens dat dit soos "white lightning" gaan lyk. Niks van die vrese is bewaarheid nie. Die tande is mooi en natuurlik ingesit en het ook 'n natuurlike kleur.

Dis nou bykans drie weke later en ek voel reeds 'n ander mens ... met die bonus dat ek nou breed kan glimlag.

Dr Conradie se Kontak besonderhede:

Spreekkamers: +27 12 331 3160 - C/o 24ste Laan en Ben Swart Straat Villeria Pretoria
e-Pos : dhconradie@mweb.co.za

Saterdag 07 Junie 2014

Twee rooi skoentjies en 'n oorkrabbertjie

Hierdie is nie regtig 'n Briekmerk nie ... hierdie is sommer 'n storie.

So rukkie terug het ons kuiergaste gehad en na hulle weg is ontdek my vrou twee rooi skoentjies onder die bed asook 'n klein oorkrabbertjie. Nou op sigself is dit mos nou maar soos dinge gebeur ... somtyds vergeet ons iets op 'n plek en baie keer is dit so kleinigheid dat ons nie moeite doen om dit weer terug te kry nie. Soms weet ons nie eens ons het dit verloor nie.

Twee rooi skoentjies
Gistermiddag stap ek in die kamer in en die sonlig val deur die venster op die twee rooi skoentjies wat op die bedkassie staan. Byna soos ornamentjies en langs hulle lê die krabbertjie.

Onder my hardgebakte besigheidsman vel lê daar die siel van 'n kunstenaar ... en omdat ek nie eers 'n oordentlike stokmannetjie kan teken nie het ek jare terug uitgevind dat kameras my kan help om te skilder. Baie jare se ondervinding het my geleer om nie vir goeters te kyk nie maar om die lig te sien want dis die lig wat vir ons mooi fotos kan teken.

Die sagte sonlig tower die rooi skoentjies om in astrante rooi blertsies op die kassie en ek gaan sit op die kant van die bed en staar na die skoentjies. Nou die wat my ken weet dat een enkele prentjie my kan inspireer om 'n storie van 30 hoofstukke te skryf en hier doen die skoentjies dit aan my ... hulle roep uit dat ek hulle storie moet vertel.

Ek sien die skoentjies tussen dosyne ander skoene ... malende trappery in rooi stof ... luide musiek trek deur die bome en die een skoentjie tik die maat van die musiek uit ... die stof slaan sulke klein pofwolkies onder die skoentjie uit soos die musiek aan dreun en ek hoor die klokhelder lag ... kop agteroor en sterre in die oë. Hierdie skoentjies kan rock ...

Dan verander die toneel en ek sien die rooi skoentjies op grys teëls ... gedempte stemme en so nou en dan die klingel van 'n staalbak of die vinnige kap van hoë hakke op die harde vloer. Die skoentjies is effens gedraai met die punte teenmekaar en die hakke wippel op en af ... dis bekommerde skoentjies hierdie ... hierdie is 'n hospitaal en dis ernstig ... kop vooroor, mondhoeke wat hang ... die skoentjies is baie bekommerd ...

Die foon lui en ek stap na my kantoor toe ... die skoentjies wil nie my kop los nie ... die skoentjies het 'n storie om te vertel en ek weet ek gaan vir hulle moet praat.

Nou sien ek die skoentjies op 'n mat ... preuts en netjies teenmekaar ... nie 'n beweging nie. Baie ander skoene kom en gaan maar die rooi skoentjies sit doodstil ... die is ernstig ... die is 'n kompetisie. Dis nervous skoentjies die ... en dan roep iemand en die skoentjies verskuif ... 'n gejuig gaan op en die skoentjies spring op en af ... onbeteuld en baldadig ...

Die skoentjies draf op en af tussen die rakke deur ... dan op die tone om bo by te kom en dan weer platvoet fort ... vandag is die skoentjies haastig. Baie dinge om bymekaar te maak ... skuifel ongeduldig in die ry by die kassier en woerts uit by die deur ... sommer skuins oor die straat ... deur 'n plas water en die spatsels sit aan die skoentjies vas ... 'n ergelike skud en dan weer voort ... daar is nie tyd nie ... die skoentjies moet wikkel om by te bly ...

Dis laataand en die skoentjies is oorkruis ... dis skoentjies wat moeg is ... dit was 'n lang dag en 'n besige aand ... die mense gesels nog vrolik maar die skoentjies is kapoet ... al wat hulle wil doen is rus ... na middernag ... skoentjies word uitgekop en kom tot rus.

En dis waar ons die skoentjies later kry ... onder die bed ... is die skoentjies se stories klaar ... ek weet nie maar ek glo nie so nie.

Donderdag 13 Februarie 2014

Vir my is dit manslag, vir ander is dit vooruitgang ...


Pas die dingetjies op wat geld nie kan koop nie.

Vandag is daar 'n rouplek in my siel, 'n snaakse treurigheid wat my weereens laat besef hoe tydelik alles op hierdie ou aarde is. 'n Plant is vermoor of liewers, sommer net doodgemaak sonder dat daar eers 'n oomblik van stilte was of sal wees. Vir my is dit asof 'n stukkie van my anker aan hierdie aarde omgeruk en uitgepluk is ...

