Saterdag 07 Junie 2014

Twee rooi skoentjies en 'n oorkrabbertjie

Hierdie is nie regtig 'n Briekmerk nie ... hierdie is sommer 'n storie.

So rukkie terug het ons kuiergaste gehad en na hulle weg is ontdek my vrou twee rooi skoentjies onder die bed asook 'n klein oorkrabbertjie. Nou op sigself is dit mos nou maar soos dinge gebeur ... somtyds vergeet ons iets op 'n plek en baie keer is dit so kleinigheid dat ons nie moeite doen om dit weer terug te kry nie. Soms weet ons nie eens ons het dit verloor nie.

Twee rooi skoentjies
Gistermiddag stap ek in die kamer in en die sonlig val deur die venster op die twee rooi skoentjies wat op die bedkassie staan. Byna soos ornamentjies en langs hulle lê die krabbertjie.

Onder my hardgebakte besigheidsman vel lê daar die siel van 'n kunstenaar ... en omdat ek nie eers 'n oordentlike stokmannetjie kan teken nie het ek jare terug uitgevind dat kameras my kan help om te skilder. Baie jare se ondervinding het my geleer om nie vir goeters te kyk nie maar om die lig te sien want dis die lig wat vir ons mooi fotos kan teken.

Die sagte sonlig tower die rooi skoentjies om in astrante rooi blertsies op die kassie en ek gaan sit op die kant van die bed en staar na die skoentjies. Nou die wat my ken weet dat een enkele prentjie my kan inspireer om 'n storie van 30 hoofstukke te skryf en hier doen die skoentjies dit aan my ... hulle roep uit dat ek hulle storie moet vertel.

Ek sien die skoentjies tussen dosyne ander skoene ... malende trappery in rooi stof ... luide musiek trek deur die bome en die een skoentjie tik die maat van die musiek uit ... die stof slaan sulke klein pofwolkies onder die skoentjie uit soos die musiek aan dreun en ek hoor die klokhelder lag ... kop agteroor en sterre in die oë. Hierdie skoentjies kan rock ...

Dan verander die toneel en ek sien die rooi skoentjies op grys teëls ... gedempte stemme en so nou en dan die klingel van 'n staalbak of die vinnige kap van hoë hakke op die harde vloer. Die skoentjies is effens gedraai met die punte teenmekaar en die hakke wippel op en af ... dis bekommerde skoentjies hierdie ... hierdie is 'n hospitaal en dis ernstig ... kop vooroor, mondhoeke wat hang ... die skoentjies is baie bekommerd ...

Die foon lui en ek stap na my kantoor toe ... die skoentjies wil nie my kop los nie ... die skoentjies het 'n storie om te vertel en ek weet ek gaan vir hulle moet praat.

Nou sien ek die skoentjies op 'n mat ... preuts en netjies teenmekaar ... nie 'n beweging nie. Baie ander skoene kom en gaan maar die rooi skoentjies sit doodstil ... die is ernstig ... die is 'n kompetisie. Dis nervous skoentjies die ... en dan roep iemand en die skoentjies verskuif ... 'n gejuig gaan op en die skoentjies spring op en af ... onbeteuld en baldadig ...

Die skoentjies draf op en af tussen die rakke deur ... dan op die tone om bo by te kom en dan weer platvoet fort ... vandag is die skoentjies haastig. Baie dinge om bymekaar te maak ... skuifel ongeduldig in die ry by die kassier en woerts uit by die deur ... sommer skuins oor die straat ... deur 'n plas water en die spatsels sit aan die skoentjies vas ... 'n ergelike skud en dan weer voort ... daar is nie tyd nie ... die skoentjies moet wikkel om by te bly ...

Dis laataand en die skoentjies is oorkruis ... dis skoentjies wat moeg is ... dit was 'n lang dag en 'n besige aand ... die mense gesels nog vrolik maar die skoentjies is kapoet ... al wat hulle wil doen is rus ... na middernag ... skoentjies word uitgekop en kom tot rus.

En dis waar ons die skoentjies later kry ... onder die bed ... is die skoentjies se stories klaar ... ek weet nie maar ek glo nie so nie.