Andrè Frederik Serfontein is wat op sy ID boekie staan en die meeste het hom Klein Andrè genoem. Vir my was hy egter Frikkie, ek kannie die "Klein" storie voor name regtig hanteer nie want die kind word groot en dan is hy 'n blok man en word steeds "Klein" genoem. Maar dis nou maar hoe ek is.
Vandag is 'n droewige dag in die familie, jy is weg Frikkie en ek sal nooit weer jou lag hoor nie.
Van kleintyd af was jou groot glimlag en vonkelende ogies die ding wat my die meeste getref het van jou. Daardie oë het altyd gevonkel en jou lag was so aansteeklik dat almal in jou omgewing net eenvoudig moes lag.
Jy was 'n energieke en hiper aktiewe seuntjie. Daai ogies het altyd van kant tot kant geflits, opsoek na die volgende ondeunde ding om aan te vang. Jou energie en lus vir die lewe was alombekend en jy het altyd geborrel.
Soos jy groter word het dinge ook groter geword. Weg was die dae van volle vaart in Smith straat af op daai plastiek skopfietsie en dit het trapfietse geword. Later bergfietse en toe motorfietse. Jy was vreesloos en so taai soos 'n ratel. Niemand weet seker regtig hoeveel snye, knoppe, kneusplekke en breke het jy in jou lewe opgedoen nie maar, elke keer het jy opgestaan en teruggekom.
Toe kom die karre en saam met dit die noue ontkomings want jy het in die rooi lyn gelewe.
Op jou troudag het ek gesien hoe straal jy van geluk en heimlik het ek gehoop dat jy nou darem tot bedaring sal kom. Maar getrou aan jou natuur was dit steeds voet in die hoek. Vandag dink ek daaraan en wonder of jy nie diep binne jouself altyd geweet het dat die tyd min is en dat jy die myle moet in kry ... wie sal ooit weet.
Toe Liam gebore is het jy absoluut oorgeloop van trots en vreugde en ek het gesien met hoeveel liefde en deernis in jou oë kyk jy na daardie seuntjie van jou. En toe kom die donkerwolk voor die son in en soos Liam agteruit gegaan het, het die vonkel in jou oë verdof. Sy lyding was verskriklik en jy het bitter swaar gekry. Hier was iets wat jy nie kon vasdruk of injaag nie ... hier was 'n ding wat soos mis om jou gewarrel en jy kon absoluut niks daaraan doen nie want jy kon dit nie in jou hande beetkry nie.
En toe is hy weg ... net weg, en jy bly agter. Gewond, gekneus en gebreek. My hart het gebloei vir jou maar ek kon maar net in stilte kyk, soos 'n toeskouer in 'n teater waar daar 'n tragedie op die skerm uitspeel.
Ek en jy het nie ooit werklik 'n verhouding gehad nie behalwe vir die normale oom en broerskind verhouding. Ek glo jy het my repekteer want jy was nooit onbeskof met my nie. Ek het so nou en dan 'n ligte aanmaning gedoen en vandag is ek baie spyt dat ek nie meer gedoen het nie. Maar dis nou te laat vir dit.
Die laaste keer wat ek en jy saam was, was die dag in die berg met die karretjies. Daardie dag het ek gesien dat jou lag nog daar was maar jou oë het nie gevonkel nie. Dit was asof daar 'n kantgordyn voor die vensters na jou siel toe, getrek was. Iets was weg. Vandag weet ek, jou lewenslus was weg. Jy het maar deur die bewegings gegaan maar jy was nie meer hier nie. Ai ek wens ek het met jou gepraat oor dit maar ek en jy was nie op so plek dat ek dit kon doen nie.
En nou is jy weg, jy het hierdie aarde verlaat op jou terme, net soos jy geleef het, vreesloos. Maar ou seun, die wonde wat jy hier agterlaat is erg. Snye, skrape, skaafplekke en so paar beenbreke. Elkeen wat jou geken het het sy merk gekry. Die noodhulpkissies is uit en oop. Ontsmettingsmiddels, salf, steke en pleisters. Party gaan vinnig gesond word maar ander gaan tyd vat. Party van die snye is diep en party het selfs die been getref. Almal gaan die littekens oorhou, party s'n gaan net sulke wit strepies op die vel word, ander s'n gaan so persrooi riffie maak, maar party gaan sulke dik blou riwwe word met die gate van die steke wat in sulke mooi rytjies langs die rif lê. Hoe dit ook al sy, die lewe gaan aan.
Ek weet nie waar jy is nie, ek weet wat ek glo maar dis dit, geloof. Ek glo dat jy nou rus het vir jou siel en dat jy die pyn agtergelaat het ... ek moet dit glo want anders maak die lewe gladnie sin nie.
Rus in vrede Frikkie en ek hoop as ons weer ontmoet is die vonkel terug in jou oog.
Groetnis
Oom Colyn.
23 Desember 2021.