Vir bykans twintig jaar het hierdie manjifieke plant my elke jaar in die laatwinter hoop gegee ... wanneer alles redelik vaal en droog is dan ontplof sy pragtige blommekroon in die helderste oranje en basuin uit ...

"Die somer gaan kom!"

As die blomme oopgaan dan is daar bye en voëls wat kom partytjie hou en elke dag as ek hom sien dan word ek opnuut verfris met die wete dat die lewe gaan voort en die seisoene gaan draai. Oor die jare het die aalwyn 'n belangrike stukkie mooiheid op my pad gesit en my telkens herinner dat die tyd vir niemand wag nie.

Hierdie plant het talle veldbrande en storm winde oorleef en elke jaar met trots gewys dat hy nog 'n jaar oorleef het.

My grootste spyt was altyd dat die plant buite my grond staan en ek het baie gewonder of iemand sou sien as ek hom sou verplant, maar my ingebore respek vir ander mense se goeters het verhoed dat ek ooit tot die daad oorgegaan het. Ek was dom !

Onlangs verneem ek dat ek 'n nuwe buurman het en bel hom. Ek praat en gesels oor dinge in die algemeen en vra hom uit oor sy planne met die bulldozer wat hier aangekom het. Hy verduidelik dat hy net die lyndrade wil oopstoot om nuwe draad te span en so bietjie van die groot sekelbosse wil uithaal. Nouja daarmee kan ek mos saamleef en verstaan die rede.

So gebeur dit dan dat die bulldozer Vrydag begin brul ...











Ek stap af na die grensdraad toe net om te kyk wat presies aangaan en is baie bly om te sien die aalwyn is ongeskonde ...



Nouja mens moet soms bietjie hardhandig werk om die omgewing beter te maak en ek vertrek op my beplande wegbreek Bosveld toe. 






Ek is 'n ou wat die klein dingetjies in die lewe baie hoog op prys stel. Ek het talle fotos van klein veldblommetjies en soos ek oor my plaaspad ry kan ek jou vertel watter blommetjies watter td van die jaar waar gaan kop uitsteek. Toe ons ry wys ek die aalwyn se oorlewing uit aan my vrou en ons gesels sommer lekker oor al die dinge wat ons al bekyk het rondom die plant.

Sondag toe ons terugkom wys ek weer na die aalwyn en merk op aan my vrou dat die plant hierdie jaar nogal sleg geblom het ... laasjaar was dit amper onbeskryflik. Ons wonder oor die redes daarvoor en die gesprek verander toe ek by 'n klipbank verby ry en gewaar dat die eerste daisy sy kop uit gesteek het.



Soms was ek al lus en haal hulle uit en plant hulle in my tuin maar ek voel altyd hulle is soveel beter af daar waar hulle self opgekom het en dan los ek dit en hou net my oë oop vir die dag wat hulle my verras met hulle pragtige blomme.









Vanoggend word ek wakker met die gedreun van die bulldozer en frons ...

"Wat nou ?"

Ek vat my kamera en stap af draad toe. Die lyndraad oopstoot ding het nou 'n nuwe dimensie aangeneem en my siel sidder toe ek sien wat gaan aan.



Dis nie meer net selektief skoonmaak nie ... nee wat ... takke en bosse val soos koring voor a sekel en word afgemaai sonder seremonie. My geliefde aalwyn is verpletter en vermorsel tot a mengsel van bas en gebreekte blare ... geen kans op redding nie. My hart gee so ruk en ek swets op myself omdat ek hom nie uitgehaal het nie. Niks kan gered word nie.


Is ons as mense nie soms te geneig om die soort vernietiging te laat plaasvind en net ons skouers op te haal nie. Is dit nie miskien die rede hoekom ons mense lewens ook deesdae so goedkoop geword het nie ... is dit nie die rede hoekom 'n man van sewentig met brutale geweld verbrysel word vir 'n selfoon nie ?

Ek vra maar ...

Is ons nie die oorsaak vir die verlies aan waarde wat ons lewens ervaar nie ?

Ek is nie lus vir 'n politieke debat vanoggend nie ... my hart is te seer. Gelukkig het ek goeie herrinneringe en ek het die fotos ... natuurlik nie genoeg nie want soos met baie dinge het ek bloot net aangeneem dat hy volgende jaar weer sal blom en dan sal ek beter skote kry ...

Hierdie briekmerk het so lelike taai begin plekkie waar die teer die rubber gesmelt het met die skop slag ... dink daaroor, die klein dingetjies om ons wat ons so vanselfsprekend aanvaar ... hulle kan maklik verdwyn.

Krap maar jou hond se kop voor jy in die kar inklim, hy is dalk vannaand nie meer daar as jy terugkom nie. Smile maar vir die koerantverkopertjie, die kar agter jou kan hom doodry.

Stop vir 'n oomblik en kyk na die mooi blomme aan die boom op die sypaadjie ... volgende week word hy dalk afgekap omdat iemand besluit het die gemors van die blomme pas nie hulle winkelstoep nie.

Groetnis ...




Weg vir altyd ...







Oorspronklik gepubliseer op Maandag 11 November 2013.